ONS SAL LEWE, ONS SAL STERWE…

CHOPPER

CHOPPERS

ONS SAL LEWE, ONS SAL STERWE…

(KLIEK OP DIE FOTO’S OM DIT GROTER TE MAAK EN BYSKRIFTE TE SIEN)

Die termometer wat aan ʼn boomtak in die basis hang, het vroegoggend reeds by 31 grade Celsius verby beweeg, op pad 51 toe, soos gister. Die manne is gereed en wag ongeduldig dat die kapelaan moet klaar bid vir “…ons bewaring in die aangesig van die vyand…” en dat almal weer veilig basis toe moet terugkeer. Vier Unimogs staan gereed en die ekstra ammo lê swaar op my rug. My browns begin reeds donker sweetvlekke uitslaan en die son steek my nek waar ek met geboë hoof staan, boshoed voor die bors.

Agterop die Unimogs, wat ons choppers toe neem, bespiegel ons oor wat ons te wagte kan wees. Insurgente toon geen genade by die vermoede dat PB’s met die Suid-Afrikaanse magte saamwerk nie. Die spoor is warm en spoed is van uiterste belang.

Opgebondel in die choppers, met die hitte sweterig op ons gesigte, is elke man in sy eie gedagtes verstrengel. Die swaar gedreun van die enjins maak die drukkende stilte draagliker. My oë dwaal oor die manne, ek wonder of hulle ook bang is.

Benecke glimlag vir my en gee die duim-op teken. Sweet weerkaats van die black-is-beautiful camo op sy gesig. Die gras in sy boshoed laat hom soos ‘n Zoeloe-kryger lyk, sy kneukels wit geklem om die bakeliet-en-staal met die opvoukolf. Heelwat blikkies boeliebief is leeggemaak sedert ek en hy mekaar op en af bekyk en gemeet het, destyds met buddy-PT. ‘n Hegte vriendskap het ontstaan.

Uit die lug uit kan ons rook in die verte sien. Enkele meters onder ons flits die landskap verby; met elke doef-doef, elke swiep van die rotors nader aan die DZ[i]. Om te verhoed dat vuur getrek word, vlieg ons só laag, dat boomtakke die romp skraap.

Die choppers hang so tweehonderd meter van die kraal af agter ʼn klomp mopaniebome sodat ons kan uitspring. Twee-twee land ons in ʼn maalkolk van gras en stof  – al twaalf van ons met die lemme swiepend bokant ons koppe. Hurkend in ʼn verdedigende kring, gefokus en paraat. Die ander chopper spoeg sy vrag op dieselfde wyse uit voordat die twee soos reusenaaldekokers agter die bome verdwyn.

ʼn Bees kyk herkouend op toe ons in twee V-formasies verby hom in die rigting van die rook beweeg. Elke senuwee, elke spier tot die uiterste gefokus. Daar’s ‘n gevoel, soort van ‘n wete dat jy ingetrek word in ʼn opeenvolging van gebeurtenisse. Noem dit ‘n voorgevoel dat elke tree jou na ʼn onomkeerbare punt in jou lewe neem. Jou asemhaling raak vlak en bring ʼn surrealistiese kalmte, ʼn kalmte saam met die gerusstelling: Ons sal na mekaar kyk – ʼn hegte groep manne, saam deur opleiding, saam geëet, geslaap, gelag en baklei. Ons groep broers.

Staf Gerber steek sy vuis in die lug om ons tot stilstand te bring. Vyf treë voor my lê ‘n kind met sy gesig in die sand. Die bloed uit sy rug maak ʼn donker kol op die wit sandkorrels. Vorentoe reik rook uit twee hutte soos ʼn noodlotsein hemelwaarts. Behalwe vir die voëls, is daar geen ander geluid nie. Onrusbarend stil. Eenkant gaan ʼn bok kouend sy gang. ʼn Sweetdruppel rol agter my nek af en die muggies, die muggies, die ewige muggies vlieg tartend en meedoënloos in my ore, my neus, my oë.

FOSFOR

Staf bring ons weer in beweging. Geen opleiding kon ons voorberei op die toneel voor ons nie.

[i] Drop zone

LEES GERUS VERDER IN MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

 

VAN GRONDBOONTJIEBOTTER EN DIE MAU MAU’S

VAN GRONDBOONTJIEBOTTER EN DIE MAU MAU’S

Die brein van ‘n kind is braakland – wees versigtig wat daar gesaai word…

VUUR

WINTER – 1970

Een van my take was om gedurende die wintermaande die antrasietstoof in die sitkamer brand te hou. Dit was ‘n ewige gemors as ek vergeet het om die antrasiet op te vul en die vuur laat vrek het. Want dan moes die stofie afkoel voordat ek al die as kon uitkrap en van vooraf pak – eers ‘n bolletjie koerantpapier of twee, dan ‘n paar droë houtjies en heel bo-op ‘n klompie swart antrasiet-kole. Die geur van die brandende papier en hout het ‘n so ‘n aardse, huislike bekoring gehad. Sodra die vlammende hout die antrasiet aangesteek en rooi laat gloei het, word die houer tot bo met die swart kole gevul. Nou moes ek die stofie net gereeld opvul en die warm chroom-stafie aan die kant met ‘n haak vorentoe en agtertoe pluk sodat die as in die onderste bak kon val om leeggemaak te word.

antrasietverwarmer

Die stofie in die sitkamer se hitte het hele huis warm gehou. Maar, van tyd tot tyd het dit gebeur dat iets – baiekeer my geheue – my verhoed het om die opvulwerk betyds te doen. En dan het die vuur gevrek met die gevolglike skoonmaak en oorpak.

Soos die keer toe die diaken, oom Jan Augustyn sy maandelikse kollekteerbesoek gebring  het.

Ek het laatmiddag van rugby-oefening af teruggekom en was net besig om die laaste assies uit die hoekies van die stofie te vee, toe die voordeurklokkie lui. Gewoonlik het Ma en die oom alleen in die sitkamer sit en gesels, maar daardie dag moes ek noodgedwonge hul gesprek aanhoor terwyl die vuur weer aan die gang moes kom.  Vóór dit te laat en donker raak.

En dáárdie dag het ek gesnap hoekom Pa draaie om die man geloop het. Hy het ‘n negatiwiteit uitgestraal en sy praat, sy liggaamstaal en optrede het nie gemaklik op my lyf kom lê nie.

“Weet Mevrou,” Ma was altyd Mevrou in die gesprek. “Vandag se kinders het darem geen benul waar geld vandaan kom nie.”

Ma het net geglimlag.

“Ek weet nie of dit hier by Mevrou-hulle dieselfde is, maar as ek nou na daardie twee seuns van my kyk… vanoggend hou ek hulle dop terwyl hulle toebroodjies vir skool maak. Hulle smeer eers botter” sê hy met opgestote wenkbroue terwyl hy sy linkerpinkie in sy regterhand toevou, “dan grondboontjiebotter,” ringvinger word by die pinkie gevoeg, “ en dan nog stroop ook.” Die middelvinger word saam met die ander twee vingers vasgevat terwyl hy met ‘n verposing sy blik op Ma vasnael om te sien wat haar reaksie is.

Die drie vingers word weer vrygelaat en in die lug gehou. “Drie smeergoed. En dan word dit sommer nog so dik opgeplak.”

grondboonbotter

Ek het stilweg met die stofie aangegaan terwyl ek die gesprek gevolg het. In ons huis was daar moeilikheid wanneer daar met kos gemors is, maar ons is nooit gerantsoeneer nie. Ons kon enige iets op die brood gesit het. Debbie het selfs al met stroop op polonie geëksperimenteer en daarvan gehou. Pa wou ook proe.

Oom Jan het voortgegaan: “Met vandag se kospryse kan dit mos nie geduld word nie. Wat kos ‘n bottel grondboonbotter? Vyf-en-twintig sent? Dalk al meer. En dan steel die swart goed jou ook nog rot en kaal. Net verlede week vang ek ons bediende weer met suiker wat sy wou huis toe dra. Mens weet nie wat gebeur agter jou rug as jy nie daar is nie.”

25c

Ma het haar bene andersom gekruis en vinnig na die horlosie teen die muur gekyk. Oom Jan was egter nie op liggaamstaal ingestel nie. En toe beweeg die gesprek in ‘n rigting wat selde, indien ooit,  in ons huis gehoor is. Pa het ons geleer om alle mense te respekteer en woorde soos “swart goed” en “k-ff—s” is nooit in ons huis gebruik nie. Groot dele van oom Jan se gesprek het hier in my agterkop lêplek kom kry sodat ek snags daaroor gelê en wonder het.

“Mevrou weet, ons staar ernstige probleme met hierdie klomp k-ff—s in die gesig, laat ék Mevrou vandag vertel. Die goed dink mos nie. Kyk hoe teel hulle aan. Daar is geen verantwoordelikheidsin onder hulle nie. Nee, die baas moet maar sorg as daar nie kos is nie. Of anders roof en moor hulle. Dis mos maklik. Óns werk vir ons goed en húlle kom vat dit net. Kyk hoe gaan dit hier op in Afrika.”

lokasie

Ek het doelbewus my werkpas vertraag. As veertienjarige seun was ek nie regtig op politieke gesprekke ingestel nie, maar om die een af ander rede het hierdie gesprek my aandag gevang. Dit kon die woord “oorlog” gewees het.

Oom Jan het voortborduur. “Dié mense is meesters as dit kom by stamgevegte en oorlog en die aanmoediging van politieke onrus. Plaas dat hulle eerder hul energie spandeer op persoonlike ontwikkeling of gemeenskapsontwikkeling of die aanleer van vaardighede of enige iets opbouend. Maar nee, nou saai hulle net verwoesting en onstabiliteit. Kyk nou byvoorbeeld na die onlangse gemors daar in die Kongo en wat die Mau Mau’s destyds daar in Kenia aangevang het. Weet Mevrou waar kom die woord Mau Mau vandaan?”

mau mau

“E-em, is mos ‘n bergreeks of ‘n rivier daar in Kenia, is dit nie?” antwoord Ma, maar ek kan aanvoel dat hy nie saamstem nie.

“Jaaa, baie mense dink so. Maar eintlik is dit ‘n nabootsing van die geluid wat hiënas maak wanneer hulle vreet, nè.” Hy knik sy kop ‘n paar keer.

“Oo, is dit so?” sê Ma.

“Ja, min mense weet dit. Hiënas, aasdiere, lafhartige diere wat aas op die kos waarvoor ander diere hard moes werk. Of hulle sal klein of swak weerlose diere aanval. Dis wat hiënas doen. En daai spul in Kenia kies toe vir hulle só ‘n naam. Hulle erken dus hulle is soos hiënas.”

“O, maar het húlle die naam gekies of… ek verbeel my ek het iewers gelees dat hulle eintlik ‘n ander naam het en dat dit die blankes is wat hulle Mau Mau’s begin noem het.”

“Néé,” sê Oom Jan met sy stem beterweterig hoër, “hulle het sélf die naam gekies. Want hulle is soos diere. Die dinge wat daar aangegaan het is genoeg om nagmerries van te kry. Weet Mevrou van die onnoembare dade wat gepleeg is tydens allerlei rituele? Eedafleggings waar diere geoffer is en die bloed dan gedrink is? Selfs kannibalisme! Daar was selfs orgies waar…” en hy loer na my, maar ek maak of ek geen belangstelling by die gesprek het nie terwyl ek die koerantpapier in bolle druk om in die stofie te steek.

Hy gaan in effe gedempte toon voort.  “…orgies waar perverse dade met diere gepleeg is. En orgies waar hulle hulself met die ingewande en oë van die diere versier het en ede afgelê het van beloftes hoe die blankes vermoor, uitmekaar geskeur en verbrand gaan word.”

Ma stu net ‘n geskokte geluid uit haar keel. Ek dink by myself, “bliksem!” maar gaan voort om die houtjies op die koerantbolle te rangskik.

“Dis hoekom die Britte toe versterkings moes instuur. Om die blankes te beskerm. En die ding beweeg nader aan ons, hoor! In Rhodesië is dinge nie lekker nie. Daar broei iets. En in Suidwes en Angola ook. Die regering vertel ons niks, maar ‘n vriend van my se broer was daar, in Suidwes. Hy vertel van soldate, ons eie soldate, wat diep in Angola in was. Vir wat? Hoekom sal ons soldate Angola toe stuur as daar nie iets aan die broei is nie. En ek sê vir Mevrou een ding, luister na wat ek vandag sê, dis nie lank voordat ‘n land soos Amerika val nie. Daai Luther King-ou – moeilikheid, moei-lik-heid, sê ek vir Mevrou. Hy moes vroeër al stilgemaak gewees het. Hulle het dalk bietjie lank gewag. Die swartes word nou al klaar daar toegelaat om saam met die wittes bus te ry. Vandag busse, môre hospitale en skole en as jy weer sien het hulle oorgeneem. En hulle doen dit met hulle getalle. Hulle wéét dis al hoe hulle die oorhand kan kry. Met geweld en getalle.”

“Haai weet jy, Meneer Augustyn, ek wil nou nie ongeskik klink nie, maar my kos brand al op die stoof,” kry Ma uiteindelik ‘n woord in.

“Ja, haai kyk waar loop die tyd heen. Ek het nog ‘n paar huise om aan te doen.” Hy kry sy kollekteboekie. “Die goed kan my so opwen.”

Die kollekteboekie word by ons naam oopgemaak. “Dieselfde bedrag as verlede maand, Mevrou?”

“Ja, wag laat ek net gou die koevertjie gaan haal.”

En toe steek ek die vuur aan.

LEES GERUS VERDER IN  MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

MODDERRIVIER

Dis een van daardie sonnige Vrystaatse wintersdae wat in baie Noord-lande as ‘n warm somersdag gesien sal word. Pechu en Bunny is, soos gewoonlik, kaalvoet. Ons gee onsself oor aan die dag, elke sintuig van my neem gulsig die omgewing in.  Al twee van hulle is baie behendig met ‘n kettie. Pechu het al selfs ‘n springhaas met sy kettie platgetrek. Ek het ook al gesien hoe hy ‘n patrys op veertig tree met ‘n klip neervel. Maar die geleentheid om met ‘n geweer, al is dit net ‘n windbuks, te jag, was vir ons drie seuns ‘n groot avontuur.

Teen elfuur het ons al genoeg geskiet sodat ons aan middagete kon begin dink. Mieta het vir my bietjie sout en botter saamgegee, met instruksies. En ‘n bakkie mieliemeel. Die pannetjie uit my rugsak, saam met die ketel, potjie en ander noodsaaklikhede vir ‘n veldete, kom nou goed te pas.

Onder ‘n wilgerboom langs die rivier sit ons en vere pluk. Die voëltjies lyk soos vaal miniatuurhoendertjies, die duiwe darem so bietjie groter. Nadat hulle skoon gepluk en die binnegoed verwyder is, spoel ek hulle onder my waterbottel af. Pechu se vuurtjie het intussen lekker begin knetter. Bunny het drie klippe só geplaas dat ek my pan daar op kan sit, langs die potjie met pap. Die botter spat gou in die pan en net soos Mieta verduidelik het, plaas ek so ‘n paar van die voëls in die warm botter en strooi ‘n klein bietjie sout oor. Die pap wat Puchu in my potjie maak, begin effens brand.

VUUR

“Hierie pot hy’sie dik nie,” maak Pechu verskoning vir die brandreuk. Ek weet die pot se boom is dun, dis maar ‘n gewone emaljepotjie wat al so bietjie van sy roomkleur verf op vorige uitstappies verloor het.

“Hy sal reg wees, moenie worry nie,” stel ek hom gerus.

Die voëltjies is gou gaar en ons begin solank weglê aan die voorgereg. Ek dink my eerste een is ‘n mossie. Hulle lyk maar so min of meer almal dieselfde so sonder vere, meestal vinke, koringvoëls en mossies. Intussen het ek die duiwe so al op die borsbeen langs oopgesny en plat in die warm botter gedruk.  Húlle eet ons saam met die pap. Die duif se bors is sag en geurig.

Ná ete gaan spoel ons die eetgerei in die rivier af. Hurkend by die water skiet ek ‘n pannetjie vol water oor Pechu. Die twee broers sit weerskante van my en afspoel. Pechu kap laggend ‘n handvol water terug en skaterend val Bunny ook in. Dit ontaard in ‘n uitgelate woeste watergeveg en gou-gou is ons so nat dat ons sommer in die rivier begin speel – winter of te nie. Speel, eerder as swem, want Bunny kan nie swem nie. Pechu se swemmery verras my nogal, maar ook nou nie so dat ek hom as kaptein van die swemspan sou kies nie. Met so ‘n vreemde styl kry hy dit darem reg om vorentoe deur die water te beweeg.

SWEM IN DIE RIVIER

Uitasem gespeel, klim ons teen die grondwal uit en gaan lê op die gras so ‘n entjie van die betonkeerwal af. Soos ‘n besorgde ma vou die middagson ons heerlik warm in haar strale toe. Die grootmense wil nooit hê dat ons naby hierdie betonwal kom nie, maar vandag is hier nie grootmense nie. Pechu vertel dat hy al groot visse met sy hande aan die bokant van die wal gevang het. Die water vloei sterk en stort so vier meter laer in ‘n maalkolk oor die wal. En dis hier teen die damwal, aan die bokant van die waterval, waar die visse soms vasgekeer word en met die omdraaislag deur wagtende hande gevang word.

“Vang julle die visse sommer so met die hande?” vra ek ongelowig.

“Moet die hanne,” bevestig Pechu.

“Nou maar kom’s gaan kyk.”

Ons staan so kniediep in die water en wag vir die visse, drie, vier treë van die wal af. Pechu beweeg effens dieper in, nader aan die damwal waaroor die water dreunend tuimel. Ek volg hom, maar Bunny is huiwerig en klim uit. Die stroom trek-trek hier aan my bene. Later aan my heupe. En toe raak dit ‘n dare game, visse vergete.

Met Bunny wat bekommerd van die oewer af toekyk, kyk ek en Pechu hoe naby ons aan die rand kan kom met die stroom wat hier van agter beur om ons bo-oor die wal te smyt. Nou vang ons nie meer vis nie. Ons konsentrasie lê nou by die sterkvloeiende stroom. Voetjie vir voetjie beweeg ons nader aan die damwal waar die rivier ‘n jong waterval word.  Met elke tree nader aan die rand voel dit of die water harder beur. Pechu is so ‘n halwe tree nader aan die wal as ek. ‘n Paar keer wil-wil ek my balans tussen die los klippe verloor, Pechu ook, maar dan gooi ons net ons lywe agtertoe en gee ‘n tree terug. Weer stadig vorentoe totdat die aanslag van die water te sterk word en ons net doodstil vasskop om die aanslag met skuinsbeurende lywe af te weer.

So tart ons die noodlot. Pechu se gesig blom met wit tande. Hy wink vir my om nader te kom. Die stroom is sterk. Versigtig lig ek my voet van ‘n vastrapposisie, stadig vorentoe, voel-voel vir ‘n nuwe vastrapplek. Ek kry een en wil vasskop, maar die klip gly en my balans word aan flarde geruk. Met minagting gryp die stroom my en slinger my soos ‘n vetgesmeerde paling verby Pechu wat my met weerlig-reaksie aan die arm beetkry. Hy is egter nie opgewasse teen die krag van die stroom nie en verloor ook sy vastrap.

Baie mense vertel hoe hulle lewens in stadige spoed verbyflits wanneer die dood in die gesig gestaar word. Al wat ek aan kon dink, was die klippe wat ek ‘n vorige keer, toe die rivier droog was, aan die onderkant van die wal gesien het.

Terwyl die stroom ons oor die rand spoeg, wonder ek of ons dadelik dood gaan wees en of ons gaan verdrink. Ek staal myself vir die trefslag op die klippe, maar daar is geen trefslag nie. Die water is diep en die klippe ver onder die oppervlakte. Dit voel of ons in ‘n wasmasjien val. Die water maal ons soos wasgoed al in die rondte, al in die rondte. Ek kry vir Pechu aan die voet beet, maar tussen die modderwater en borrelgemaal verloor ons mekaar weer. Vandag gaan ons verdrink, want ons kry nie ons koppe bo die water om asem te skep nie, flits dit deur my kop. Die maalkolk skuur my rug teen die klippe op die bodem en neem my weer, so voel dit, boontoe. En weer ondertoe. Hoe lank ons so gemaal het, weet ek nie. Baie dinge het deur my kop geflits. Ek het gewonder of Pechu nog lewe. Waar gaan ons lyke uitspoel? Gaan Ma-hulle kwaad wees?

Die wasmasjien word skielik op ‘n ander siklus geplaas, want eensklaps kry ek myself uit die maalkolk geskop. Vir ‘n oomblik sien ek niks van Pechu nie, maar dan skiet hy ook soos ‘n kurkprop langs my uit. Ons swem kant toe en gaan lê op die riviersand, lam gespartel. Bunny is gou by ons. Hy sê niks, kyk ons net grootoog aan, maak seker dat ons lewe. Ek draai my kop na Pechu toe en hy kyk na my. Hy het ‘n bloedstreep langs sy kop en my rugvelle het teen een van daardie bodemklippe agtergebly. Maar ons lewe. Ons borskaste werk soos blaasbalke. Pechu spoeg ‘n klippie uit.

En toe bars ons uit van die lag.

(Verwerkte uittreksel van my boek: MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

Mannetjies

Rugby was my lewe.

My onder 15-span, so dink ek met nabetragting, het darem meer wedstryde gewen as verloor. Ons was wel nie ‘n topspan nie en ek moet toegee dat my spel nou regtigwaar nie so was dat die Springbokkeurders ‘n snerpendkoue Saterdagoggend sou opoffer om na ons wedstryd te kom kyk nie.

Maar Pa het.

Vroeg Saterdae, in die hartjie van die winter, moes hy opstaan om my betyds by ‘n rugbyveldveld af te laai. Die A-span het altyd later in die oggend gespeel, wanneer die Vrystaatse wintersoggend darem al so bietjie ontdooi het. Dit was egter ons manne van die laer spanne, die B- en C-spanne, wat as’t ware die ys op die veld moes breek en eerste moes speel.

Daarom moes Pa my vroeg by die veld besorg het. Dan staan hy daar saam met ‘n klompie ander pa’s ons en aanmoedig asof ons die Springbokke is. Die ryp het dikwels nog wit op die wintersgras gelê. Met ‘n wasem-asem deel Pa dan saam met ‘n ander pa die koffie uit die fles wat Ma saamgestuur het, nekke diep in die krae ingetrek.

Persoonlike hoogtepunte van my skooljare is op doodgerypte rugbyvelde aangeteken. Persoonlik, ja, want wat vir een persoon ‘n hoogtepunt is, is vir ‘n volgende een maar vanselfsprekend.

Daar was laagtepunte ook. Soos tydens die een wedstryd toe ek wou indruk maak op Sanet.

Rugby was die hoofonderwerp van bespreking, oral. Op die speelgrond, in die klas, op die bus en selfs, volgens Pa, by die kerkraadsvergadering. Brian Lochore se All Blacks was in die land en kort tevore het die hele land geluister hoe ou Spiekeries vir Syd Nomis doellyn toe aangemoedig het. Aanmoedig? Dalk nie die regte woord nie. Die gewilde sportkommentator was histeries. “Syddie! Syddie! Syddie!” Onpartydige sportkommentaar.

SPIEKERIES

Sanet het langs die veld saam met ‘n groep meisies gestaan en ek wou  haar aandag kry. Ek was op buitesenter en die bal het bitter min verby Jakkie op binnesenter gekom. Ek moes dus hard werk om my doel te bereik. Op een stadium is Jakkie in ‘n losgemaal ingetrek en Dirk laat loop die bal na my met ‘n yslike gaping wat wink.

Ek vat daai gaping, bal onder die regterarm. Die gaping laat my toe om spoed op te tel en ek hardloop skoon onder die teenstanders en my ondersteuning uit. Selfs hulle heelagter word onkant gevang.

Hulle het so ‘n groot stut gehad wat maar baie stadig by die losgemale en skrums aangekom het en hy was dus nog van die vorige losgemaal naby hulle doellyn op pad na die pas afgelope losgemaal toe ek hom voor my gewaar. Net hy staan tussen my en die doellyn, tussen my en my doelwit om die meisiekind te beïndruk. My oomblik het aangebreek, die perfekte geleentheid om vir haar te wys van watter stoffasie hierdie senter gemaak is.

Ek pyl reg op die ou grote af, in volle vaart en sien hoe  hy sy hande op sy heupe plaas en gereed maak om my te stop. My strategie is doelbewus, berekend, want ‘n senter is rats en vinnig. ‘n Stut nie. Hoe kan ‘n lomp stut ‘n ratse senter stop? Die mense langs die veld raas en ek hoor hoe word my naam geskreeu.

Go Abrie! Go Abrie!”

Op die laaste moment – ek kon sy asem ruik – doen ek ‘n systap, een wat ou Mannetjies jaloers sou gehad het. Ek sou agterna nooit weer ‘n stut as lomp klassifiseer nie.

Toe ek klaar gesystap het, staan ou Grote steeds voor my. Ek kan onthou dat ek hom in volle vaart getref het, maar daarvandaan niks. Niks.  Ek het eers weer begin onthou toe ek met klere en stewels en al onder ‘n koue stort gestaan het. Jaco het met ‘n stokkie gekeer dat my braaksel die stortuitloop verstop.

Ek het ‘n paar keer agterna gehoor – elke keer onder histeriese gelag – hoe ek ou Grote getref het, teruggebons het, ‘n agteroor flik-flak gedoen het en doodstil bly lê het. Blykbaar het ek nie lank gelê nie, want toe die Rooikruis-ouens my wou afdra, het ek vertel dat ek reg is. Omdat die wedstryd amper verby was, het hulle my toe maar die voordeel van die twyfel gegee, totdat ek in die opponente se agterlyn gaan stelling inneem het en verder niks van die wedstryd af geweet het nie. Jaco en die Rooikruis-ouens het my kleedkamer toe gehelp.

Ek het Sanet se aandag gekry. Debbie vertel dat sy en die ander meisies toilette toe moes hardloop soos hulle gelag het.

Pa het gevra of ek dit weer eendag kan doen, maar hom net betyds waarsku dat hy sy rolprentkamera gereed kan hê.

CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

Olieberging

‘n Blik oor die Teems op die gasaanlegte.

Min skrywers kon nog presies verwoord wat daardie noodlottige nag in 1953 op Canvey gebeur het. Ek sal dit ook nie kan doen nie – ek kan ook maar slegs die feite weergee.

Ter agtergrond:

voelpark bome

Een van die natuurbewaringsgebiede op Canvey in laat herfs.

Canvey Island is een van ons buurdorpies hier in Engeland en word gesien as ‘n eiland omdat dit van die res van die land afgesny is deur vleilande, moerasgedeeltes en vertakkings van die Teemsrivier in die riviermonding,. Daar is tans slegs twee roetes van die eiland af en wanneer een van hierdie paaie deur padwerke of ‘n ongeluk versper word, is dit verkeerschaos. Vandag woon daar ongeveer 38 000 mense op hierdie minder gegoede eiland wat heelwat industrieë huisves en bekend is vir sy petrochemiese berging- en verskepingfasiliteite.

Ou pier

‘n Vervalle vasmeerplek vir bote met oorblyfsels van ‘n skip in die modder.

Vondste tydens opgrawings toon bewyse van nedersettings tydens die steen-, brons- en ystertydperk. Jare gelede is die eiland hoofsaaklik as weiding gebruik vir veral skaap. Sedert die Romeinse tye tot in die Middeleeue is soutwinning, teel van skulpvis en graanverbouing op die eiland beoefen met markte vir surplusprodukte in Londen asook die naburige Colchester (wat die oudste aangetekende dorp in Brittanje is en op ‘n stadium die hoofstad van die Romeinse provinsie, Brittanje, was) en Chelmsford. (Terloops, in Chelmsford het die befaamde Marconi die wêreld se eerste radiofabriek gebou en die eerste toetsradio-uitsendings gedoen – met ‘n opname van Nellie Melba – wat gelei tot tot die totstandkoming van die BBC).

Die Hollandse invloed op die eiland is vandag nog sigbaar in straatname en enkele Hollandse styl huise. In 1622 is daar besluit om met Hollandse kennis van landherwinning ‘n seemuur rondom Canvey te bou en land te herwin. Nagenoeg 15 km² is herwin en ná voltooiing van die projek het talle van die Hollandse werkers agtergebly.

Canvey is besonder plat en lê gemiddeld 3 meter onder die hoogwatermerk. Die hoogste punt op die eiland is ongeveer ‘n halwe meter bo seevlak wat die gebied geweldig kwesbaar teen oorstromings maak.

Op Saterdag, 31 Januarie 1953 het mense laatmiddag van sportgebeurtenisse, die fliek en kuierplekke by die huis gekom om vir aandete aan te sit. Regoor Engeland het dinge stadigaan beter begin gaan ná die verwoestende effek van die Tweede Wêreldoorlog. Op Canvey het 11 000 mense gewoon.

Andrew Manser was een van hulle, destyds ses jaar oud en onthou die aand soos gister:

“Ons gesin het aan tafel oor die middag se fliek gesit en gesels en die res van die aand bordspeletjies gespeel terwyl ons radio geluister het. Buite het die wind erg gewaai. Dit was winter en snerpend koud. Soos gewoonlik is ons kinders teen negeuur almal bed toe gestuur. Ons was ses kinders en het twee-twee in ‘n bed geslaap.

‘n Geweldige storm uit die noorde het in die Noordsee af beweeg en kusgedeeltes noord van Canvey, België en Nederland reeds met volle geweld getref. Wat die storm ongewoon gemaak het, is dat dit gepaardgegaan het met ‘n buitengewone hoë gety. Twee uur die nag het die storm Canvey getref met water wat by plekke reeds twee myl land-in gestroom het. Daar was weinig vooraf waarskuwing, hoofsaaklik as gevolg van swak kommunikasiestelsels en ook omdat daar nie werklik ‘n enkele beheerliggaam verantwoordelik was om waarskuwings van hierdie aard uit te stuur nie.

Water het teen ‘n geweldige tempo huise begin oorstroom. Mense in tweeverdiepinghuise het almal na die boonste verdieping geskarrel. Ander in enkelverdiepinghuise is geforseer om in die ysige nagtemperatuur op hul huise se dakke te klim, wagtend op hulp. Karavaanhuise met angsbevange, gillende mense in het die strate begin afdryf. My pa het besef dat ons sou verkluim en het ‘n gat in die plafon van ons enkelverdiepinghuis gemaak. Een vir een het hy ons kinders deur die gat gestoot en beveel om styf aan die balke vas te hou. My ma kon nie opklim nie en het met die twee jongstes in ‘n stootkarretjie in die kombuis gebly terwyl my pa en die laaste kind deur die gat geklim het. Om ons kalm te hou, het Ma ons liedjies laat sing. Ons was koud en bang.

Op een stadium moes my boetie aan die slaap geraak het en het deur die plafon tot op die kombuisvloer geval. Die water was toe seker so heuphoogte. Op pad ondertoe het hy sy kop teen die gietyster koolstoof gestamp. My ander broer het sonder om twee keer te dink, agterna gespring en hom uit die water op die kombuistafel getel. Bloed het oor sy gesig gestroom.  Hy het ‘n paar keer geroggel en het toe stil geraak. Ek kon sien hy’s dood. My ma het van skok, angs en paniek in soort van ‘n droewige beswyming geraak. Sy het die stootkarretjie heeltyd sussend gewieg – vorentoe, agtertoe tot ek besef het dat die water te diep is, die water kom oor die rante van die stoorkarretjie. Albei die kinders het in die stootkarretjie verdrink.

Niks in ons hegte gesin was daarna ooit weer dieselfde nie.”

huis en wal

Opruim na die groot vloed

Nog ‘n oorlewende onthou:

“Ek is seker een van min mense wat die hele aaklige gebeurtenis sien ontvou het. Ek was 20 en het saam met my pa en ma op ‘n boothuis gewoon. Ons ken die see en kon daardie oggend al sien dat die gety anders as gewoonlik was. Vanaf ons boothuis kon ons gedurende die nag sien hoe die keerwalle meegee en water land-in begin stroom het. Ons kon die hulpkrete hoor en ek het met groot gesukkel my roeiboot oor die seemuur getrek. Dit was bitterlik koud. Die toneel van verwoesting anderkant die muur was absoluut onbeskryflik en die hulpkrete sal vir altyd by my spook.

Ek het dadelik begin roei en verby ‘n huis met ‘n paniekerige man op die dak gevaar. Ek wou hom help, maar hy het my gesmeek om eerder vir sy vrou te soek – hy weet nie waar sy is nie. Ek het om die huis geroei en ‘n vrou in haar nagklere verstrengel in boomtakke gesien. Sy was dood. Verderaan was daar nog hulpkrete en ek het daarheen geroei. Ek het heen en weer geroei en kon 11 mense daardie nag red. Vier van hulle is later as gevolg van blootstelling dood. Teen daardie tyd was ek al totaal uitgeput en my hande het gebloei van die roeiery. Ná ‘n warm drankie by ‘n tydelike sorgsentrum, droë klere en verbande om my hande, het ek weer na die man op die dak gaan soek. Hy was egter dood toe ek daar aankom en tot vandag toe voel ek skuldig dat ek hom nie kon oorreed om in die boot te klim nie. Al die emosies van die afgelope nag het my skielik oorweldig en teen dagbreek het ek handdoek ingegooi toe die hulpkrete begin kwyn en slegs ‘n  grieselrige stilte oor die eiland neergedaal het.”

Met sonop  het 58 mense op Canvey hul lewens verloor. Talle het op die dakke van huise verkluim terwyl ander deur water in hul huise vasgekeer was – terwyl hulle geslaap het. Al langs die kus van Engeland het 307 mense gesterf, 24 000 huise is verwoes of beskadig en 40 000 mense is na veiligheid gebring.

canvey thameside

Toe en nou in Thameside

canvey northavenue

Toe en nou in North Avenue.

straattoneel

Verslae mense aanskou die storm- en vloedskade die volgende oggend.

redding uit huis

Mense word die oggend na die ramp uit huise ontruim.

In Holland en Belgie was die tragedie selfs groter met meer as 1 800 mense dood. In die Noordsee is ongeveer 230 mense op veerbote, skuite en visserbote dood. Meer as ‘n 1 600 kilometer van die Britse kuslyn is deur die storm geraak.

Ná die opruiming op Canvey is dadelik begin met die bou van ‘n nuwe, versterkte beton seemuur. Die muur, wat 23 kilometer lank is, is in 1983 voltooi en in 1993 met ‘n verdere twee meter verhoog.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die seemuur op Canvey Island met ‘n uitbeelding van die noodlottige nag in 1953 op geskilder.

Canvey-Island hoofstraat

Canvey Island se hoofstraat vandag.

‘N SPOOKSTORIE? WIE SAL WEET

‘N SPOOKSTORIE? WIE SAL WEET

Miskien was hulle te moeg, daardie eerste nag in die huis. Te moeg om enige iets op te let. Abrie het ook nie regtig geweet dat daar iets is om op te let nie. Die ou Victoriaanse huis in Lime Avenue was hulle eerste tuiste in die nuwe land – vir hom en Stiena. Sodra die skole en vervoer en wat nog alles uitgesorteer is, sal die kinders ook kom.

Die nuwe bure is so Engels as kan kom, stoere Pommies, Allan en Mary Gifford. Nuuskierig oor die buitelandse bure, vra hulle uit:

“Nou wat bring julle uit sonnige Suid-Afrika na ‘n nat land soos Engeland?” Praat Engels, natuurlik.

“Aag, ons het net bietjie kom verken, ʼn gesinsavontuur,” antwoord Abrie – ook natuurlik in (Vrystaatse) Engels, met die ratte van Haar Majesteit se taal wat maar sleg gekrap word. Gooi die rooitaal sommer so sonder clutch.

Enkele weke later…

Stiena is besig om te pak vir ʼn vinnige besoek aan Suid-Afrika. Oudste word dertien daar in die vaderland en heelwat moet nog gereël word vir die kinders se koms na Engeland. Abrie sou graag wou saamgaan, maar hierdie kant is daar ook nog een en ander te doen vóór die gesin voltallig is. Reënwolke pak saam en hy jaag teen tyd met die grassnyer in die agtertuin voordat hy vir Stiena lughawe toe moet neem. Hy wonder wat die groot, dooie kol op die grasperk veroorsaak het. Dit lyk amper asof iets hier gebrand het. In een van die beddings het hy anderdag ‘n half-uitgebrande polisiekenteken opgetel.

Op die boonste verdieping swaai die kamervenster oop: “Was jy nou hier in die huis?” Stiena moet hard skreeu om sy aandag te kry.

“Nee, hoekom?”

Sy trek haar kop weer by die venster in. “Aag, sommer niks. Gedog ek hoor iemand hier.”

‘n Onrustigheid knaag al ‘n paar dae lank aan hom. Hy kan nie sy vinger daarop plaas nie en het dit nog met niemand bespreek nie, maar daar is iets aan die huis. Iets… onsigbaars.

Laataand, alleen terug ná die afskeid op die lughawe, kry ʼn grillerige gevoelte vir Abrie die eerste keer ernstig beet. ‘n Vreemde reuk hang al heelaand in die lug, amper soos Vicks of iets. Uitgestrek op die bank, met die koerant op sy bors, skud hy die gevoel af en skryf dit toe aan die alleenheid in die leë huis en die verlange na Suid-Afrika. Die vyf jaar oue bottel KWV wat hy saamgebring en vanaand oopgemaak het, het ook bygedra om sy gemoed broos te maak.

Dis kort voor middernag toe hy met sy KWV-verlanglyf teen die trappe op slaapkamer se kant toe staan. Hier so op die vierde, vyfde trap rond kruip daar ʼn ongemaklikheid in sy gebeente in – daardie kriewelrige gevoel wanneer jy oortuig is dat iemand vir jou kyk, maar daar’s niemand nie. Hy draai om. Niks, niemand nie. Die wind is onrustig en waai jong akkertjies van die groot ou boom af op die sinkdak. Onwillekeurig trek hy sy skouers op as ʼn tinteling agter sy nek afrol en sy arms hoendervleis uitslaan. Hy is bly die kinders is nie hier om hulle sterk, dapper pa se onrustige koueknoppies te sien nie.

Diep die nag in skrik hy wakker. Iemand huil. Dit kón ‘n droom gewees het. Verbeel hy hom of ruik hy rook?

Die huis brand dalk!

Die ou verskoninkie vir ‘n flits wat hy by Poundsavers gekoop het se straal sukkel om deur die donker te sny. Abrie beweeg behoedsaam van vertrek tot vertrek. Alles lyk egter normaal, rustig. Daar is niks, die rookreuk is ook weg. Dis net die verdomde trap… die trap wat bly kraak lank nadat hy van die laaste trappie af is.

Die res van die nag rol hy onrustig in die bed rond. Die trap bly kraak asof iemand daar op en af beweeg.

Teen dagbreek staan hy soos ‘n ou koei uit bed uit op, gatkant eerste. Suf en moerig gaan sit hy met ‘n beker koffie op die stoep, oë op skrefies teen die skerp oggendlig. Later die oggend in die tuin, met ‘n snoeiskêr in die hand en die helder son op sy skouers, skuif hy die slegte nagrus op die agtergrond. Allan wink hom heining toe en nooi hom vir tee.

Mary se skons met aarbeikonfyt en dik room dryf die laaste tamheid uit sy lyf  en hy huiwer nie toe sy die bord vir ‘n tweede keer voor hom hou nie.

“Dit moet ook maar sleg wees om so alleen in die huis te wees. Jy mis seker vir Stiena en die kinders,” pols sy.

“Ja, ek mis hulle baie, maar ek is nie so seker dat ek alleen in die huis is nie,” grap Abrie. Sy grappie gaan sit egter vinnig op ‘n stokkie toe hy sien hoe Allan en Mary vir mekaar kyk. Heel betekenisvol.

“Wat?” vra hy.

“Neeee… nee-nee daar’s niks,” gooi Allan wal.

Hy oortuig Abrie nie.

“Allaaan, dit was ‘n kyk met betekenis wat jy en Mary vir mekaar gegee het. Vertel.”

Hulle kyk weer na mekaar, so met sulke sal-ons-of-sal-ons-nie-gesigte.

“Toe…” por Abrie. “Ek kom van Suid-Afrika af, ons kan enige iets vat.” Hy vat ‘n groot hap van die skon en lek die room van sy lippe af.

Allan sug, pers sy lippe en kyk eers ‘n lang ruk deur die venster na die huis langsaan. Sy woorde skok Abrie in ‘n koustilstand in. “Die mense wat voor julle in die huis gebly het, het… het selfmoord gepleeg.”

Abrie sit bewegingloos met ‘n mondvol skon, loer dan vinnig na hulle huis anderkant die heining en vra: “Binne-in die huis?” Skielik is hy nie meer so seker of “ons Suid-Afrikaners álles kan vat nie”.

“Ja, sy was ‘n pragtige mens – Emily, ‘n verpleegster. George was ‘n polisieman. Sy’t hom altyd Georgie genoem enne… toe vind sy uit dat hy haar verneuk. Saans kon ons hoor hoe hulle baklei. George het baie aande laat gewerk. Een middag het sy al sy goed in die agtertuin uitgedra en dit daar op die grasperk aan die brand gesteek. Dieselfde aand het sy ‘n oordosis pille geneem.”

Mary neem oor. “Ons dink sy het herbesin, want dit wil voorkom asof sy, bo uit die slaapkamer, trappe toe geloop en in ‘n bedwelmde toestand daar afgeval het. George moes laataand by die huis gekom het en… ja, hulle het hom in die bad gekry, met gesnyde polse.

Abrie het intussen weer begin kou en die skon, wat nou bietjie droog vir sy keel geword het, met tee afgesluk. Hy besef sy mond hang oop. “En Emily?” vra hy.

“Emily is dood by die onderpunt van die trap aangetref”.

Ná tee stap Allan saam met Abrie tot by die huis. “Jy moet praat as jy ons nodig het… jy weet.” Hy talm by die deur terwyl Abrie oopsluit, staar ‘n oomblik na die trappe en draai om. ‘n Tikkie huiwering om die deur agter hom toe te maak, kom sit in Abrie se lyf.

“Aag kom nou!” praat hy met homself. “Jy was in die bosoorlog man, grensvegter. Uitgevrete lummel van ‘n man, jou kinders se held. Watse banggatgeit is dit nou!”

Vroegaand maak hy homself voor die TV tuis. Met ʼn advertensiebreek gaan skink hy gou ʼn vars KWV’tjie. Skoon, sonder ys. Terug in die sitkamer steek hy vas. Die TV is dan nou afgeskakel.

“Koos Wye Voete, moet jy nou nie vanaand kom staan en moleste maak nie! Hoekom sou ek die TV afgeskakel het?”

Onrustigheid en daardie beklemmende gevoel wat hom nou nooit los nie, maak dat Abrie sommer in die sitkamer slaap, met al die ligte aan. In die gemakstoel veg hy teen die vaak en die intimiderende stilte – ʼn stilte wat soos dik rook in die huis hang. Elke geluidjie word donderend versterk. Hy beur regop en kyk vlugtig om hom rond. Sê nou ʼn vrou in ʼn lang, wit rok met skuimbolle om die mond kom die sitkamer ingestap. Of ʼn meisie met lang, swart hare kruip hier uit die kaggel uit, amper soos in daai fliek wat hy anderdag gesien h…

Hy spring orent. Wat was dit? Daar was beslis iets bo in die slaapkamer. Of dalk die badkamer. ʼn Duidelike gestamp.

Twee katte gryp mekaar skellend buite voor die sitkamervenster. Die wind waai die akkertjies weer op die dak rond.

Met dagbreek is Abrie skaamkwaad vir homself. Hoe pateties kán mens wees! Gelukkig was hier niemand om dit te aanskou nie. Dis ʼn helder, sonnige somersdag.

Abrie en die apostel Tomas het iets in gemeen. Soos die apostel wil hy ook ʼn ding sien voordat hy dit glo – daar is ‘n rasionele verklaring vir alles. So glo hy.

Buite sing die voëls ‘n somerlied terwyl hy soekend deur die huis dwaal. In die slaapkamer maak hy homself ontvanklik vir enige sensasie. ʼn Geluid, ʼn tinteling – enige iets. In die flieks maak ‘n ou se asem mos sulke wolkies wanneer daar ‘n rustelose gees in die omgewing is. Gewoonlik het die gees ‘n gat in die kop of grys-blou lippe en donker kringe om die oë. Abrie voel en sien egter niks. Heel waaghalsig en dapper met die helder daglig wat deur die vensters skyn, gaan hy in die badkamer op die toilet sit. Ingedagte staar hy na die witgeskropte bad wat geen leidrade gee van die treurspel wat hier afgespeel het nie. Hy luister, voel, kyk rond. Niks. Stadig klim hy die trappe af, tot by die onderpunt en staar ‘n ruk na die houtvloer voor die eerste trap waar Emily blykbaar gelê.

Dan draai hy om en bekyk die stel trappe. Die trap lyk maar soos enige trap in helder daglig. Hoekom sal “iets” nou net saans, wanneer dit donker is, begin rondloop? Soos in die grilflieks. Hy gooi sy arms wyd oop, kop agteroor met sy oë toe om optimaal “ontvanklik” vir enige iets te wees. ‘n Sagte briesie vee oor hom, kompleet soos iemand wat in sy nek blaas. Die Vicks-reuk wat hy so dikwels kry, bereik hom weer.  Die trap kraak. Sy een oog is dadelik oop, soekend. Die ander oog wonder nog of hy wil sien, maar spring onmiddellik wyd gesper in fokus. Aan die bopunt van die trap, gehul in  ‘n stralekrans van skerp sonlig deur die badkamervenster, is die silhoeët van ‘n vrou duidelik sigbaar. Agter haar is lopende water uit die badkamer hoorbaar. Badwater…

Die dapper grensvegter se moed begewe hom. Twee kombuisstoele word op pad agterdeur toe platgehol. Buite in die tuin jaag sy asem soos ‘n oorywerige blaasbalk. Sy hart bons soos ‘n Lister waterpomp op steroïede terwyl sy oë van venster tot venster swiep. Hy oorweeg dit om by Allan te gaan tee drink. Om sommer dalk daar te bly. Tot Stiena terug is. Die lopende water in die badkamer pla hom egter. As die prop in die bad is en die huis oorstroom… hoe gaan hy dit verduidelik?

Wat sê hy vir die kinders? “Pa was bang vir ‘n spook, toe hol hy by die huis uit.”

Nee! Hy haal diep asem en sluip weer die huis binne, op die met trap. Hy praat met homself:

“Miskien is sy vriendelik. My magtag, ek meen, ék het haar niks gemaak nie… ek was nog in Suid-Afrika toe hier moeilikheid was”.

Daar’s nie water wat loop nie. Alles lyk normaal.

Dis sterk skemer toe Abrie vir hom ʼn knertsie sonder ys skink en voor die TV stelling inneem. Vanaand gaan hy beslis nie weer in die stoel slaap nie. Die boonste verdieping se ligte is reeds aanskakel. Die TV se klank is hard gestel; hy wil niks anders as die TV hoor nie.

Só verdiep in ‘n opname van ʼn ou Muhammad Ali geveg raak hy, dat dit eers met ʼn tweede oogopslag tot hom deurdring. Die stoel oorkant hom in die hoek se kussing is ingeduik, so asof iemand daar sit. Abrie staar snaarstyf na die groen kussing. As daardie kussing die geringste beweging gaan maak, maak hy vanaand ʼn nuwe deuropening hier in die vertrek. Die ander stoelkussings is glad. Hy maak sy glas leeg en vra met so ‘n dunnerige stemmetjie:

“Emily, soek jy iets? Moet ek vir jou iets doen?” Hy voel belaglik. Lank staar hy so na die kussing, maar niks gebeur nie.

“Ag jong, dit is seker maar soos jyself nog laas daar gesit het,” probeer hy homself gerusstel. Sy gerustheid verbrokkel egter soos  ʼn rotsstorting.

Veraf, fluisterend soos die nagwind, styg dit duidelik hoorbaar bo die TV-klanke uit:

“Geooorgiiiie…, Geooorgiiiie…”

Abrie stel vinnig die TV sagter en luister. Sy hele lyf slaan hoenderknoppies uit, die hare op sy arms staan regop. Dit lyk asof die armhaar-volkslied gespeel word. Die twee op sy kop lê plat, dalk te bang om regop te kom.

Miskien was dit oor die TV, want nou is dit doodstil. Té stil en hy stel die klank summier harder. Ook dit maak hom onrustig, want nou kan hy nie hoor as iets rondom hom gebeur nie. Hy is skielik so bang, dat sy klere klam voel. Bang waarvoor? Hy weet nie. Dit is juis die probleem. Hier is niks konkreet, tasbaar, sigbaar nie, maar tog… Hier is iets, iets onbekends. onheilspellends. Die hele vertrek ruik skielik so medisynerig.

Die stoelkussing is nie meer ingeduik nie. Abrie se asem maak wasemwolkies. Hy wéét sommer iemand staan agter hom, hy kan haar ruik.

Sonder om enige ligte af te skakel, hardloop hy die trappe drie-drie op. Slaaptyd is sommer nóú.

‘n Sielsverdrywende kreet onder uit die sitkamer laat elke greintjie weerstand in hom verbrokkel. Met een beweging gooi hy die deur in die opening en duik onder die lakens in. Sy hart ruk sy borskas aan flarde. Hy ken nie sulke vrees nie en weet nie wat mens in so ‘n situasie doen nie. Hoe verdedig jy jouself? Dis nie ‘n terroris in Angola wat jy kan sien en aanvat nie.

Iemand haal in die vertrek asem, hier by hom op die bed. ‘n Verlammende vrees verhoed hom om sy oë oop te maak. Hy kan voel hoe sy are toetrek… die bed kraak, iemand beweeg en laat die lakens ritsel. Sy asem fluit soos ‘n konsertina wat wind sluk. Vingers van ‘n sagte hand vou om sy arm.

“Hei, jy skreeu in jou slaap…”

Abrie se oë fokus nie dadelik nie.

“Stiena! Hoe… wanneer het jy teruggekom?”

“Teruggekom, van waar af?”

“Van Suid-Afrika af!”

“Huh? Hou op nonsens praat en gaan maak eerder vir ons lekker koffie.”

Op pad terug slaapkamer toe, nou helder wakker met twee koppies koffie in die hande, steek Abrie voor die sitkamerdeur vas. Sy brein fladder deur al die koplêers op soek na leidrade.

Wat is droom en wat is werklikheid? Op die koffietafeltjie staan die halwe bottel KWV en die bordjie skons wat Mary gister saamgestuur het. Wie sou die bankkussings op die groen stoel in die hoek so opgestapel het?

Versigtig om nie koffie te mors nie, klim hy die trap op slaapkamer toe.

“Stiena, weet jy iets van die kussings in die…”

Sy woorde stol.

Niemand is in die kamer nie. Die bed is netjies opgemaak. Abrie se baadjie lê op die bed soos hy dit die vorige aand daar gelos het.

Sy selfoon, onder in die sitkamer, kondig ʼn boodskap aan. Hy gaan ondertoe om dit te lees:

“Hi, mis jou. Koud in Pretoria. Kinders stuur groete en drukkies. Lief vir jou! Stiena.”

Abrie let nie die figuur op wat agter hom teen die trap af beweeg nie…

SPOOK

GELEEN VAN DIE INTERNET AF.

SOUTHEND-ON-SEA

Vanaf land deur bomeSOUTHEND-ON-SEA

Southend-on-Sea, of sommer kortweg, Southend, is een van die groter dorpe in ons omgewing en die mees oostelike groot dorp aan die noordelike oewer van die Teemsrivier voordat die Noordsee begin. Tussen ons dorpie – Benfleet – en Southend is daar vier aaneengeskakelde dorpies – Hadleigh, Leigh-on-Sea, Chalkwell en Westcliff  – so 12 kilometer soos die kraai vlieg of 19 kilometer seelangs. Ons praat van “seelangs”, maar strenggesproke is dit die yslike riviermonding. Die windjie stoot hier al seegeure in die Teems se mond op en omdat dit ‘n getyrivier is, bring hoogwater heelwat seelewe (selfs dolfyne) met die soutwater diep land in. Southend is dan ook ‘n kusdorp en gewild onder vakansiegangers – slegs sowat 65 kilometer oos van Londen-sentraal af. Moet egter nie Jeffreysbaai se branders en strande verwag nie.

PALACE HOTEL

Die statige Palace Hotel op Southend se seefront. Koninklikes het al hier oornag – lank gelede.

In 1830 is die wêreld se langste ontspanningspier in Southend gebou – ‘n 2.14 kilometer lange looppad die see in. Oor die jare heen het die pier al deurgeloop onder rampe soos groot skepe wat daarin vasgery het en twee groot brande. In 1995 is ‘n vermaaklikheidsarkade aan die landkant van die pier deur brand in puin gelê en in 2005 het vuur groot skade aan restourante en winkels op die ander punt, diep die see in, aangerig. ‘n Smalspoortreintjie is beskikbaar om mense wat nie kans sien vir die stappie nie en goedere te vervoer.

Southend-on-Sea se historiese 2.16 km-lange pier

Southend-on-Sea se historiese 2.16 km-lange pier met die pretpark in die voorgrond.

Baie Sondagmiddae gaan loop ons daar – en koop ‘n lekker draairoomys by die restourant op die punt.

SLOTHOOFSTUK

SLOTHOOFSTUK

Kadetorkes

Johan, links agter as beuelblaser in die kadetorkes. Leon Schuster, regs voor, was ons jong onderwyser en mede-afrigter van die orkes.

Vandag is my hart seer. Die slothoofstuk van ‘n vriendskap wat meer as 43 jaar gelede begin het,  is vroegoggend geskryf.

Ons was nooit boesemvriende nie. Tog het die lewe ons oor die jare heen telkemale bymekaar gegooi sodat ‘n hegte vriendskap gevorm het.

In standerd 9 het ons paaie vir die eerste keer gekruis. Ons was ‘n lekker groep klasmaats, ‘n groot groep sonder enige klieks. Almal was vriende. Johan Noordman was in my biologieklas en die ondeunde outjie met die wakker oë het vanaf dag een my aandag getrek met sy kwinkslae. Nooit een vir doekies omdraai of skynheiligheid nie – skiet uit die heup uit, sê ‘n ding soos dit is met heelwat kruie in sy woordeskat. Top intelligent met ‘n sjarme wat die meisies laat swymel het.

As my span se losskakel het sy energieke teenwoordigheid die res van ons aangespoor. In die kadetorkes moes ek hom leer beuel blaas en het ons uiteindelik saam ons skool by die provinsiale kompetisie verteenwoordig.

Ná skool het ons lewens in verskillende rigtings koers gekies. Ek het kontak met die meerderheid van my klasmaats verloor en gedink dat Johan ook deel van my verlede was. Die lewe het egter ander planne gehad.

Nie lank nadat ek uit die weermag geklaar het nie, het ek met ‘n meisie begin uitgaan en kom toe op ons tweede date, tot my groot verbasing, agter dat haar suster kort tevore met Johan getroud is. Heelwat double dates en gesellige langnaweke later, het die vriendskap weer dik bande gesmee. Hy het ‘n ou Renault gekoop en die dak afgesny. Ons het ure se pret  op die plaas se grondpaaie gehad – met daardie Renault het ek geleer drift.

Enkele jare later het ons paaie weer geskei totdat ek op ‘n dag uitvind dat hy ook in Engeland woon. Dit was ‘n blye weersiens en gesellige ekskursies Londen toe, oor en weer braai en kuier ná rugbywedstryde het sommer vinnig weer die ou vriendskapsbande styf getrek.

Enkele weke gelede, in Maart,  is hy en sy vrou Suid-Afrika toe waar hy sy verjaarsdag saam met familie en vriende gevier het. Ná ‘n potjie gholf het hy ‘n knaende stywe gevoel  en ongemak met pynstillers gedokter. Terug by die huis in Engeland, bel hy my:

“F—-t Pellie, ek het pyn jong. Ek kom nou van die werk af, kon nie eers my toolbox uit die van laai nie. Oudword is wragtag nie vir sissies nie. Dink is rumatiek wat my nou ingehaal het.” Johan was ‘n meesterbouer wat later in Engeland op teëlwerk gekonsentreer het. Sy puik werk het gesorg dat hy nooit sonder werk was nie.

Ek is op datum gehou en die dokters het verskillende pynstillers voorgeskryf – niks het die pyn verlig nie.

Op 14 April lui my foon weer: “Pellie, ek het moeilikheid jong. Dokter het longkanker gediagnoseer.”

Soos dikwels wanneer ek omgekrap is, gaan sit ek op die toilet met die deksel afgeslaan. Ek bekyk die teëls wat hy nie lank gelede nie vir my kom lê het. Natuurlik wou hy niks weet van geld nie: “Terwyl ek teël, dan kry jy vir ons ‘n vuur aan die gang. Ek soek net ‘n dop en ‘n lekker steak – soos jy dit kan braai”.

Hy sal moet gaan vir ‘n tweede opinie, dink ek op die toilet. Iemand met sy lus vir lewe en energie kan mos nou nie…

Ek gaan kuier vir hom in die hospitaal en is geskok om te sien hoe hy in so ‘n kort rukkie agteruitgegaan het.

Laat gisteraand sit ek langs sy bed. Hy is in ‘n koma. Met sy growwe, sterk hand in myne luister ek na sy roggelende asemhaling. Vertel vir hom staaltjies wat ek uit ‘n diep onthouput trek. Ek weet nie eers of hy kan hoor nie, maar daar is tog soms ‘n verandering in sy asemhaling.

Vroegoggend neem hy vir oulaas ‘n asemteug.

En meld aan vir ‘n potjie golf saam met gholfpelle wat ons vooruitgegaan het.

Rus in vrede, Pellie. Jou aardse werk is klaar. Ek sit juis nou hier agter ‘n toe deur en kyk na jou teëlwerk, so presies en netjies – een van jou talle monumente. Dit lyk nou bietjie dof – my oë fokus nie so lekker nie…

BRITSE MEISIE SKILDER PRETORIA – IN 1911

IMG_1115

DIE JONG SALLY ROGERS TUSSEN HAAR PA EN MA – ROBERTS HEIGHTS, PRETORIA 1911

Na aanleiding van die opmerking in my vorige plasing oor Benfleet, asook navrae wat ek ontvang het, plaas ek graag die onderstaande foto’s. Ek het genoem van die 84-jarige Paddy oorkant die straat wie se ma as jong meisie tydens en ná die Boereoorlog saam met haar ouers in Pretoria gewoon het. Haar pa was ‘n Engelse soldaat en was op die destydse Roberts Heights (later  Voortrekkerhoogte en vandag Thaba Tswane) gestasioneer. Paddy het vandag nog foto’s en selfs twee kieries uit Suid-Afrika wat aan haar oupa behoort het.

Die jong Engelse meisie het sketse en waterverfskilderye van haar omgewing gemaak. Ek plaas graag enkeles met ‘n moderne foto om ‘n aanduiding te gee van die (moontlike) omgewing.

FONTEINE, PRETORIA

IMG_1111

Fountains Valley Resort DLP

FONTEINE, PRETORIA

IMG_1110

‘N VRYSTATER IN BENFLEET

Byna elf jaar gelede het ons van ‘n naburige dorpie (village) na Benfleet, Engeland verhuis – ons eie huis. Niemand sal Benfleet as ‘n toeristedorpie beskryf nie, die hoofstraat is maar bra vervelig met die gewone winkels en wegneemeetplekke en hier is, op die oog af nie werklik enige besienswaardighede nie.  Die hele dorp is omtrent die grootte van ‘n gemiddelde voorstad in Pretoria.

Uitsig van watertoring

UITSIG OOR BENFLEET VANAF DIE WATERTORING MET ‘N PLAAS OP LINKS EN DIE HOOFDORP IN DIE VERTE. DIE HUISE OP REGS IS NA DIE INGANG VAN BEFLEET

Delf mens egter so effens dieper, ontvou ‘n heel interessante geskiedenis.

Benfleet is in Essex, reg oos (so 40 kilometer tot in die buitewyke) van Londen langs die Teemsrivier waar hierdie bekende rivier in die Noordsee uitmond. Die naam kom van die Saksiese setlaars wat in die vyfde eeu hier kom nesskop het. Hulle het die gebied Beamfleote genoem – boomryke stroom. Oor die jare heen het die naam verdraai geraak tot die stasie met die koms van die spoorweg in 1855 amptelik Benfleet genoem is. Die stroom is ‘n vertakking van die Teems en het vir baie jare handelskepe met ware van Europa en elders na die gebied gebring. Onder die parkeerterrein van die ou Hoy and Helmet pub, wat teenaan die stroom is, is daar ‘n doolhof van tonnels wat baie jare gelede gebruik is om alkohol (belastingvry) van die skepe af in te smokkel.

hoyandhelmetpubsouthbenfleet

DIE EEUE OUE HOY AND HELMET PUB

Die naam, Hoy and Helmet verwys ook na die dorpie  se verbintenis met skeepsvaart, waar Hoy ‘n tipe skip was en Helmet die versterkte boeg van die skip om in laagwater te kan vaar. Vandag is dit meestal net seiljagte, huisbote en motorbote wat in die getystroom gesien word.

Church_Corner_0028

‘N OU FOTO VAN BENFLEET SE HIGH STREET MET NOG ‘N OU PUB, DIE ANCHOR INN OP REGS EN DIE OU KERK WAT AGTER DIE BOOMTOPPE UITSTEEK.

Net langs die Hoy and Helmet is daar ‘n monument om die Slag van Benfleet tussen die Vikings en die Saksers in 894 te herdenk. Tydens opgrawings met die bou van die treinstasie, is op talle uitgebrande Vikingbote en geraamtes uit die veldslag afgekom. Om die oorwinning oor die Vikings te vier, het die Saksers destyds ‘n houtkerk nie ver van die slagveld af nie gebou. Die fondasies is later gebruik om ‘n permanente klipkerk te bou – ‘n gebou (met uitbreidings oor die jare heen) wat vandag, na 1 100 jaar steeds staan en as kerk gebruik word.

stmaryschurchsouthbenfleet

ST MARY’S CHURCH, BENFLEET WAT AL MEER AS ‘N 1000 JAAR OUD IS.

Een van die voetslaanpaaie waar ek gereeld my gemoed gaan skoonmaak, lei na die Hadleigh Country Park – ‘n enorme park met woude en selfs die ruïnes van die ou Hadleigh-kasteel waar die onbeperkte uitsig vir myle ‘n blik gee op die Teems, Noordsee en omgewing. Hierdie einste park het ook ‘n moderne bergfietsbaan – ‘n nalatenskap van die 2012 Olimpiese spele toe wyle Burry Stander Suid-Afrika se naam tydens die kompetisie hoog gehou het.

So van kastele gepraat. Benfleet se watertoring, wat in 1903 voltooi is, waak as ‘n indrukwekkende 90 meter hoë baken oor die dorpie. Mense wat weet, vertel dat dit spook in hierdie swierige toring wat gebou is in die Romaanse styl om soos ‘n kasteel te lyk. Maar dis blykbaar ‘n vriendelike, ondeunde spook.

Watertoring

BENFLEET SE WATERTORING

Benfleet was in 1952 in die nuus toe ‘n Meteor vegvliegtuig hier neergestort het. Wonder bo wonder is niemand beseer nie, maar ‘n hele klompie huise is beskadig en blykbaar het iemand se hoenderhok met die inhoud daarvan oor ‘n groot gebied gesaai gelê. Talle huise dra ook nog letsels van Duitse bomme uit die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste huise is oor die jare heen herstel, maar sommige hou die letsels as herinnering aan ‘n vergange era. John en Paddy oorkant die straat is nou al in hulle tagtigs en het hier grootgeword. As jonggetroude paartjie het hulle in 1956 die nuutgeboude huis betrek en dra elke somer vir ons vrugte van die ou vyeboom in hulle tuin aan. Die huis is op ‘n bult met ‘n ver uitsig oor die omgewing. Dit verklaar hoekom daar vandag nog ‘n platform is waar daar ‘n kanon en soeklig tydens die oorlogtyd was. Paddy vertel hoe die soldate vir hulle, as klein kindertjies, die pad met daardie yslike lig verlig het wanneer hulle met ‘n slee in die sneeu teen die helling af pret gehad het.

Laerskool

BENFLEET LAERSKOOL

Terloops, einste Paddy het ‘n waterverfskildery wat haar ma as jong Britse meisie in Pretoria tydens die Boereoorlog geverf het. Haar pa was as soldaat daar gestasioneer. Die skildery gee ‘n pragtige beeld van Meintjieskop en die Groenkloofarea (sonder enige huise) van die gebied waar die Voortrekkermonument later gebou sou word, af.