SKULDGEDREWE TOEWYDING

SKULDGEDREWE TOEWYDING

flying-fortress-1030x533

Die groep seuntjies het in die groot park bymekaar gekom om ‘n geskil te besleg. Gewoonlik speel hulle sokker hier in Endcliffepark.

‘n Koue middag, 22 Februarie 1944. Sheffield, Engeland.

Agtjarige Tony Foulds kyk op toe hy die gedreun van vliegtuigenjins hoor. Hy staan grootoog en kyk hoe laag die enorme B-17 Flying Fortress-bomwerper oor die park kom draai. Die groepie seuns waai ewe uitbundig terug in reaksie op die bemanning se geanimeerde armswaaie, net-net sigbaar deur die bomwerper se glas-neusseksie. Die vliegtuig maak ‘n skerp draai en verdwyn agter die bome in ‘n vuurbal en ‘n donderende slag.

Die Mi Amigo, met sy Amerikaanse bemanning van 10, was op ‘n sending om ‘n bom op ‘n Luftwaffe-lughawe in Aalborg, Denemarke af te gooi. Oor die Noordsee het hulle egter in ‘n eskader Duitse Focke-Wulf FW90’s en Messerschmitt BF109’s vasgevlieg en is erg beskadig. Die bombardier, tweede-luitenant Hernandez, was bewus van die duisende burgerlike Dene op die grond en het besluit om nie die bom te los nie aangesien die teiken versluier was agter ‘n dik wolkemassa. Die bom is toe skadeloos oor die Noordsee laat val terwyl hulle probeer terug basis toe hinkepink het.

Hulle navigasietoerusting is ook flenters geskiet. In ‘n poging om na die Northamptonshire-basis in Engeland terug te sukkel, het hulle totaal van koers af geraak. Niemand weet hoeveel van die bemanning toe reeds dood was nie. Hulle het besef dat hulle dringend moes land en het vir ‘n geskikte plek gesoek toe hulle die groot park in Sheffield gewaar. Nadat hulle een keer gesirkel het om te kyk of hulle wel daar kan land, het hulle gereed gemaak vir die landing. Dit is toe dat hulle van die seuntjies bewus geraak en vervaard vir hulle beduie het om uit die pad te kom. Die seuntjies het egter net teruggewaai.

Op daardie stadium was die vliegtuig al so laag en omdat die die vlieënier nie die seuntjies se lewens in gevaar wou stel nie, het hy ‘n laaste poging aangewend om weer in die lug te kom en vir ‘n ander landingsterrein uit te kyk.

Dit was egter te laat.

Al tien bemanningslede het omgekom.

CREW OF MI AMIGO

Die hele insident het so ‘n groot impak op klein Tony Foulds gehad, dat hy sy lewe daaraan gewy het om die gedenksteen, wat in die park opgerig is, in stand te hou.

CREW MEMBERS MI AMIGO

Tydens ‘n televisie-onderhoud vertel Tony, vandag ‘n man van 82, van sy skuldgevoelens oor daardie dag: “Ek was net agtjaar oud. Ons het nie geweet hulle wou daar land nie. En nou is hulle almal dood.”

Sy hande bewe so, dat hy sukkel om die sakdoek, waarmee hy die trane wil afvee, uit sy sak te kry.

“Die bewerigheid kom van daai dag af. Die dokter sê dis van skok en skuldgevoelens,” vertel hy tussen trane deur. “Jy weet, as ons nie daar was nie, dan het die bemanning heel waarskynlik oorleef”.

Sedert die monument opgerig is, hou hy pligsgetrou die plek netjies en in stand en plant gereeld blomme daar. Hy ken elke bemanningslid se naam en agtergrond. “Hulle is soos familie vir my, jy weet.”

Later vandeesmaand word sy droom bewaarheid.

Op 22 Februarie gaan RAF Lakenheath en RAF Mildenhall, twee Amerikaanse lugmagbasisse in Engeland, ‘n verbyvlug hou. Die geleentheid val saam met die 75ste herdenking van hierdie tragiese gebeurtenis.

 

TONY FOULDS

TONY FOULDS