MUSIEK SE ONTHOU
As ongetroude jong man, pas uit die weermag geklaar, het ek by Standard Bank in Bloemfontein gewerk terwyl ek met my deeltydse studies besig was. Die Bank het ‘n agentskap op Thaba Nchu, so ‘n rapsie meer as 70 kilometer van Bloemfontein af, gehad. Elke oggend het ek en Herman (nie sy regte naam nie) die pad daarheen in die bank se grys Peugeot 404 aangedurf met Wesley Kekana, die bode-skoonmaker-teeman, alles in een, op die agtersitplek. Die geldtrommel en leersakke met geld is sommer in die kattebak gelaai. Ek en Herman het elkeen ‘n Colt .38 op die heup gehad om onsself mee te verdedig en die geld te beskerm, maar tot my groot teleurstelling was daar nooit regtig enige aksie en rede om te kyk of die rewolwer darem sy werk kon doen nie.
Etenstye het ons die bank se deure gesluit en kosblikke nadergetrek. Wesley het soms vir hom by die Griek se kafee om die draai ‘n halwe brood en ‘n pak slaptjips gaan koop. Partykeer met ‘n stukkie hoender of ‘n bakkie kerrievleis, dit hang net af hoe na aan pay day dit was. Soms het ons vir Wesley geld gegee om vir ons ook tjips te koop. Dan sit ons drie agter die toonbank by ‘n ou bruin houttafel en eet en drink tee wat Wesley gemaak het. Ons gesels oor alles en nog wat. Die radio wat ek saamgeneem het, speel musiek in die agtergrond.
Herman was bietjie ouer as ek en getroud. Eendag speel daar ‘n lied oor die radio en Herman bars in trane uit. Hy huil ontroosbaar. Ek en Wesley staar geskok na die snikkende man. Dit het my opgeval dat hy merkbaar stiller die voorafgaande klompie dae was. Wesley het half onbeholpe nadergestaan toe ek opstaan om my arm om sy skouers te sit.
“Hey Pel, wat’s fout jong?”
Met sy sakdoek voor sy gesig neem dit ‘n tydjie vir hom om tot bedaring te kom. Sy oë is rooi toe hy eindelik sy sakdoek laat sak.
“Verlede week het ek ‘n ander man saam met my vrou in die bed betrap. Sondag toe vertel sy my dat sy uit die huis uit trek.” Steeds snikkend.
“Herman, nee mannn …”
“Ja, Sondagaand daag die perd daar op om haar te kom oplaai. Ek het met die pistool in my hand op die bed gesit om die twee te gaan skiet.”
“O nee!”
“Jaaa … ek wou regtig, maar ek is so lief vir haar dat ek dit waarskynlik nie sou doen nie. Toe ek in die sitkamer kom, toe hoor ek net daar ry hulle.”
So twee weke later het hy homself in die kop geskiet.
Vandag, toe Gheorghe Zamfir se panfluit die note van The Lonely Shephard so deur die motor se luidsprekers stuur, toe onthou ek weer daardie dag, lank gelede, toe Herman so gehuil het toe die lied begin speel het.
Ag en toe kon ek self nie die trane keer nie. Musiek doen dit soms aan mens.
Tsk!