DIE SPORE VAN ‘N PIKKEWYN

DIE SPORE VAN ‘N PIKKEWYN

Anderdag lees ek ‘n stelling op Facebook: “Die oomblik wanneer jy gebore word, word jy ‘n naam gegee, ‘n geloof, ‘n nasionaliteit en ‘n ras. En vir die res van jou lewe gaan jy iets verdedig waaroor jy geen beheer of insae gehad het nie”.

Wat my toe laat dink het aan ‘n storietjie wat ek lank gelede geskryf het, toe ek ook oor soortgelyke dinge nagedink het.

In my storie verdwaal ‘n pikkewyn eendag verskriklik en beland in die Kruger-wildtuin. Daar loop hy ‘n kameelperd raak wat rustig aan ‘n takkie groen blare knibbel. Hulle is ewe verbaas om mekaar te sien en groet aanvanklik strammerig. Later vra die pikkewyn vir sy nuwe maat: “Wat is dit wat jy daar eet?” Die kameelperd vertel hom dat dit lekker groen blare is. Pikkewyn trek sy asem skerp in: “Jong, dis sonde om blare te eet, ons mag net vis eet”. Kameelperd hou  vir ‘n oomblik op met kou, kyk verbaas na Pikkewyn en vra: “Nou waar hoor jy dit?”

“Jong, dit is nou maar net so. My ma het my nog vertel. Jy gaan groot moeilikheid kry as jy enige iets anders as vis eet.”

Dieselfde dag beland twee seuntjies langs mekaar op ‘n bus in ‘n ver land – ‘n Afrikaanse seun uit ‘n christenhuis en ‘n moslemseuntjie. Die Afrikaanse outjie kyk die seuntjie langs hom op en af tot sy nuuskierigheid die oorhand kry. Hy vra in sy beste Engels: “Hoekom het jy ‘n wit rok aan? Jy’s mos ‘n seun.”

Ja, waar ons op hierdie planeet gebore word en wie jou ouers is, bepaal die rigting wat jou lewe inslaan.

Hierdie week is ek 17 jaar in Engeland. Is ek nou ‘n Engelsman? Beslis nie. Ek sal ‘n Vrystater doodgaan. En ‘n christen. My kinders, egter, beskou hulself  nie as Brits of Suid-Afrikaans nie – ten spyte van (of dalk, as gevolg van) dubbele burgerskap en my beste pogings om hulle as Vrystaters groot te maak (al is hulle in Pretoria gebore). My dogter is verloof aan ‘n Griekse outjie en gaan binnekort in Nederland bly. Hulle sê hulle is wêreldburgers. By hulle is daar geen veroordeling van iemand op grond van sy herkoms nie. Hulle veroordeel wel dade en optrede.

Het ek ‘n reg om iemand wie se lewe anders as myne begin het, te veroordeel? Sou dit dalk beter gewees het as almal dieselfde was? Een groot globale land sonder grense. Een taal, een geloof – alles dieselfde.

Destyds, toe John Lennon oor hierdie dinge gesing het, het ek saam met mede-christene my wenkbroue gelig. Toe ek gister op die plek staan waar Edward Wightman die laaste man was wat op die brandstapel gesterf het (oor sogenaamde kettery) toe dink ek aan al die gruweldade wat sommer net die afgelope maand in die naam van die een of ander godsdiens gepleeg is (wat nog te sê oor die eeue heen). Ek lig nie meer my wenkbroue wanneer John Lennon sing van “a brotherhood of man” – niks om voor te sterf of te moor nie. Ek droom saam.

Ons leef in ‘n kleurryke wêreld vol kontraste, kulture, tale, godsdienste, diversiteit en geleenthede.

Die spore van dit wat jy gedurende jou leeftyd doen (en nie doen nie) gaan nog op aarde bly, lank nadat jy hierdie lewe agtergelaat het.