‘N NUWE JAS VIR 2016

jas

Baie van my geslag se manne het nog steeds hulle weermaguniform. Hy pas lankal nie meer nie, maar hy dra swaar aan herinneringe van lank gelede. Opleiding in bloedige hitte of snerpende koue op De Brug buite Bloemfontein flits terug wanneer ouer hande oor die skietbalkie streel. Die silwer vlerkies vul jou lyf met adrenalien en jy asem weer Dakota-dampe in tydens die springkursus. Die klank van volstruise en geure van Karoobossies ontplof met sammajoor Pearce se blaf in jou kop tydens die leierskursus en dan onthou jy weer daardie trotse oomblik met die rangteken in jou hand. Die Pro Patria-medalje laat jou onwillekeurig met toegeknypte oë op jou hurke sak wanneer die reuk van stof en rook en bloed jou neusgate vul. Die uniform is skoon – gedroogskoonmaak. Daar is geen teken van al die vlekke wat agter elkeen van daardie blink goed op die uniform sit nie. Vlekke van bloed, sweet en trane…

Elkeen van ons het so ‘n kledingstuk. Elkeen. Vanaand, wanneer ons ons 2015-jas uittrek, gaan ons hom bekyk. Die sousvlek op die bors gaan dadelik smake terugbring van ‘n ete saam met dierbares. Die dag toe die lewe jou so ‘n dwarsklap gegee het dat jou neus gebloei het, se rooi vlekke is ook nog sigbaar. Wit sweetmerke onder die arms getuig  van ‘n gesukkel by die werk of met die trek of die kar. Daar is die vlekke wat trane gelaat het. En die groot winkelhaakskeur wat by die begraafplaas opgedoen is. Die af knoop van teleurstelling en die modderkol op die sitvlak toe jy uit pure moedeloosheid sommer op die grond gaan sit het.

En dan is daar ook die lapelwapentjies van nuwe plekke wat jy besoek het en erewapentjies en goue sterre van prestasies en ander hoogtepunte. Persoonlike mylpale waarop jy trots is.

Om middernag trek ons die jas uit en pak hom weg in die kis van herinneringe. En dan kry elkeen van ons ‘n splinternuwe jas om aan te trek. Die lewe gaan weer dwarsklappe uitdeel en daar gaan weer vlekke op die nuwe jas kom. In so baie gevalle bepaal die roete wat ons loop watter vlekke en wapentjies ons gaan kry.

Kies jou roete vir 2016 sorgvuldig – met jou splinternuwe jas aan.

Mag 2016 se vlekke vir jou spogwapentjies bring en ook winkelhaakskeure van heerlike avonture en slegs trane van blydskap.

 

OUKERSAAND 1942

OUKERSAAND 1942

VENSTER

Gebaseer op ‘n ware verhaal.

Die tweetjies drentel laatmiddag deur die sneeubedekte hoofstraat van ‘n dorpie in Noord-Engeland. Die dogtertjie en haar boetie. Dis reeds donker, winterdonker. Oukersaand 1942. Mense skarrel om laaste inkopies voor Kersfees te doen. Hierdie jaar is daar ‘n atmosfeer van hoop in die lug – die oorlog het ‘n draaipunt bereik, so glo baie. Deur die sneeuvlokkies en koue beur ‘n groep jongmense se stemme daar van die stasie se kant af met die melodieë van Kersliedere. Die twee kinders is koud; by die huis is dit ook maar koud en alleen met Pa iewers in Noord-Afrika  en Ma wat nog werk. Ma was en stryk klere vir ‘n inkomste en kom meestal eers laataand huis toe.

“Hy sál huis toe kom,” troos Ma elke aand die seuntjie wanneer sy in die vraende, donker oë kyk terwyl sy hom in sy bed toevou. Hy weet sy troos eintlik haarself, want hy kan sien hoe haar oë soms opwel, al probeer sy dit wegsteek. Die vorige aand het haar traan ‘n kolletjie op sy kussing gemaak toe sy afbuk om hom te soen. Later, lank nadat die lig afgeskakel is, was die kussing baie natter, want hy wou nie hê dat sy ma en sussie moes hoor hy huil nie. Hy was vier toe sy pa vir hom gesê het: “Seun, van more af is jy die man in die huis”. Hy het toe nog nie geweet dat sy pa nooit weer huis toe sou kom nie.

Die seuntjie se hand is in sy ousus s’n; hulle skoene maak knarsend twee rye spore in die sneeu al in die hoofstraat af. Winkelvensters lok met blink versierings. Hulle is al honger. Ma sal vanaand kos bring. Hulle sien uit na more, want Ma het lankal gesê dat sy sal kyk of hulle vir Kersfees spek en eier kan eet. Met handjies teen die groot venster van ‘n speelgoedwinkel staar hulle in verwondering. Die kinderasems maak wolke teen die glas. Agter die venster speel ‘n bliksoldaatjie trom en ‘n wolbeertjie slaan simbale. ‘n Babapop staar grootoog terug na die dogtertjie. Seuntjie-oë volg ‘n treintjie, al in die rondte. Droom, net droom – daar is skaars genoeg geld vir kos, wat nog te sê speelgoed.

“Hoekom gaan julle tweetjies nie in nie?” bring ‘n stem hulle terug van Wonderland af. ‘n Deftige vrou met ‘n pelsjas aan glimlag vriendelik.

Hulle is te skaam, byna verbouereerd om te antwoord.

“Toe, gaan in. Dis koud hier buite,” moedig die vrou hulle aan.

“Ons mag nie ingaan nie, Tannie.” Die seuntjie trek aan sy sussie dat hulle moet loop.

“En hoekom nie?” wil sy weet.

“Die oom jaag ons uit, hy sê ons gaan sy goed steel.”

“Nonsens. Speelgoedwinkels is vir kinders, kom ek vat julle in.”

Hulle volg haar huiwerig. Binne is dit warm. Speelgoedland!

Die vrou hou hulle dop, kyk hoe die dogtertjie versigtig aan ‘n babapop raak. Sy sug ‘n hunkersug en haal ‘n kantsakdoek uit haar handsak om haar oë te klad. Later koop sy vir hulle warm sjokolade en neem hulle in ‘n duur swart motor huis toe.

Kersoggend is daar ‘n klop aan die deur. Die kinders hol agter hulle ma aan om te kyk wie dit is. ‘n Man met ‘n chauffeer-uniform staan voor die deur – sy arms vol geskenke. Ma dink die man is by die verkeerde adres. In die straat staan ‘n deftige swart motor.

“More Mevrou en ‘n baie geseënde Kersfees vir u. Die kinders sal weet van wie die pakkies kom. O, en as dit reg is met u, wil Mevrou Mountjoy u graag uitnooi om vandag by haar te kom eet. Sy en haar man is alleen… hulle seun het verlede jaar saam met die HMS Hood ondergegaan. Ek kan later vir Mevrou en die kinders kom oplaai. Sal 12-uur u pas?

Eer aan God in die hoogste hemel

En vrede op aarde

Vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.

WINDE VAN VERANDERING?

 

SA unitedOoeee, maar onse president het hierdie keer ‘n groot kat tussen die duiwe gaan ingooi. Die duiwe  gaan nog lank vat om al die vere weer plat te kry. Kyk, teen hierdie tyd behoort ons al gewoond te wees aan die verrassings wat hy op ons loslaat, maar steeds vang hy ons en sommer die hele wêreld onkant met nuwe stommiteite.

Sommer met die wegspring moet ek verduidelik dat ek dalk net op ‘n toon of twee kan trap en dat my beskeie (sommige mag dink naïewe) mening van joune mag verskil.

Hier, baie kilometers van Suid-Afrika af, is ek aangewese op die media om my in te lig oor die stand van sake in my geliefde land. Ek lees hoofsaaklik Suid-Afrikaanse koerante om nuus uit daardie kontrei te kry en dit is dan ook daar waar ek gebombardeer word met die lief, maar merendeels die leed van my ou volkie. En dis ook daar, in die kommentare onderaan die berigte, waar ek sien hoe my volksgenote mekaar aan die keel gryp, in tale op mekaar skreeu, en vriende mekaar goed toesnou  wat normaalweg vir vyande uitgepak word. Wat my laat wonder het of ons nie ons eie grootste vyand is nie. As ons mekaar, mense wat dieselfde taal as ons praat, so wil verrinneweer, hoe kan ons ooit hoop om saam te trek met karperde wat anders as ons geteel is. Ek wou egter weet hoe dit werklik gaan en het onlangs vir ‘n groep Suid-Afrikaanse vriende gevra om vir my te vertel.

Baie respondente het vir my gevra watter beeld word van Suid-Afrika in die buiteland geskilder. Dit is wel so dat die ekonomiese markte heftig gereageer het, maar verder het die opskudding in Suid-Afrika nie werklik noemenswaardige rimpels buite die landsgrense gemaak nie. Oscar Pistorius het baie meer aandag in die media gekry. Baie mense weet nie eers waar Suid-Afrika is nie (glo dit nou of nie!). Maar dink nou so bietjie, in die tye waarin ons leef waar elke ou maar vir homself veg vir ‘n sonkol, hoeveel weet jy van wat in ander lande aangaan? Weet jy van Brasilië se politieke probleme en uitdagings en dat hulle pas ‘n nuwe president gekry het? Die verontwaardiging word met groot fanfare in Brasilië uitgebasuin dat die uittredende president geweier het om die inhuldiging van die nuwe man, Maricio Marci (ken jy die naam?) by te woon. Die res van die wêreld gee nie werklik om nie – elke ou keer net vir sy eie kolletjie onder die son. Suid-Afrika moet dus nie wag vir een of ander internasionale helpende hand om te kom red nie. Die inwoners sal dit self moet doen.

Daar is egter hoop. En nou wonder ek of dit dalk nog te vroeg is om dit te voorspel (nie dat ek en Nostradamus enige iets in gemeen het nie) maar ek glo vas dat Zuma se nuutste manewales dalk net moontlik ‘n keerpunt was, ‘n bedekte seën. Die laaste strooihalm op die kameel se rug. ‘n Wind wat verandering gaan bring  is besig om op te steek (en dan wag ons nou net vir nog ‘n wind om ‘n einde aan die droogte te maak!)

Vier dinge is egter nodig om die winde van verandering momentum te gee.

Ons vertrekpunt moet wees, geloof – dieselfde geloof (nie noodwendig dieselfde taktiek nie) waarmee ons voorvaders die talle uitdagings van die verlede die hoof gebied het. Geloof in jouself (jy kán – moenie vir iemand anders wag nie), geloof in God (Hy kán – en Hy het al) en geloof in jou land – ons kán – en het al erger uitdagings oorkom).

Tweedens moet ons aanvaar dat ons in Afrika bly. Dinge in Afrika word totaal anders gedoen as in Duitsland, Amerika of Japan. Die kulture verskil heeltemal van die tradisies en gewoontes van Europa, Asië en Hawaii. Is dit PW Botha wat dit gesê het? “Adapt or die.”

Die derde ding wat moet gebeur, is dat die massas ingelig moet word. Die oorgrote meerderheid van die mense in Suid-Afrika – mense met stemreg – het nie die vaagste benul van wat die afgelope week (of enige ander tyd) gebeur het nie. Die hoofrede hiervoor is dat hulle nie toegang tot sosiale media of enige ander media het nie. Hulle kry verdraaide inligting so via die bostelegram. Die regering gaan hulle nie inlig nie, hulle bure kan nie en dus stem hulle volgende keer weer vir “Madiba se party” al is die meeste van die huidige lot nie werd om Madiba se skoenveters vas te maak nie. Ons, ek en jy, moet hulle dus inlig. Ons moet uit ons gemaksones kom en planne maak om die massas wat nie toegang tot moderne kommunikasie het nie, te vertel wat in die land aangaan. Op ‘n rasionele, kalm manier wat hulle nie gaan laat voel dat die enigste keuse die ANC of oorheersing deur die blankes is nie.

Wat my by die vierde voorvereiste bring – die regering. Oor die wêreld heen is daar baie min uitsonderings waar die inwoners tevrede is met die politieke party aan bewind. Politiek op sy beste is ‘n morsige ding. Dit maak dus nie saak wie aan bewind is nie, daar sal altyd probleme wees. Wat wel saak maak, is die gesindheid van die regeerders en hoe hulle op die probleme reageer. Dit was een van die ligpunte die afgelope tyd – die wyse waarop die lede (nou wel net ‘n klein groepie wat nie deur die hele opskudding geslaap het nie) gereageer het op hul leier se absurde besluite. In die agtergrond huiwer daar egter steeds, ala Mugabe en talle ander Afrikaleiers se styl – die magneet wat Zuma se trop bymekaar hou. En dis beslis nie lojaliteit nie. Almal weet dat dit die heuningpot is, die soustrein, beloftes van tenders en duur karre. (Ek het al gewonder of ek self nie ook ‘n Zuma-aanhanger sal word as hy my in die heuning en sous en dinge sal laat deel nie.) Suid-Afrika sal dus ‘n leier met integriteit, ‘n leier wat die belang van die hele land en al sy mense op die hart dra, moet identifiseer en vorentoe stoot. In Suid-Afrika skiet die moderne media by verre te kort om so ‘n leier se deugde onder die aandag van die bevolking te bring nie. Daar sal dus deur intelligente mense, soos jy, maniere gevind moet word om doeltreffend met die massas te kommunikeer.

Ons moet saamblaas en hard blaas om ‘n sterk wind te laat waai, ‘n wind van verandering. Die Zuma-asem moet weggeblaas word – tensy hy sy streke verander en sy asem agter die hele Suid-Afrika gooi.

Is dit wensdenkery? Ek dink nie so nie. Nie as ek kyk na die reaksie wat ek van vriende in Suid-Afrika gekry het juis op ‘n tyd toe ‘n Zuma-bom die land getref het nie. Die realiteite word in die oë gestaar, die vrese word erken. Maar daar is ‘n borrelende optimisme en geloof – dieselfde eienskappe wat ons in die verlede deur diep waters gehelp het. Hou in gedagte dat persoonlike omstandighede en situasies van persoon tot persoon verskil en dat dit die huidige uitkyk van individue op sake mag beïnvloed. Kom ons kyk na sommige reaksies:

(Elke kolletjie is een persoon se reaksie.)

  • “Ek kan vir jou vertel dat dit wat jy in die koerant lees die waarheid is, maar ek kan ook vir jou vertel dat God se genade steeds baie groot is”.
  • “Ek is ‘n Suid-Afrikaner in murg en been. My wortels is diep geplant in ons land, my siel sal nooit oorleef as die ou boom verplant moet word uit die Afrika-son nie. Maar, ons land het ‘n hartseerland geraak. Jy leef elke dag met ‘n bangheid en hartseer in jou hart, in die land waarvoor jy so lief is. Is ek ‘n pessimis? Nee, was nog nooit, maar op die oomblik is daar nie juis iets in ons land wat ‘n mens kan optimisties maak nie”.
  • “Ons gewone mense wat nie heeldag met die vrot politiek omgaan nie, neem soms kennis van wat aangaan in die land. Ons koop nie meer koerante nie, want dis net bloed en derms en bedrog en diefstal en korrupsie en lieg en bedrieg en onmin en al die gemors van die aarde.wat daarin geskryf staan. Dis al die goed waaraan ons individue niks aan kan doen nie. Ons kan net daaroor bid…en dis wat ons doen.”
  • “Om te sê dat die situasie nie kommerwekkend is nie, sal ‘n leuen wees. Ekonomies is dit natuurlik ‘n groot issue en sal dit op ons gewone mense impakteer. Geen kwessie daaroor nie. Vir my en Jan Alleman om nou na pille te gryp is nie ‘n opsie nie. Ek glo ons moet onsself eenvoudig omring deur al die positiewe dinge wat daar nog is en dit “misbruik”. Ek het ‘n keuse en my keuse is dat daar waar ek nog ‘n verskil kan maak, dit doen ek. Die sirkus kan ons op hierdie stadium niks aan doen nie.”
  • “Dan hoor ‘n ou dat by ‘n plek soos Mr Price Home, een tak R800 000 per dag maak… skrikwekkend. Mense dink die winkels gaan nooit weer oopmaak nie.”
  • “Maar ons moet positief bly en dit afvryf op ons mede-landsburgers.”
  • “Verder gaan dit goed, ons besigheid maak wins en betaal bonusse uit, mense koop Kersgeskenke asof geld volop is, ek draf 6 dae ‘n week, voel veilig in my woongebied (ons het nie ekstremiste wat rondloop en mense skiet nie) Die gewone huisbrake en diefstalle vind steeds plaas, maar mens neem maar nodige voorsorg. Xxxx sal egter nou die land verlaat as dit moontlik was.”
  • “Hier gaan die lewe voort, Kersfees gaan voort, die binnelanders ry strande toe en daar word gebraai en gerumoer.

Die ouens wat toi-toi, brand daagliks hul klompie buitebande in die townships en treiter ’n burgemeester of twee vir die lekkerte.”

  • “Ek vermoed my gevoel en die meeste van RSA s’n is dalk iets wat tussen neerslagtigheid en paniek bly wissel. Ek glo dat dit eers baie slegter sal gaan, voor dit verbeter, maar mens is bekommerd…

Mense soos Xxxx noem gister dat sy bekommerd raak oor haarself, want mens begin jouself isoleer van alles en raak “dood” van binne.  Die hoop vir ‘n toekoms vir jouself vervaag en mens is paniekerig oor die toekoms van jou kinders.”

  • “Jy lees die atmosfeer van ver af reg, maar daar is meer…

Dit gesê, kom die ou Afrikanergees na die oppervlakte. Ons gaan oorleef. Ons moet. Ons twee, Xxxx en ek, beweeg ook in die geselskap en ondernemings van jong Bloemfonteinse kunstenaar-volwassenes.  GEEN wanhoop nie, net planne, a-politiese saamwerk, netwerk, na die maan met die magte wat roekeloos voortgaan.

Die groter prentjie, die een van die wêreld, Europa, VSA, Australië ens., is nog erger as die prentjie in Suid-Afrika.  Ons hou die prentjie al maande lank dop.”

  • “As ek jonk was sou ek sekerlik emigrasie oorweeg het.

Die Afrikaners oor die algemeen het nie meer ‘n sterk nasionale stem nie en dit verg aanpassing. In die Vrystaat sal jy gou agterkom dat mense vasgevang is in tyd. Die toekoms beweeg by baie verby sonder dat hulle enige poging aanwend om te verander. Vasgevang in ‘n bedorwe lewenstyl wat nie meer geregverdig kan word nie. Ek vind dit hartseer as ek jong mense hoor en sien wat die rassisme en vrese van hulle ouers voortdra soos ‘n vaandel van geregtigheid. Ek wil so graag vir hulle skree: “Gooi af daai bagasie en pas aan by jou nuwe omstandighede. Wys ‘n vinger na elke wit rassistiese tannie wat haar neus tussen haar oë vastrek omdat jy ‘n swart meisie aan jou sy het wat verder gekwalifiseerd is as wat meeste van jou familielede is maar wat deur ‘n wit menigte verag word op grond van haar velkleur.”

My buurman aan die linkerkant is Sotho. My buurman aan die regterkant is Zulu. My buurman oorkant die straat is Engels. Die homogene bewustheid van ons jonkwees-dae verdwyn vinnig. In my erf is ek ‘n Afrikaner in murg en been maar as ek my hek oopmaak word ek ‘n Suid-Afrikaner wat almal se regte respekteer soos in enige internasionale situasie. My interaksie met al die mense is gemaklik.”

  • “Daar word elke dag witmense vermoor en dit haal nie eers meer die nuus nie – een van die redes dat ek Van 2007 af nie meer nuus op TV kyk nie. Ek lees gladnie koerante nie, want ek word te woedend kwaad en weet ek is magteloos! Ek kan jou sê hoe voel ek – ek is baie bang – ons witmense word gehaat met ‘n passie en die lot wat so huil en ander opsweep.”
  • “Dus glo ek dat alles wel sal regkom soos Jan Brand gesê het. Ons moet net van die kriminele en onwettige buitelanders ontslae raak. Die res gee nog ’n lied vir die lewe.”
  • “Daar was al rowwer  tye in ons geskiedenis (Boereoorlog, donker dae van apartheid – Kerkstraat- bom). Die huidige regering is vinnig besig om n groot gat vir homself te grawe. Ek is positief dat volgende jaar se plaaslike verkiesings ‘n draaipunt gaan wees.

Ons bly positief – die een-op-een-verhoudinge is S.A. is nog baie goed. Lekker gesellige mense – wit, swart en bruin (meeste van ons het mos so bietjie van alles – ons voorvaders moes deel in die begin, daar was min Europese vrouens en die slawe was geredelik beskikbaar).”Lewe!

WAAR HOU DIE WESTE OP?

Anderdag moes ek iets in ‘n naburige dorpie gaan doen. Baie van die mense daar is anders, anders as ek. Daar is baie plekke op aarde waar ek al sulke mense gesien het. Ek het hulle ook al in e-posse gesien wat vriende aanstuur. Die e-posse is baiekeer gemerk: Walmart Shoppers, of soms ook Walmartians. Legendariese foto’s wat “gewone” ouens soos ek in stomme verbasing laat staar. Oopbek. In die dorpie waar ek was, was daar darem nie ‘n bebaarde ou man met ‘n Tinkerbell-kostuum aan nie. Ook nie ‘n swaargewig vrou in ‘n deurtrekker en visnetuitrusting met grimering wat ‘n zombie in sy spore sal stuit nie. Daar het wel ‘n middeljarige man met ‘n sigaret agter die oor op ‘n chopperfiets tussen die voetgangers deurgevleg en ‘n yslike spoegbol net so langs die vrou voor my gelaat. Daar was ook ‘n vrou met ‘n kop vol haarkrullers en nagklere aan in die winkelsentrum, klaar ge-shop met twee cartons sigarette, ‘n bottel vodka en ‘n pak babadoeke saam met die baba in die stootkarretjie – 11-uur in die oggend. Twee manne het met ‘n pak slaptjips tussen hulle op ‘n muurtjie gesit en, te oordeel aan die leë blikkies rondom hulle, al deur ‘n six pack of twee gewerk.

Dis toe dat ek begin wonder. Ek wonder toe sommer oor ‘n klomp goed. En ek wonder vir ‘n paar dae lank.

My hele lewe is anders as die mense hierbo genoem. My waardes, my inhibisies, my verwysingsraamwerk, my hele lewensbeskouing. Dít waaraan ek “normaal” meet, is anders.

Wat is normaal? Wat is DIE NORM? Is daar ooit so iets?

‘n Meisie vertel van haar huweliksnag op sestienjarige ouderdom met haar bruidegom, die helfte ouer as sy. Enkele weke voor haar huweliksnag het sy ‘n tradisionele prosedure ondergaan wat in die sogenaamde Westerse lande as besnydenis bekend staan (female genital mutialtion). Sonder enige vorm van verdowing is sy vasgepen en alle uitwendige geslagsdele is afgesny. Daarna is die opening verklein en vasgewerk (vroeër jare was dit met dorings vasgesteek!) sodat net ‘n baie klein opening vir menstruasie en urinering gelaat is. ‘n Kort stukkie riet is in die gaatjie gesteek om te voorkom dat dit toegroei. Vir eeue al word hierdie tradisie voortgesit om meisies suiwer te hou. As sy nie besny is nie, beteken dit geen respek en geen eggenoot nie. Sy sal ‘n buitestander sonder enige respek vir die res van haar lewe bly.

Sy vertel dat haar bruidegom haar op haar huweliksnag met ‘n sweep geslaan het om sy gesag te demonstreer. Hierna het hy sy jagmes in die gaatjie gesteek, die toegegroeide deel oopgesny en vir die volgende paar dae elke kort-kort intiem met haar verkeer om te keer dat die gat weer toegroei. Ná die eerste keer het hy sy bebloede jagmes aan sy boarm vasgebind sodat almal kon sien wat hy gedoen het en hy gerespekteer kon word. Sy moes lank stil gelê het totdat die wond genees het.

Is dít normaal? Onder watter maatstawwe?

Ek lees onlangs opmerkings van mense uit verskillende kultuurgroepe oor gebruike wat hulle vreemd van ánder kultuurgroepe vind. Vir baie was dit totaal vreemd dat mense nie hulle skoene uittrek voordat hulle ‘n huis binnegaan nie. Hulle kan nie verstaan hoe al daardie “vuilgoed” wat jou skoene op pad opgetel het, in jou veronderstelde skoon huis ingetrap word nie. Vir ander was dit ‘n grillerige gedagte dat slegs toiletpapier gebruik word om jouself mee af te vee nadat jy die toilet gebruik het. Jy moet tog vir jou was! Baie mense word absoluut gewalg deur die min respek wat kinders van veral sogenaamde Westerse lande aan hul ouers of ouer mense in die algemeen toon. En hoe durf jy jou ouers in ‘n tehuis gaan stop wanneer hulle oud is Jý moet na hulle omsien! Baie het ook iets te sê gehad oor sogenaamde Westerse kinders wat so opgepiep word en die septer in huishoudings swaai. Daar was ook verbasing dat jy jou neus in die geselskap van andere mag blaas, onbetaamlik geklee in die openbaar mag loop en vele ander opmerkings.  Wat vir een groep mense aanvaarbaar is, normaal is, frons ander mense weer oor. Want dit is nie normaal vir hulle nie.

Christene oor die wêreld heen drink wyn (as teken van bloed) en eet ‘n stukkie brood om die dood en opstanding van Jesus te vier. Is dít normaal? In baie kulture sal toehoorders onderlangs vir mekaar loer as jy begin vertel dat die rigtingwyster van jou lewe, die Bybel, vertel van ‘n groot vis wat iemand ingesluk en ‘n paar dae later uitgespoeg het. Of dat die Seun van jou God drie dae lank dood was, lewendig geword het en hemel toe is op ‘n wolk. Hoe normaal is dit om te glo dat ‘n groep maagde vir jou in die hiernamaals wag as jy jouself saam met ‘n klomp nie-gelowiges opblaas? Of om jou seun te laat besny terwyl hy nog ‘n baba is?

Deurgaans hierbo praat ek doelbewus van “veronderstelde” Westerse lande, want ek wonder toe ook watter lande in hierdie kategorie val. Waar begin en eindig die weste?

Ja, selfs hieroor is daar nie eenstemmigheid nie. Geografies is dit totaal onduidelik. Die grootste gedeelte van die Oos-Romeinse Ryk word vandag as Westers beskou, maar was Oos in die verlede. Daar kan geredeneer word dat vandag se Weste geografies Europa insluit (veral die lande van die Europese Unie) saam met lande wat deur Engeland, Spanje, Frankryk en ander Europese lande gekoloniseer en beïnvloed is – al lê Australië oos van Europa. Tydens die Koue Oorlog was daar so half van ‘n Amerika-Rusland-skeiding tussen Oos en Wes.

Die term “Westerse Kultuur” is ook baie wyd en word soms as sinoniem gebruik vir Westerse Beskawing, , Westerse Leefstyl of Europese Waardes. Dit verwys na ‘n nalatenskap van sosiale norme, etiese waardes, tradisionele gewoontes, geloofsisteme en spesifieke produkte en tegnologie wat hulle oorsprong of verbintenis met Europa het. As gevolg van  immigrasie en kolonisering is die term deur mense van Europese afkoms oor die wêreld heen versprei.

Wat van beskawing – wat is beskaafd en wat is onbeskaafd?

Vir onbeskaafd is daar talle verduidelikings en sinonieme. “Sonder beskaafde invloede”, barbaars, wild en selfs vulgêr om enkeles te noem. ‘n Ander bron beskryf . onbeskaafd as “’n plek of iemand wat sosiaal, kultureel en moreel nie gevorderd is nie. Ook ongesofistikeerd, ongemanierd en onverfynd. Volgens hierdie definisies is daar talle onbeskaafde mense rondom my.

Bring die woord “beskaafd” ons nader aan ‘n antwoord? Die Engelse vertaling, “civilisation” kom van die Franse woord civlisé, afgelei van civilis, civis en civitas wat Latyns is vir onderskeidelik siviel, stedeling/burger en stad. Dit het dus verwys na mense wat in die stedelike gebiede gewoon het – daar waar onder meer geboue, riolering, wetstoepassers en die regering was. Dit was in teenstelling met hulle wat in die landelike gebiede gewoon het en hoofsaaklik selfversorgend van die land af geleef het. Laasgenoemde groep het gewoonlik geleef bloot om te bestaan.

Die Franse filosoof, Rousseau het doerietyd al gedink dat beskawing nie noodwendig gelyk is aan verbetering nie. Hy het, soos andere ná hom, onderskeid getref tussen beskawing en kultuur. Hulle sien beskawing as rasioneel- en sosiaalgedrewe en nie ten volle in ooreenstemming met die menslike natuur nie. Kulture word as natuurlik organismes gesien en nie deur bewuste, rasionele, doelgerigte optredes gedefinieer nie, maar eerder deur ‘n pre-rasionele volkseenheid of -gees. Beskawing, aan die ander kant is meer rasioneel en meer suksesvol in materiële ontwikkeling. Dit is onnatuurlik en lei tot eienskappe soos bedrog, skynheiligheid, afguns en geldgierigheid – wat weer tot ander “sondes” lei.

Ja, dis wat die slim ouens dink.

Sosiale wetenskaplikes het enkele eienskappe gelys waarvolgens ‘n beskawing van ander tipe gemeenskappe onderskei kan word.

  1. ‘n Beskawing het ‘n georganiseerde landbousisteem – nie bloot net bestaanslandbou nie.
  2. Die ekonomiese stelsel van ‘n beskawing is meer kompleks as ander gemeenskappe, veral ten opsigte van eienaarskap en handeldryf.
  3. Huisvesting van beskawings neig om meer permanent te wees in teenstelling met ander gemeenskappe wat nomadies is of tydelike huisvesting bou.
  4. Die politieke struktuur van ‘n beskawing is gewoonlik baie meer kompleks as dié van ander gemeenskappe.
  5. Een van die hoofkenmerke van ‘n beskawing, is geletterdheid.

Ander eienskappe van beskawing sluit onder meer in gedefinieerde kodes en reëls ten opsigte van godsdiens, die kunste, wetenskap en tegnologie.

Tradisioneel het ‘n staatsbestel wat daarin kon slaag om merkbare militêre, ideologiese en ekonomiese mag te vestig, homself as “beskaafd” beskou. Dit is nou in teenstelling met ander gemeenskappe en groepe wat buite die “beskaafdes” se invloedsfeer lê en gesien is barbaars, primitief  en wild. Deesdae word eerder gepraat van “inheemse mense” of “stamgemeenskappe”.

Wanneer ‘n dier leer om bepaalde menslike funksies te kan doen, dinge wat diere normaalweg nie kan doen nie (soos praat, krane oopdraai en deure oopmaak) word hy dan ‘n mens? Wanneer ‘n pikkewyn in die bosveld aanpas, word hy dan ‘n rooibok? Word ‘n Inuïet ‘n Duitser wanneer hy Duitsland toe trek?  Kan ‘n Afrikaner ‘n Zulu word as hy die taal kan praat? Op sommige van hierdie vrae sal baie mense Ja antwoord. Ander sal dink dit is onmoontlik.

In ‘n ander dorpie naby ons is daar ook mense wat anders as ek is. Welaf, behep met aansien en voorkoms. Die tipe motor wat jy ry, bepaal jou aansien. Kosmetiese operasies, klein hondjies wat in handsakke rondgedra word en jou posisie op die sosiale leer is hoog op hulle prioriteitslys. Hulle koop net by die duurste winkels en sal nie dood sonder ‘n baie duur uitrusting met bybehore gesien wil word nie. ‘n Wolk van duur parfuums vergesel hulle waar hulle met soortgelyke vriende koer oor goed waarvan ek die woordeskat nie eers het nie.

Die groep mense wat ek eerste genoem het, die Walmartians en hierdie materialiste klomp hierbo woon in my omgewing – in ‘n Westerse land met Christelike norme en waardes, dieselfde norme en waardes as dié waarmee ek grootgeword het. Tog identifiseer ek nie met hulle nie. Hulle is nie noodwendig swart of gay of Moslem of Joods of Blou Bul-ondersteuners of enige van die dinge waarmee baie mense gewoonlik probleme mee het nie. Hulle identifiseer ook nie met my nie.

As ons “homogene” groep mense – mense van dieselfde land, taal, kleur, kultuur, geloof en span dan so baie van mekaar verskil, hoe op aarde gaan ons groter, eeue oue kwessies soos rassisme, homofobie, verskille in kultuur en al daai goed uitgesorteer kry? En wie se maatstaf en norm gebruik ons?

Jaaa Swaer…  ons kan maar net traai (en oorlog maak). Ek sal in die Weste begin, jy vat die Ooste.