‘N WYSE OU MAN ONTHOU

‘N WYSE OU MAN ONTHOU

WYSE MANNE4

Ek onthou die dag toe ek Ashar se brief ontvang het asof dit gister was – die brief waarin hy my van sy bevindings vertel het. Uit die toon van sy brief kon ek agterkom dat hy baie opgewonde was. My eie sterrekykery het my tot presies dieselfde gevolgtrekking as Ashar s’n gebring  – so, ek was sélf ook opgewonde. Dit was eintlik snaaks. Ons groepie ou sterrekykers het almal min of meer dieselfde tyd die ster gesien en het dadelik briewe aan mekaar gestuur. Die dag nadat ek Ashar se brief ontvang het, het ek nóg ‘n hele klompie briewe van ander sterrekykers gekry waarin dieselfde inligting en opgewondenheid gedeel is!

WYSE MANNE 5

Ons het onmiddellik die koning ingelig en hom vertel dat die sterre gepraat het. Toe hy ons vra wat die sterre dan nou gesê het, het ons geantwoord:

 “U hoogheid, ons het ‘n ster gesien. Hierdie ster dui op ‘n gebeurtenis van kosmiese belang. Ons het, natuurlik, die verskillende interpretasies onder mekaar bespreek en tot die slotsom gekom dat hierdie ster die koms van van ‘n groot koning aankondig. Ons vra u toestemming om wes te reis sodat ons hierdie koning kan gaan verwelkom”.

‘n Maand later het ons groep bejaarde sterrekykers toe op ons lang reis weswaarts vertrek. Nóú, jare na ons groot reis, word ons wýse ou manne genoem. Ha! Wel, ek kan jou sê dis nie wat hulle ons destyds genoem het nie.

“Gekke!”

“’n Spul mal ou manne!”

Selfs my vrou het gedink my varkies het uit die hok uit ontsnap.

“Jy’s ‘n stokou man met artritis, ‘n swak hart en jy’s nog boonop half doof ook!” het sy op my geskreeu terwyl ek gesukkel het om op my kameel te kom – so met ‘n bietjie hulp.

 “Aaa,” het ek haar geantwoord toe ek my sit op die kameel se rug gekry het, “Maar my oë is nog goed, vroumens. En as jy gesien het wat èk gesien het, sal jy my nie probeer keer nie!”

“Maar wat van jou swak hart?” het sy nog vir oulaas gepleit.

“My hart? My liewe vrou, my hartklop gaan waarskynlik binnekort stop, dis waar, maar moet my hart tog nou nie die kans ontneem om nog een keer soos die hart van ‘n vreeslose jongman te klop nie. Wanneer my oë die nuwe koning gesien het, dan sal my hart heel tevrede wees om tot rus te kom.”

Sy het net gesug, eenkant toe gestaan en vir my gewaai.

WYSE MANNE

Nou is ek ‘n ou man en my stem nie meer so sterk nie. Ek het nie genoeg asem om lank te praat nie, so ek sal jou nou nie met die detail van ons reis verveel nie. Dis seker nie nodig om te sê dat die woestyn intens en uitmergelend was nie, soos ons almal nou mos maar weet. Maar die ster, dáárdie ster, het ons nooit in die steek gelaat nie. Sy’t nooit verflou nie en nie een keer ‘n bespotting van ons jeugdige entoesiasme gemaak nie. Ons het haar as die volmaakte reisgenoot ervaar.

Die ster was egter bloot ons gids, nie die eindbestemming nie en na baie maande, soos ons nader aan Betlehem gekom het, het ons van die ster af begin weggekyk om die horison vir ‘n paleis te fynkam. Maar, weer ‘n keer, het ons die ster se hulp nodig gehad om vir ons die paleis te kon uitwys – ‘n paleis wat maar soos ‘n doodgewone Betlehemse huis gelyk het.

WYSE MANNE3

En daar, by daardie huis het ons oë die jong Koning gesien – in die stal, van alle plekke, nogal.  ‘n Ou kleine babatjie, in doeke toegedraai lê Hy toe daar in die voerkrip.

Ons harte was so vol en het weer jonk gevoel. Ons het geskenke aangebied en die jonge Jesus verheerlik, alhoewel ons op daardie stadium nie die volle impak van Sy geboorte besef het en ook nie toe kón besef het nie.

(Vertaal en verwerk uit die oorspronklike Engels deur André Fourie. Outeur onbekend)

MAAK VOL … VIR EEN RAND?

MAAK VOL … VIR EEN RAND?

NUWE KAR

Hier van 1971 af het ‘n nuwe ding sy verskyning gemaak: Metrieke mate. Galonne, myl en pond het liters, kilometer en kilogram geword. Verkeerstekens het verander en nuwe karre se spoedmeters het snelheidsmeters in kilometer per uur geword. Die kinders het nogal nie lank geneem om hieraan gewoond te raak nie, maar baie van die ouer garde het kleigetrap met die nuwe manier van doen.

Daardie dae was daar beroering in die buurt wanneer iemand ‘n nuwe kar gekry het. So was dit dan ook die dag toe Pa met die nuwe Vauxhall Cresta om die hoek gery gekom het. Ná werk een middag.

Die woord het vinnig versprei en gou was die buurmanne (asook ‘n paar –vroue) en kinders en honde rondom die nuwe spogwa saamgedrom. Opmerkings en aanmerkings word gemaak. Wiele word saggies – sagter as ‘n ou kar se wiele – geskop, bekleedsel word gestreel, die grootte van die kattebak word beskou en of daar nou iets van ‘n enjin af geweet word of nie, koppe word onder die enjinkap ingedruk om belangstellend die kraglewering en hoeveelheid silinders en petrolverbruik te bespreek. Daar is selfs beweer dat karre nou swaarder op petrol gaan wees met liters in plaas van galonne. Die kinders stry oor wie se kar die vinnigste of grootste of blinkste is en heel dikwels loop dit sommer op ‘n ernstiger ruk-en-pluk uit. Daar was natuurlik altyd die suurgatte met subtiele en minder subtiele skimpe van nuwe karre wat eintlik net ‘n dead loss is of spesifieke modelle wat “sakke vol moeilikheid bring”.

En dan was daar die mense wat gewonder het waar die geld vir ‘n nuwe kar vandaan kom.

Oortyd was ‘n woord waarmee ek grootgeword het. Omdat Ma haar loopbaan prysgegee het die dag toe ek gebore is, het Pa heldhaftig (in mý oë, ten minste) die stryd gestry om brood vir ons vyf op die tafel te voorsien. En ook die ander dinge soos die Vauxhall en die fliekkaartjies en gesinsvakansies. Om dít te kon doen, het hy lang ure oortyd gewerk.

Soggens, voordat ons vir skool opgestaan het, was hy al by die werk en baiekeer het hy eers ná aandete, vaal in die gesig, die agterdeur oopgemaak. Ek glo nie Pa het ‘n benul gehad van hoeveel geld in die bank was nie, want Ma was die een wat noukeurig die geldsake hanteer het. Getrou aan die einde van die maand is toegesien dat alles betaal word en streng by die begroting gehou word. Nooit ‘n kredietkaart gehad nie. Wel, streng gesproke was die Samba-kaart dalk tog ‘n kredietkaart wat aan die einde van die maand ten volle betaal is. En dan, aan die einde van die jaar word die Samba-bonus gebruik om Kersgeskenke te koop en help dit om die gat wat die Desembervakansie in die begroting maak, te vul.

SHELL

In Zastronstraat, daar in Bloemfontein, was ‘n garage wat sulke plastiese petrolkoepons op Samba verkoop het. Tien in ‘n pakkie teen vyf Rand per pakkie. Ma het altyd drie pakkies vir die maand gekoop, een vir haar en twee vir Pa met die groter kar. Op Woensdae, meestal, het Ma twee vyftig sent-koepons geneem om petrol in die Morris Minor te gooi – die week se petrol vir rondry agter balletklasse aan, tandarts toe, dokter toe, kruideniersware koop en dorp toe gaan.

MORRIS

Vir die jaarlikse vakansies is daar vir baie dinge begroot, maar nooit werklik vir petrol nie. En ons het toe nog nooit van die woord “tolhek” gehoor nie. Halfpad na ons bestemming toe het Pa gestop en die smulgoed wat Ma by die huis gepak het uit die kattebak gehaal. By daardie wit sementtafels en sitplekke onder ‘n boom langs die pad.

op pad

Dit was die dae toe ‘n witbrood nege sent en ‘n bruine  sewe-en-‘n half sent gekos het. Fliekkaartjies by die inryteater was nege-en-veertig sent en ‘n blok sjokolade ‘n volle twintig sent.

Ag ja …

inry

HORSESHOE EN SEEP WAS TOE NIE GENOEG NIE

HORSESHOE EN SEEP WAS TOE NIE GENOEG NIE

 EXPLORERS

Jaco se pa het dikwels die garagedienste Woensdagaande vir inslaap-huiswerkers in die pastorie se garage gelei.

Tydens ‘n katkisasieles, een Sondag, het sendingwerk ter sprake gekom. Vir my het dit nogal na avontuur geruik – om die wildernis in te vaar en swart stamme tot bekering te bring. En so sit ek toe eendag die gesprek oor sendingwerk en garagedienste bymekaar toe dit my tref: Hoekom kan ek en Jaco nie sommer nou al daarmee begin nie? So as ’n oefenlopie vir wanneer ons die wildernis aandurf. Dit was tog die idee agter die katkisasieles. Begin vandag in jou omgewing; by jou skool of waar jy nou ook al mag beweeg.

EXPLORERS2

By die skool was die meeste kinders buitendien in die Sondagskool, wat sendingwerk onder hulle dalk effe oorbodig gemaak het. Nee, ek dink nie die skool was ideale terrein vir sendingwerk nie. Die garagedienste word saans vir die inslaapousies gehou, maar daar was baie ousies en tuinmanne wat nie ingeslaap het nie en dus nie die geleentheid gekry het om garagedienste toe te gaan nie. En húlle, besluit ek toe, was ons teikengroep.

Sonder om vreeslik in die praktiese implikasies te delf, het ek die logistieke reëlings met Jaco bespreek.

Pa het twee of drie steierplanke teen die heining langs die garage gehad. En die ou bakstene van die afgebreekte tuinmuurtjie was netjies in die een hoek van die erf opgestapel. Daarmee kon ons sitplekke vir ons gemeente maak. Ma het haar bedenkinge gehad, maar wou nie water op ons vuur gooi nie. Ons het haar omgepraat om koekies en aanmaakkoeldrank te koop en ook plastiese glasies waarin die koeldrank bedien kan word, net soos by die garagedienste. Jaco sou sy pa se bandspelertjie met MEMA-bande leen en sommer ook traktaatjies kry, in Sotho vertaal. Ons het selfs gedink aan ‘n manier hoe die mense beloon kon word vir pligsgetroue bywoning. Amper iets soos die sertifikaat en seëls wat ons by die Sondagskool gekry het. Omdat drukwerk om baie redes so ‘n bietjie bó ons vuurmaakplek was, besluit ons toe op ‘n aantekenregister in ‘n ou oefeningboek. Sodra iemand tien keer aangeteken het, kry sy ‘n koekie seep. Die mans kon ‘n sakkie Horseshoe-tabak kry. Die sakkie was darem redelik bekostigbaar.

 

Ons was gereed vir die massas wat na ons agterplaaskerk sou stroom. Soort van.

Ons teikengroep, ons “sendingveld” was egter nie gereed nie. Of dalk wás hulle gereed, maar hulle werkgewers was nie. Dit was tog immers werkstyd. En dan was daar nog ‘n bus wat lokasie toe gehaal moes word.

Martha en Gabriel en Evelina, Jaco-hulle se ousie, het met nog ‘n ousie daardie eerste Woensdagmiddag hulle plekke in ons agterplaas op die steierplanke ingeneem. Ons het ons vier gemeentelede vertel van die aantekenregister, van die Horseshoe en seep en hulle het kort-kort na die koeldrank en koekies geloer. Ek het gevra of daar iemand is wat ‘n lied ken wat hulle wou sing en Martha het toe ingeval met die Sotho-weergawe van Prys die Heer met blye galme. Die ander twee ousies het saamgesing, maar Gabriël het nie die woorde geken nie en ongemaklik, met ‘n verleë uitdrukking op sy gesig, gewonder of hy hier hoort.

En toe skakel ons die band aan. Krakerig het die prediker sy boodskap gebring. Ek en Jaco het nie ‘n idee gehad waaroor die Sotho-boodskap gegaan het nie. Gabriël het so halfpad deur die preek opgestaan met “die werk wag, ek moet klaarmaak, die son hy hardloop”. Die ousies het tot die einde gebly en het met twee koekies en ‘n glas koeldrank verdaag. Dit was die eerste van ons “agterplaasdienste”, soos ons dit gedoop het.

En die laaste een. Niemand het vir die tweede een opgedaag nie.

Sendingwerk? Baie jare later sou dit eers tot my deurdring dat Martha-hulle daardie psalm baie, baie beter as ek gesing het – sonder ‘n psalmboek.

EK SOU GRAAG VIR DIE WÊRELD ‘N KOELDRANK WOU KOOP

EK SOU GRAAG VIR DIE WÊRELD ‘N KOELDRANK WOU KOOP

Gabriël was Woensdae vroeg op sy pos om na die tuin om te sien – vir so lank ek kan onthou. Hy het vertel dat hy ‘n Barolong was en gemeet aan hom, was die Barolongs ‘n vreedsame, vriendelike en hardwerkende nasie wat gek oor sokker was. Pligsgetrou. Hy was dalk so ‘n jaar of wat jonger as Pa. Soggens het hy van Rocklands-lokasie af met sy fiets by die hek gestop waar Spottie ons vertel het dat Gabriël opgedaag het. Onder keffende begeleiding het hy dan langs sy fiets tot agter die garage geloop waar hy sy ryding teen die muur gesit en kombuisdeur toe gekom het. Spottie het intussen ophou blaf en Gabriël het onnodig aan die deur kom klop.

Terwyl die ketelwater kook, het Ma saam met Gabriël deur die tuin geloop om sy dag se take uit te wys. Gabriël het nooit die yslike grasperk gesny nie, om watter rede weet ek nie. Dalk omdat Pa so perfeksionisties gewaak het oor al sy toerusting en gereedskap. Pa het self die gras gesny totdat ek groot genoeg was om met die grassnyer vertrou te kon word. Die snoeiwerk is ook deur Pa gedoen; al die vrugtebome, roosbome en die druiwe. Gabriël was dus verantwoordelik vir die beddings, blare optel, bossies uittrek en om nou en dan ‘n dooie of ongewenste struik of boom uit te haal. Namiddag het hy Ma se kar gewas en die skoene skoon gemaak. Hiervoor is hy aanvanklik een Rand vir die dag se werk betaal. Dit was die aanvaarde loon en hy was tevrede. Die mense by wie hy op die ander dae van die week gewerk het, het hom dieselfde betaal. Gaandeweg is die loon verhoog totdat hy ‘n volle blou vyfrandnoot Woensdae in sy sak gesteek het.

Sodra Ma hom klaar ingelig het oor sy dagtaak, het sy vir hom koffie gaan maak. En hier by tienuur se koers het hy en Martha saam ontbyt geëet. Baie dae het ek gewonder waaroor die twee so sit en gesels. Ek het oor baie goed gewonder.

The New Seekers het destyds ‘n treffer gehad met I’d like to teach the world to sing. Maar eintlik was dit die Hillside Singers wat die lied met ‘n koeldrankadvertensie ‘n wêreldtreffer gemaak het.

COKE

Dieselfde koeldrankmaatskappy het die volgende jaar met die Olimpiese Spele ‘n promosie gehad waar ons die kurkseël – voordat dit later jare met ‘n plastiese seël vervang is – binne in die proppie moes uitlig. Die kurkseël is versigtig met ‘n mes verwyder om die merk aan die onderkant bloot te lê en by die kafee in te ruil vir ‘n wit plastiese figuurtjie van ‘n sportman (daar kon dalk vroue ook gewees het). Oral is proppies gebedel – familie sonder kinders het dit vir ons gebêre, Pa het vir my van die werk se kafeteria af gebring en so het my versameling mannetjies vinnig gegroei. Die merk op die proppieseël het bepaal watse sportmannetjie die vrou agter die toonbank vir jou gaan gee.

My versameling was feitlik volledig, behalwe vir een sportsoort – ‘n skaars een. En Gabriël het dáárdie mannetjie trots op die voorste modderskerm van sy fiets geplak gehad. Sy maskot – die sokkerspeler wat ‘n sokkerballetjie so op sy een voet gebalanseer het.

Ek het by hom geneul en gesoebat om vir my die mannetjie te gee, maar tevergeefs. Totdat ek een middag, op pad huis toe van die skool af, ‘n vyftigsent opgetel het. Met die muntstuk en nog twee mannetjies, ‘n spiesgooier en ‘n swemmer, is ek weer na Gabriel toe waar hy besig was om die vensters van ma se Morris blink te vryf.

Gabriël het na die geld in my oop hand gestaar en toe met gemengde gevoelens van sy sokkermannetjie afskeid geneem. Hy het nooit een van die ander twee mannetjies op sy fiets geplak nie.

My versameling was uiteindelik volledig – almal spierwit, behalwe vir so ‘n vuilwit sokkerspeler.

My duurste mannetjie.

SOKKERSPELER

DIE LEEU EN DIE LAM ONDER ONS LUKWARTBOOM?

DIE LEEU EN DIE LAM ONDER ONS LUKWARTBOOM?

LEEU EN LAMMETJIE

Ek onthou toe ek ’n kind was, het ons Kinderbybel die allermooiste prente gehad, lewensgetrou en in volkleur. Die hitte waar Elia op die goue perdekar met die spierwit perde gesit het toe hy hemel toe is, het uit die bladsy gevlam. Ek onthou ook hoe my hande altyd begin sweet het as ek die angs op die Egiptenare se gesigte gesien het toe die watermuur hulle met perde, strydwaens en al verswelg het.

Elanie was ses, het net so begin lees en kon haar verlustig in die stories en prente van hierdie pragboek. Met ‘n handvol lekkergoed en die Kinderbybel onder die arm vasgeknyp, het sy op die klipwalletjie onder die lukwartboom gaan sit en vir Gabriël, ons tuinman, geroep.

“Laat ek gou die water skuif,” het hy gretig die uitnodiging aanvaar en die vurk in die grond gesteek. Alles is net so gelos en dan het hy styf langs haar kom sit met die een kant van die oop Bybel op sy skoot en die ander kant op Elanie se skoot. En dan, terwyl hulle na die prente kyk, gee sy vir hom haar weergawe van die verhaal.

Al kouende aan ‘n toffie of ‘n Fruit Gum, werk  hulle dan deur ‘n paar Kinderbybelstories. Soms het Spottie met ‘n wappertong ook by die twee kom lê, teenaan hulle voete. Die toneel het ‘n gewyde effek gehad, ‘n prentjie, so reg uit die Kinderbybel. Groot swart Gabriël langs die klein blonde dogtertjie in die skadu van die lowergroen boom in diepe gesprek voor ‘n oop Bybel.

Daar het dalk net ‘n lammetjie gekort, aangenestel teen Spottie wat soos ‘n klein leeutjie voor hulle voete gelê het.