‘N BLOM IN ‘N BLOMROK

ice cream

Ek staan en bewonder so ‘n lang, regaf rok. Daar is seker ʼn slim naam vir die kleur – roomkleur of pêrelwolk of sampioendou – ek sal nou nie weet nie.  Vir my is hy so witterig met groot pastelkleur blomme op. Dis ook nou nie aldag dat ʼn rok my so vasvang nie, maar nou moet ek toegee dat dit dalk meer die lyf in die rok is wat my aandag het.

Sy eet ʼn roomys, ingedagte terwyl sy verby die stalletjies drentel – in my rigting. Met elke beweging kry die soepel materiaal lewe, dit vloei en beweeg en vou om haar lyf.

My oë is vasgenael op haar. Die wind dans guitig deur haar donker hare en gooi die songlans in klomp rigtings.

Elegant, vroulik, lank nie meer ʼn tiener nie. Sy loop nie, sy sweef. Netjiese voete in sulke bruinerige sandale. Haar hande is fyn, delikaat met gemanikuurde naels. Haar grimering smaakvol en subtiel.

Sy kom agter dat ek vir haar kyk. Die blou van haar oë gryp my blik aan en smelt die afstand tussen ons – ʼn enkele verposing met ʼn ewigheidsimpak.  Haar rooi lippe vorm klanklose woorde en sprei ʼn glimlag wat tsunami’s kan stuit. Sy sweef tot teenaan my. Haar warmte en die sagtheid van die blommateriaal beur tot in die dieptes van my lyf en jaag my hormone holderstebolder. Ek kry ʼn happie van haar roomys, haar lippe raak sag aan myne. Ons hande vleg ineen en, gehul in haar sagte parfuumwolk, drentel ons saam verder – met genoegdoening en die wete…

Sy is myne – vandag al vir drie-en-dertig jaar.  

Venisie, 2005

Venisië

 

 

 

Advertisements