LOUWRENS

Eendag was daar ‘n seun. Kom ons noem hom Louwrens…

Die dag toe Louwrens gebore is, was sy pa by – taamlik onwillig, bygesê. Op ‘n stoeltjie by sy ma se voetenent het sy pa gesit en toekyk hoe die dokters hom deur die snit in sy ma se maag trek. Nog vol bloed, in ‘n doek toegedraai, het die suster die kleine Louwrens in sy pa se arms kom sit. Op dáárdie oomblik is dit gesmee – ‘n band wat geen krag ooit sou breek nie.

Louwrens was ‘n buitengewoon woelige kleuter met ‘n sterk persoonlikheid en wil van sy eie. Die blondekopseuntjie met die helderblou oë kon speel dat die sweet sy haartjies deurskynend maak. Sy lag was musiek, maar sy opstand teen enige iets waarmee hy nie saamgestem het nie, was bliksemstrale. Met ogies wat vonkel van ondeundheid, was hy altyd vol planne vir ‘n nuwe uitdaging. En meestal het hierdie planne nie ingepas by die beskermende omgewing waarin sy ma hom wou grootmaak nie. Saans, wanneer sy na die slapende engelgesiggie gekyk het, kon sy nie glo dat dit dieselfde seuntjie is wat enkele ure tevore streepsuiker by sy pa gekry het nie. Met ‘n oopgevalde oogbank of ‘n kopwond nadat toertjies op die swaai skeefgeloop het, het die personeel by Ongevalle later bekendes geword.

Hy was nege toe sy pa vroeg een Sondagoggend ‘n oproep kry wat vir altyd voor in die geheuekamers sou bly. Sy ma was nie tuis toe die oproep deurgekom het nie, want sy het werkverpligtinge in ‘n ander land gehad.

Louwrens was by ‘n maatjie se verjaarsdag en het die vorige aand oorgeslaap. Vroegoggend, ná ontbyt, het die twee seuns, Louwrens en Gerrie, in die agterplaas op die klimraam gespeel. Gerrie-hulle se twee groot honde het so al rondom die seuns gespeel. Met die afglyslag van die glyplank af, het Louwrens teen die een hond gebots. Dit het ‘n kettingreaksie aan die gang gesit wat lewens sou verander. Die hond het geskrik, vir Louwrens gegryp en hom begin rondsleep.

Louwrens het op ‘n hoë bed in die ondersoekkamer gelê toe sy pa instap. Sy pa kon nie glo dat ‘n kind so baie bloed in hom kan hê nie. Alles was rooi deurdrenk. Louwrens was bewusteloos, doodsbleek. Vir ‘n hartstoppende oomblik het sy kleur en die baie bloed sy pa laat glo dat hy dood is, maar daar was so af en toe ‘n rukbeweging. Sy kopvel en een oor was afgeskeur. Sy bo-arm was vol gate gebyt. Sy rug het skeure en tandmerke gehad. Die dokter het verduidelik dat die ontbyt wat Louwrens kort tevore gehad het, hom verhoed om dadelik te opereer. Louwrens se pa het na sy seun se bebloede, ontblote kopbeen gestaar. Die seuntjie was besmeer van bloed, hondespoeg en modder. ‘n Verpleegster het vir sy pa verduidelik dat sy seun skoongemaak moet word voordat hy teater toe geneem kan word. Sonder aarseling het Louwrens se pa gesê dat hy dit self sal doen. Die verpleegster het water met ontsmetmiddel in ‘n bad getap en gehelp om Louwrens se slap lyfie in die bad te tel. Louwrens se pa het met opgerolde broekspype op die bad se rant gaan sit met sy voete in die water. So sag as moontlik het hy sy seun se verminkte liggaam afgespoel.

En toe maak Louwrens sy oë oop. Die blou oë se blik het sy pa s’n vasgevang. Woordeloos, geluidloos, gehul in ‘n serene oomblik het hy gelê terwyl die lou water oor hom spoel. Die verpleegster het later teruggekom en gehelp om hom uit die rooibruin water te tel. Sy oë, dáárdie oë, was vasgenael op sy pa.

Die operasie was suksesvol en die wonde het genees. Louwrens het floreer by die skool. Skaak, Bulletjie-rugby en krieket. Sy karateteenstanders het nie ‘n teenvoeter vir sy unieke styl gehad nie.

Louwrens het op sy tiende verjaarsdag saam met sy ouers ‘n nuwe avontuur in ‘n nuwe land begin. In die nuwe land begin hoërskool op elfjarige ouderdom. Hy, Afrikaanse seun, begin sy Engelse skoolopleiding in die finale laerskooljaar. Hy moet “multiply” en “devide” terwyl hy skaars die betekenis van die woorde ken. “History” dek onderwerpe van Engelse konings en veldslae waarvan hy nog nooit gehoor het. Sy klasmaats is al ver gevorder met die leerplan vir Frans. Om dinge te vererger, skryf hulle eksamen in hierdie finale laerskooljaar, een wat bepaal op watter vlak hy hoërskool toe gaan. Nodeloos om te sê, Louwrens is in die “bottom set” vir al sy vakke in die hoërskool geplaas. Sy klasmaats is meestal kinders vir wie skoolwerk heel onder op die prioriteitslys is. Hy sukkel om homself in die klas verbaal uit te druk en teen boelies te verdedig. Hy word as dom geëtiketteer. Sy pa raak keelvol om by oueraande dieselfde afgesaagde storie te hoor van hoe agter die kind in die skool is, hoe hy nie oplet in die klas nie en hoe hy sy sokkies sal moet optrek. Sy pa glo egter vas in sy seun se vermoë en een sneeudag word sy geloof in sy seun verder versterk.

Die paaie is toegesneeu. Geen busse nie. Oor die radio kom berigte van talle skole wat gesluit is. Geen berig, egter, van Louwrens se skool nie. Lourens het die weer deur die venster dopgehou en angstig na die horlosie gekyk. Toe trek hy sy dik klere aan en durf die vyf kilometer skool toe te voet aan deur die dik sneeu. Hy kan nie skool mis nie, dalk is die skool nie gesluit nie.

Net voor middagete is hy terug by die huis. Die skool was gesluit. Sy pa het vir hom warm sjokolade gemaak en baie lank vasgehou. Sy pa was so trots op hom. Hy was ook trots toe Louwrens as flink en regop vyftienjarige weermagkadet op “Remembrance Day” in sy uniform aan ‘n parade deelgeneem het. Want, het sy pa skielik besef, Louwrens verteenwoordig vandag al die manne wat saam met sy pa destyds op die grens geveg en gesterf het. En sy oupa wat in die Tweede Wêreldoorlog was. Een Afrikaanse seun tussen die Engelse.

By die skool het dit egter nie goed gegaan nie. Die boelies en die aftakeling van party onderwysers het Louwrens se selfvertroue getap. Hy het teruggetrokke en afgesonder begin lewe en dikwels met geskeurde hemp of baadjie by die huis gekom. Selfs eendag met taai besmeerde hare en klere nadat iemand ‘n bottel Coke oor hom uitgekeer het. Op ‘n dag het Louwrens genoeg van die boelies gehad en die voorbok met een hou bo van die laboratoriumstoeltjie af geslaan. Nadat die onderwyser hulle al twee uit die klas gejaag het, merk voorbok op: “Respect mate. No-one has ever hit me that hard”. Die twee het vriende geraak, maar sy skoolwerk het nie verbeter nie. Die dokter het gesê dat hy aan Aandagafleibaarheidsindroom lei en wou medikasie voorskryf. Sy pa het gekeer en besluit om ‘n ander plan te maak.

Op sestien het sy pa hom uit die skool gehaal en by ‘n kollege ingeskryf. ‘n Nuwe begin op ‘n nuwe blaadjie. Met baie liefde en baie aanmoediging het hy sy kursus voltooi en vir ‘n graadkursus ingeskryf.

Louwrens se pa was so trots toe hy Honneurs B Sc in Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Essex verwerf het. Hy was twee-en-twintig, die Afrikaanse outjie wat enkele jare tevore nie geweet het wat “multiply” beteken het nie. Sy selfvertroue is terug. En die ondeundheid flikker weer in sy oë.

Dáárdie oë.