JY IS MY HELE HART

Enkele jare gelede, vyftien om presies te wees, moes ons ‘n baie moeilike besluit neem. Christine het ‘n werksaanbod uit Duitsland van die Daimler-Benz Aerospace-maatskappy gekry. Ek was heel gelukkig in my werk ingegrawe en omdat die kontrak in Duitsland net vir ses maande was, was dit buite die kwessie dat ek my werk bedank en ons as gesin Duitsland toe gaan. Dit was egter so ‘n gulde geleentheid en finansieel gunstig, dat dit werklik dwaas sou wees om dit nie aan te gryp nie. Familie en vriende het grootoog gewaarsku teen die moontlike gevare wat dit vir ons huwelik en gesinslewe kon inhou, maar ons het biddend die besluit geneem dat sy moes gaan. Op ’n koelerige herfsaand is sy toe alleen Duitsland toe met drie jong kindertjies – die jongste twee jaar oud –  in hul pa se sorg.

Duitsland is ver van Pretoria af en ons sien mekaar net so een keer per maand. Ek kry, as bonus, egter ook die geleentheid om ‘n keer of wat in Duitsland te kom. Die kinders gaan met een kuier saam, maar bly by Oupa en Ouma tydens my ander besoeke.

Een heerlike soel somersaand drentel ons, ewige verliefdes, by mekaar ingehaak deur die steenstraatjies van ‘n eeue-oue dorpie, Lindau, toe Franz Lehár se musiek na ons toe aangesweef kom. Op een van die hotelle se groot buitelugstoepe is ‘n groep musikante en sangers besig om ‘n waarderende gehoor na Glimlagland weg te voer. Ons kry nogal sitplek en met haar sagtheid teen my aangenestel, is ons weer die wittebroodspaar van ouds, met geluk in die harte en sterre in die oë. Die groep sluit heel gepas af met een van my groot gunstelinge – Dein ist mein ganzes Hertz (Jy is my hele hart) uit Land des Lächelns.

Die laaste dag van my besoek breek aan en ek loop die plek plat agter ‘n kaartjie aan vir haar. Ek soek ‘n kaartjie met baie spesifieke woorde  –  woorde wat ek, so glo ek toe, net dáár sal kry. Uiteindelik kry ek dit. Met ‘n bos blomme. Ek steek dit weg in haar huis met die asemrowende uitsig oor die Bodensee en die Switserse Alpe in die verte.

Met haar linkerstuur-motor ry ons in stilte lughawe toe. Afskeid is nooit lekker nie.

Laataand, alleen terug in haar kamer, ontdek sy die blomme en kaartjie.

Christine, Dein ist mein ganzes Herz – für immer!

MADIBA

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

Die Breaking News op Sky het my aandag getrek toe ek in my Engelandse bed besig was met e-posse en ander wat-nog-allesse op die rekenaar: Nelson Mandela dies.

Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner, meer spesifiek Afrikaner  – daardie groep mense wat so deur die internasionale media verguis en in dieselfde asem as Hitler en Amin en ander verskrikkers genoem word. Uitvaagsels.

Soms, as ek kyk hoe mede-(Suid-)Afrikaners optree en ek sien videogrepe van ‘n vergange Suid-Afrika, dan krimp my hart ineen. Wanneer ek die taalgebruik sien as mede-Suid-Afrikaners mekaar uitskel en beledig, dan wil ek huil. En dan kan ek verstaan hoekom die media ons voorstel soos hulle doen.

Maar dis dan wanneer ek wil uitroep: Ons is en was nie almal so nie!

Soos die Duitsers letsels het van ‘n Nazi-verlede waaraan hulle nie herinner wil word nie, dra ons Afrikaners swaar aan bagasie uit ons Apartheidsverlede. Uit ‘n tyd toe waardige mense onwaardig by agterdeure van besighede moes ingaan (of gladnie kon ingaan nie) en pasboeke moes hê om soos indringers in hulle eie land te kon woon en leef en werk. ‘n Tyd toe hulle Afrikaner-kerke kon skoonmaak, maar nie daar kon aanbid nie. Bloot omdat hulle velkleur anders was.

Ek dink ek is skaamkwaad wanneer die internasionale media ons Afrikaners uitbeeld as skurke. ‘n Deel van my is skaam omdat dit ‘n waarheidsnaar tokkel. ‘n Ander deel van my is kwaad, want dis nie hoe alle Afrikaners is nie, hoe ek as Afrikaner in my hart voel nie.

Nelson Mandela het die volle impak van die Afrikaner-beheerde Nasionale Party se wette gevoel. Hy wou iets doen om daardie deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, sý mense, wat nie kon deel in alles wat ons pragtige land bied nie, ten minste ‘n regverdige happie van die koek te gee. En hiervoor het hy ‘n dure prys betaal. Hy is gelukkig dat hy darem met ‘n gedeelte van sy lewe daarvan afgekom het toe ‘n derde daarvan  van hom weggeneem is. Sewe-en-twintig jaar!

Ná die aankondiging dat hy vrygelaat gaan word, het baie mense geskarrel om voorbereid te wees  op die hel wat gaan losbars wanneer ons die skerpkant van sy wraak en woede gaan voel. Ek glo baie van hierdie mense het geredeneer dat dít is hoe húlle sou optree as hulle in sy posisie was. En toe gebeur daar niks. Alles verloop vreedsaam, behalwe vir ‘n groep Regse Afrikaners wat hulle naam krater gemaak het toe hulle die KODESA-samesprekings wou ontspoor het.  Mandela stel ‘n Afrikaanse blanke vrou as sy persoonlike assistent aan en verskyn voor die hele wêreld in die Groen-en-Goud, die einste gesogte kleure wat vir so baie jare net vir blankes gereserveer  was. Kort hierna besoek hy Orania om ‘n hand van versoening aan Mev. Betsie Verwoerd te bied. Betsie Verwoerd! Die eggenote van die man wat aan bewind was toe sy beste jare van hom weggeneem is. En hy woon ‘n Sinode-sitting van die NG-kerk by – die einste kerk wat sy mense nie wou toelaat om saam met Afrikaners te aanbid nie.

Vandag wonder ek hoe Suid-Afrika sou gelyk as hy vroeër die leisels kon gevat het. Sê nou maar net voor die Soweto-onluste. Sou daar nou ‘n geslag gewees het wat minder  onverdraagsaam teenoor ander bevolkingsgroepe in ons wonderlike land is?

Ons sal nooit weet nie. Daardie kans het ons Afrikaners deur ons vingers laat glip. Madiba het probeer, maar sy tyd was te min. Sy beste jare lê tussen die fyngekapte kalkklippe op Robbeneiland.

Mag sy gees voortlewe en saad van versoening oor ons wonderlike land strooi.