‘N NUWE BEGIN

‘N NUWE BEGIN

img_1836

Allen Saunders het in 1957 (lank voor John Lennon) geskryf dat “Life is what happens to us while we are making other plans“. En het ek dit nie die afgelope tyd in oormaat beleef nie!

Ter agtergrond, sonder om in ‘n treurmare te verval:

Ons planne het seepglad verloop. September verlede jaar is ons huis in die mark gesit – tyd vir ‘n nuwe avontuur. Vir elf jaar was dit ons tuiste hier in Engeland – die huis waar die kinders die grootste gedeelte van hulle kinderjare deurgebring het. ‘n Gesellige huis met ‘n mooi uitsig op die Teemsmonding in die Noordsee. Die transaksie is vinniger beklink as wat ons gedink het en die groot trek is met militêre presisie beplan. So tussendeur die gewone daaglikse roetines is bokse begin pak, oortollige goed rommelpunt en liefdadigheidsorganisasies toe weggery en nuwe verblyf begin soek. Die trekdatum was 17 Desember.

Die dagboek was propvol van 1 Desember af.

En toe skuif die Vrydagaand van 3 Desember in ons pad. Wat aanvanklik as blote hartkloppings begin het, ruk toe so handuit, dat ek my eerste rit ooit in ‘n ambulans kry – loeiende sirenes en al. As kind was dit my grootste vrees, om in ‘n ambulans te ry – was toe nie so erg nie. By die hospitaal word die fout opgespoor en toegebrand en bepaal dat daar darem nie erge skade was nie. ‘n Week later is ek terug by die huis met die uitdruklike opdrag om my vir ‘n tyd lank stil te hou. “Tyd lank” is ‘n relatiewe begrip, veral met ‘n vol dagboek, ‘n trek binne enkele dae en ‘n agterstand na ‘n besoek aan die hospitaal.

Na ‘n goeie nagrus voel ek toe sterk genoeg en val vroeg die volgende oggend weg teen verhoogde tempo om verlore tyd in te haal. Soos almal wat al getrek het kan getuig, die dag van die groot trek is geen partytjie nie. Nadat die lorrie met ons besittings vertrek het, moes die huis netjies gekry word vir die nuwe intrekkers – ons het darem ons trots. Die probleem is egter, ons moet voor die lorrie by die nuwe plek wees om te kan oopsluit. Die druk was groot. Verlangs onthou ek iets van die dokter se opdrag dat ek vir ‘n week of twee nie mag bestuur nie. Maar nou ken ek ook mos dokters – ek sal mos stop as ek nie goed voel nie. Net onder vier ure nadat ons vertrek het, stop ons voor ons nuwe blyplek. Doodmoeg is ‘n eufemisme. Ons slaap sommer op matrasse op die vloer.

Vroeg die volgende dag is daar weer nie ‘n ding van “bietjie rustig vat” nie, want bokse moet die trappe opgedra word, meubels moet aanmekaar gesit word en die huis moet leefbaar gemaak word vir die kinders wat Kersfees kom kuier.

Stephan is darem hier vir die universiteitsvakansie en is ‘n groot hulp. Melissa en haar vriend kom met die trein aan en Etienne ry die vier ure van waar hy bly met sy nuwe kar wat hy in April gekoop het. Sy “pride and joy”.

Almal is gelukkig. Ek voel die trek aan my gebeente, maar hou dit vir myself. Dis normaal om bietjie moeg te voel na ‘n trek. Mos.

So ‘n uur voordat ons vir die Kersmaal sou aansit, wil die kinders die nuwe omgewing bietjie gaan verken en Etienne neem hulle in sy kar. Twintig minute later lui die foon: “Pappa.ons het ‘n ongeluk gehad.” Beslis nie iets wat ‘n brose, oorwerkte pa-hart op daardie stadium wou hoor nie. Etienne het in ‘n draai op geysde modder gegly, deur die veld geploeg en in ‘n klipmuur vasgery. Almal is gelukkig ongedeerd, maar die kar lyk nie meer dieselfde nie.

Ons Kersmaal was heelwat later.

Enkele dae later is die kinders terug huis toe – Etienne met die bus en sy kar agterop ‘n platbaklorrie.

So elfuur op Oujaarsaand begin my lyf te praat – hard te praat. ‘n Halfuur later praat hy toe so hard, dat Christine die nooddienste bel. Terwyl die res van die nasie vonkelwynproppe afskiet en vuurwerke die nagruim instuur om 2017 welkom te heet, loei die sirenes weer in my ore op pad hospitaal toe. Gedog ek dooi op Nuwejaarsdag.

By die hospitaal word ‘n hartaanval gediagnoseer. Die are word oopgemaak en ‘n week later is ek weer by die huis – weer met die opdrag: HOU JOUSELF STIL! En geen bestuur vir ‘n maand nie.

Ek traai – onder Christine se arendsoog.

Maar wat ek nou eintlik daar aan die begin wou sê (voordat ek met die treurmare begin het):

Ek vat niks meer as vanselfsprekend nie.

Skielik het ek ‘n klomp nuwe beginne. ‘n Nuwe jaar. ‘n Nuwe lewensjaar. ‘n Nuwe kans om te lewe!

En ‘n nuwe avontuur.

Die plekkie waarheen ons getrek het, Middleton in Derbyshire, is so ‘n katspoegie van Nottingham af – daar waar die legendariese Robin Hood nie vir uitdagings geskrik het nie. Volgens die laaste sensus woon hier so 700 mense in ons dorpie – almal sover baie vriendelik. Die diens Oukersaand in die ou kerkie was ‘n belewenis. En die klipmure in die omgewing is absolute fassinerende meesterstukke waarvan ek net nie genoeg kan kry nie. Kan nie wag om die plek in die somer te sien nie!

img_1837

Ons dorpie

Die plan is om vir so ses maande te huur en die tyd te benut om ‘n geskikte plek te kry om ‘n gastehuis te begin.Die ses maande mag nou langer word na my uitstappie hospitaal toe.

img_1834

Ons straat

img_1839

Ons huis

img_1841

Ons heining

img_1842

Spookyyyyyy

‘n Opwindende jaar lê en loer. In geloof en met ons beste pogings gaan ons hom takel.

Hou hierdie spasie dop.

My scars remind me that I did indeed survive my deepest wounds. That in itself is an accomplishment. And they bring to mind something else, too. They remind me that the damage life has inflicted on me has, in many places, left me stronger and more resilient. What hurt me in the past has actually made me better equipped to face the present. ― Steve Goodier

Soli Deo Gloria!