LAAT ONS NOOIT VERGEET NIE …

LAAT ONS NOOIT VERGEET NIE …

Memorial Day 1Hierdie tyd van die jaar, hier in Engeland, hol my emosies mos met my in rigtings in waar ek nie wil wees nie. En dit nogal heel dikwels voor die kinders. Toe my ou seun, Etienne, nou anderdag my waterige oë sien, het hy heel begripvol (nogal vir ‘n jongman van sy ouderdom) stilgebly en my lomp aan die arm en later om die lyf gevat.

Hier in Engeland maak hulle ‘n groot ophef van Remembrance Day (11 November) waar hulde gebring word aan soldate. Emosiebelaaide geleenthede word op TV gewys, by skole aangebied en in die koerante vertel in aanloop tot die dag.

My Oupa Chris was ‘n bombardier in die Tweede Wêreldoorlog en as kind het ek aan sy lippe gehang wanneer hy van sy tyd in Noord-Afrika vertel het. Ek was baie trots op dié oupa van my. Van sy kleintyd af het ou Etienne ‘n geweldig fassinasie vir alles wat met soldate te make het. Rolprente, foto’s, militêre musiek, wapens en vliegtuie. En so besluit hy destyds, as dertienjarige, om by die plaaslike tak van die Army Cadets aan te sluit. Ook in daardie jaar by kleinboet Stephan se skool is ‘n week afgestaan om die kinders bewus te maak van hoe lewe tydens die oorlog was en is die kinders aangemoedig om enige iets van die huis af saam te bring wat uit daardie era dateer. Daar is opstelle geskryf waar die storie uit die oogpunt van ‘n kind uit die negentienveertigs vertel moes word en aan die einde van daardie week het hulle toe ‘n ope dag gehou waar al hierdie dinge uitgestal word en die kinders aangetrek het soos destydse kindertjies. Daardie Sondag is Etienne toe ook deel van ‘n gedenkparade, kompleet met militêre orkes, uitgedos in sy uniform. En toe tref dit my, so saam met die knop in die keel en die waterigheid by die oëlangs: Hierdie twee Suid-Afrikaanse boeties neem in hierdie dae hier in die verre vreemde ‘n groot ding op hulle skouers. Hulle verteenwoordig nie net hulle soldaat-oupagrootjie nie, maar al die Suid-Afrikaanse soldate wat oor die jare heen opofferings gemaak en die hoogste prys betaal het. Ek wou ontplof van trots!

ARMY CADETS

Op TV was daar so ‘n aangrypende reeks – ‘n heruitsending. Hulle het gepraat met  ou mense wat kinders was tydens die Eerste  Wêreldoorlog. Daar het stories uitgekom wat die hartsnare gepluk het. Maar ook een van die wonderlikste stories wat ek ooit gehoor het.

Die ou tannie vertel dat sy so sewe en haar boetie vyf was. Haar pa, die broodwinner, is kort tevore op die slagveld doodgeskiet en  hulle het werklik swaar getrek. Haar ma het wasgoed vir mense gewas om die karige weermagpensioen wat haar pa nagelaat het, aan te vul. Die aand voor Kersfees het haar ma nog gewerk en sy en haar boetie het in die dorpie se sneeubedekte hoofstraat na die versierings in die winkelvensters gaan kyk. Hulle was baie opgewonde oor die volgende dag, want hulle ma het gesê dat hulle “bacon and egg for Christmas dinner” kan kry. Terwyl hulle van die een winkelvenster na die volgende gedrentel het, het hulle by ‘n speelgoedwinkel vasgesteek en hulle verstom aan die pragtige speelgoed wat uitgestal is. ‘n Deftige vrou het langs hulle kom staan en gevra hoekom hulle nie ingaan nie, want dit is snerpend koud buite (Kersfees in die noordelike halfrond!). Hulle was huiwerig, want, omdat hulle nie geld gehad het nie, was die winkeliers altyd kwaai met kinders wat in die winkels rondgedrentel het. Hulle het vir die vrou gesê dat hulle nie mag ingaan nie.

“Maar natuurlik mag julle. Kinders is altyd welkom in ‘n speelgoedwinkel”. En met dié neem sy hulle aan die hand en lei hulle die speelgoedwinkel binne.  Dit was vir hulle ‘n wonderlike oomblik. Hier het hulle ‘n ding bewonderend opgetel en daar verlangend oor iets anders gestreel, min wetende dat hulle fyn dopgehou word. Toe hulle wou loop, keer die vrou hulle en sê hulle moet net ‘n rukkie wag. En daar koop sy vir hulle elkeen ‘n armvol speelgoed – die goed waaraan hulle so begerend geraak het. Hulle wou dit eers nie neem nie, want hulle ma sou wonder.

Maar die vrou sê toe vir hulle: “Please take these presents from me and tell your mother that, tonight, you have met Mother Christmas”.

En dan was daar ook die vertelling van die ou oom wie se oë na al die jare steeds vol trane skiet wanneer hy onthou van sy ma wat nooit weer getrou het nadat sy pa doodgeskiet is nie. Sy was te lief vir haar man gewees en het tot met haar dood swart gedra. Elke keer wanneer sy vir haar ‘n nuwe rok gemaak het, het sy die ou rok se knope afgesny en aan die nuwe rok gewerk.

Want dit was die swart knope van sy pa se uniform.

En ook die ou tannie, Gertrude, wat vertel hoe haar pa, na maande se oorlewing in die loopgrawe, met verlof huis toe gestuur is. Haar pa het gely aan, wat vandag bekend staan as posttroumatiese stres as gevolg van sy ontberinge. Vandag kry soldate behandeling, maar destyds was dit onbekend.

Gedurende sy hele verlof het hy meestal in die kamer gebly, baie gehuil, selfs snags in sy slaap, en byna niks geëet nie. Volgens foto’s was hy ‘n baie aantreklike, forse man. Aan die einde van sy verlof wou hy nie weer terug slagveld toe gaan nie en het soos ‘n bang kind in die kamer gehuil en weggekruip. Na vele dreigemente van sy bevelvoerders, is ‘n sersant met ‘n groep soldate gestuur om hom te gaan haal. 

Dieselfde middag het hy voor ‘n krygsraad verskyn en is skuldig bevind aan lafhartigheid. Die volgende oggend teen dagbreek is hy deur ‘n vuurpeleton tereggestel.

SHOT AT DAWN MEMORIAL

En daar bly sy en haar ma toe agter met die vernederende geskinder en kyke en gefluister van die gemeenskap. Haar pa is as lafaard tereggestel, en dit staan ook so op sy graf. Sy weermagpensioen, hulle enigste inkomste, is twee maande later gestop en toe die landlady, by wie hulle die huis huur, dit hoor, het sy hulle beveel om die huis dadelik te ontruim. Hulle was platgeslaan en verneder. ‘n Ruk later het ‘n ryk plattelandse gesin haar ma werk aangebied en hulle het by hierdie gesin ingetrek. Die mense was geweldig goed vir hulle gewees en die klein Gertrude is soos een van die gesin se kinders grootgemaak. Haar ma het tot haar dood toe geveg om haar pa se naam skoon te kry en ná haar dood het Gertrude daarmee aangehou.

Nie te lank gelede nie het Gertrude (destydse klein dogtertjie, wat toe in al in haar laat negentigs was) na ‘n lang hofsaak, ‘n sertifikaat gekry waarin haar pa en meer as 300 ander soldate wat dieselfde lot gehad het, se name in ere herstel is. Haar pa het nou ‘n ander grafsteen.

GERTUDE FARR SAAM MET AGTERKLEINSEUN

Ná Remembrance Sunday se landswye parades en herdenkingsdienste is elke oorlogsmonument in elke dorpie getooi in kranse van rooi poppies. Een van die monumente het ‘n nuwe inskripsie: Private Henry Farr. Sy trotse dogter, Gertrude, het  broos en kromgetrek vir die eerste keer ‘n krans by hierdie monument gelê. Haar pa was haar held en uiteindelik saam met miljoene ander soldate, ‘n held in die groter geheel.

Remenbrance Day

 

 

 

 

 

 

 

Ek glo dis belangrik om alle aspekte van die geskiedenis te onthou. Party om oor jubel en ander om ons te herinner aan foute wat gemaak is.