DIT KON ERGER GEWEES HET

DIT KON ERGER GEWEES HET

(Na aanleiding van die tragiese gebeure op Stella)

condolence-4

Lank gelede lees ek eendag die storie van ‘n man wat die positiewe in elke slegte situasie gesien het. Ek onthou die detail van die storie nie meer so mooi nie, maar die storie het tot vandag toe ‘n impak op my uitkyk gehad. Hier is my verkorte weergawe van die storie.

‘n Diep gelowige man het hom nie deur die lewe se stampe, stote en selfs tragedies laat onderkry nie. Met elke terugslag het hy sy bekende slagspreuk gebruik: “God is groot. Dit kon erger gewees het”.

Soos die aand toe die gesinswoning afgebrand het en hy saam met sy vrou en kinders staan en toekyk hoe die brandweer tevergeefs die huis probeer red het. Bure en vriende skaar hulle rondom die gesin en simpatiseer en hoor sy bekende refrein:

“God is groot, dit kon so veel erger gewees het.”

“Ja? Om alles wat jy oor jare bymekaar gemaak het te verloor moet sekerlik een van die ergste dinge wees,” wil ‘n buurman weet.

Met dié sit die man sy arms om sy gesin en trek hulle styf teen hom vas. “My heel kosbaarste skatte is steeds by my.”

Enkele jare later word hy ernstig in ‘n motorongeluk beseer. Sy motor is afgeskryf en sy regterbeen moes by die knie geamputeer word.

Toe hy na ‘n week in die hospitaal uit ‘n koma bykom, hoor vriende rondom sy bed weer daardie bekende refrein: “God is groot, dit kon so veel erger gewees het.”

“Jou been is af, jou kar is afgeskryf en jy gaan nog weke in die hospitaal wees om te herstel.”

“Ja, dit is so, maar met God se hulp gaan ek tog herstel en is ek gespaar om die wonder van sy genade te beleef, saam met my gesin.”

Hierdie uitkyk van hom het enkele mense hoogs geïrriteer. Dit was amper asof hulle iets gesoek het wat “nie erger” kon wees nie.

Op ‘n dag gebeur dit toe. Een aand laat is daar ‘n klop aan die deur. Die polisie bring vir hom die slegste tyding denkbaar. Sy seun is vermoor.

Op die begrafnis is hy ontroosbaar. Een van die begrafnisgangers, een van dáárdie wat iets gesoek het wat “nie erger” kon wees nie, staan nader.

“Ou maat, ek is so jammer vir jou. Hierdie moet seker die heel ergste ding wees wat met iemand kan gebeur. Niemand wil ‘n kind verloor nie.”

Verwese en deur sy trane kyk die man na die ander begrafnisganger en na ‘n kort verposing kom sy bekende refrein: “God is groot, want dit kon wel erger gewees het”.

“Wat! Wat kan erger as dit wees? Jou kind is dood.”

“Ja, dis waar. My kind is dood…”

Hy staar ‘n hele ruk na die graf, sug dan diep en prewel: “… maar my kind kon die moordenaar gewees het.”

******

Hierdie storietjie kom toe weer by my op toe ek lees van die jong seun wat die twee tienermeisies daar in die koshuis op Stella vermoor het. Ek is so verskriklik jammer vir die ouers van die twee meisies.

En my hart bloei vir jong man se pa en ma.