‘N MAAND MAAK ‘N GROOT VERSKIL

Talisa Soto

Talle sangers het al vir ons gesing What a difference a day makes . Ek ken nie ‘n lied wat vertel hoe groot verskil ‘n maand kan maak nie, maar iemand hoef dit egter na dese nie vir my te sing nie – ek wéét dit.

Verlede maand het ek my misnoë met die vertoning van die verlepte Proteas teen ons bure baie duidelik gestel. ‘n Maand later sluk ek al daai woorde met ‘n koue Charles Glass-drankie af. Nee kyk, dit was ‘n kragvertoning deur onse magte Protea-sterre. Ek kon nie die hele wedstryd kyk nie, maar verstaan dat Amla glad geskeer was toe hy begin kolf het. Nou vir die tweede toets en die reeks!

Ek was ‘n klein seuntjie toe Ursula Andress as Honey Ryder met twee skulpe in die hand en ‘n wit bikini uit die see gestap het.

Agterna het talle Bond-meisies die oog gevang. ‘n Goud-geverfde Shirley Eaton,

Jane Seymour se bene,

en die smeulende skoonheid van Taliso Soto.

Niemand sou egter ‘n maand gelede geld verwed het dat die koningin van Engeland haar rolprentdebuut as die nuwe Bond-meisie sou maak nie. Met corgi’s en al! Was dít nou skouspelagtig of wat?

Nog al die jare het ek twee herinneringe aan Vangelis se Chariots of Fire  gehad. Die een herinnering bring beelde van ‘n jong Bruce Fordyce wat met blonde, wapperende hare oor die wenstreep van die Comrades-wedloop hardloop. Terwyl die lied se inspirerende akkoorde deur die stadion spoel, verklap niks aan die merkwaardige atleet se houding dat hy pas byna 90 kilometer gehardloop het nie. Ek het die lied ook altyd  met my en vroulief se eerste date  ge-assosieer – die eerste fliek wat ons saam gesien het. Terwyl die manne in wit so in stadige aksie op die strand hardloop, het die pragtige meisie aan my sy my hart en hormone in overdrive  gegooi.

Mr Bean het egter vir altyd al hierdie herinneringe met ‘n sambreel uitgewis. Hoe sal ek nou voortaan anders na die lied kan luister?

Ek gaan dit nie noem nie – netnou word ek van dinge beskuldig – want  twee maande in ‘n ry het ek melding gemaak van buitengewone nuusberigte die laaste tyd oor ons manne se goete en so aan. (Wragtag, anderdag sien ek van daai welbedeelde ou in Amerika wat op die lughawe voorgekeer is omdat daar ‘n vermoede was dat hy dalk iets in sy broek wou deursmokkel…)

Maar ek sal nie daaroor skryf nie.

Kom ons braai eerder. So ‘n lekker stuk Boerewors saam met pap of Mrs. Balls. Ek sien rolletjies  met regte egte Engelse Boerewors het vir  £6.50 op Lords verkoop! Iewers moes die Engelse darem score.