RANGEER-OOMBLIKKE

RANGEER-OOMBLIKKE

Vanoggend vang ‘n televisieprogram se titel my oog. One day that changed my life. Ek is seker ons het almal sulke dae. Eintlik nie eers dae nie. Dit kan ‘n oomblik wees, selfs ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Waterskeidingmomente.

Ek het sommer heelwat sulke oomblikke gehad. Ek noem dit rangeer-oomblikke – daardie moment waar jy besef dat iets pas gebeur het wat jou lewe onherroeplik in ‘n ander rigting stuur. Jy is op ‘n ander spoor gerangeer. Dikwels gepaardgaande met groot groot pyn, teleurstellings en hartseer, maar ook baiekeer met vreugde en ‘n lied in die hart.

Soos daardie eerste kontaksessie op die grens waar jy as agtienjarige soldaat vir die eerste keer ‘n mens in jou visier het – en die sneller trek. Dáárdie spoor het jou na nagmerries en lang, donker nagte van bepeinsing geneem. Geen omdraaikans nie.

Ek onthou ook die dag in 2002 toe ons na die raadsaal geroep is – al die afdelingsbestuurders. Toe ons daar uitstap, was ons werkloos – ons en ongeveer 1300 ander werknemers van Saambou en sy filiale. Sestien jaar later sit ek hier in Engeland op my rekenaar en tokkel – iets wat daardie oggend in 2002 ondenkbaar was.

Dan was daar die Oujaarsaand, net sommer annerdag, toe ek met warm sjokoladedrankies (wintertyd hier by ons!) die trappe opgestap het – gereed vir die Nuwejaarskonsert op TV. Eers ignoreer ek die pyn in my bors, maar toe ek begin duiselig voel, bel vroulief die ambulans. Terwyl sjampanjeproppe klap en vuurwerke die naglug verhelder, loei die sirenes en ek staar in die gerusstellende oë van die nooddiensmeisie agterin die ambulans.

Daar was ook die meisie met die groen rok wat die voordeur oopgemaak het, baie sakke sout gelede. Dit het my vyf minute in haar teenwoordigheid geneem om te besef dat ek met my toekomstige vrou gesels. Enkele maande later is ons verloof en vandag, 38 jaar sedert sy my gemesmeraais het, is sy steeds my mesmeraasing rots (my bruid vir 36 jaar).

Ons weet nie watter pad ons Rangeerder vir ons in gedagte het nie. Soms kies ons ook halsstarrig sommer eie koers en pluk die vrugte van ons besluite.

Twee dinge het die lewe my egter geleer. Ons ken nie more of selfs netnou se pad nie. Verwag om gerangeer te word. Dis die gang van die lewe. En, wanneer jy gerangeer word, hol voluit op jou nuwe spoor – tot by die volgende rangeerpunt (of dalk die eindpunt).

Soos Rachel. Rachel Bland was ’n BBC aanbieder, jonk en mooi met ’n liefdevolle man en driejarige seuntjie. In November 2016 is sy op ’n spoor gerangeer – daardie gevreesde kankerspoor. Tydens haar siekte het sy en drie vriendinne, wat almal deur kanker geraak is, ’n podsend (“podcast”) begin, You, Me. and the Big C (https://twitter.com/hashtag/YouMeBigC?src=hash) , waar openlik oor die siekte gepraat is. Daar is saam gelag en gehuil en die program het duisende volgelinge gehad wat deur die eerlike aanbiedingstrant vertroos is. Op ’n stadium het sy, byvoorbeeld, met die volgelinge gedeel dat sy pas gehoor het dat haar siekte is ongeneeslik, maar dat sy tot die einde sal veg. Op 3 September, enkele dae gelede, plaas sy haar laaste bloginskrywing:

“In the words of the legendary Frank S – I’m afraid the time has come my friends. And suddenly. I’m told I’ve only got days. It’s very surreal. Thank you so much for all the support I’ve received. Debs and lozz will continue with the #youmebigc podcast. Au revoir my friends.”

Twee dae later is sy oorlede.

1_Rachel-Bland-3

((Foto: Rachel Bland Blog – Big C. Little Me)

Whitney Houston het gesing:

Each day I live

I want to be

A day to give

The best of me

I’m only one

But not alone

My finest day

Is yet unknown …

Mag jy by die eindstreep terugkyk op jou spoorbane en jubel: “Sjoe, wat ’n reis!”