VANJAAR IS DIT VYFTIG JAAR…

VANJAAR IS DIT VYFTIG JAAR…

medics

Hulle het die dood en verwoesting eerstehands beleef en die letsels is vandag steeds so duidelik. Dalk is dit omdat hulle in Brittanje en Europa soveel nader aan die aksie was, dat Wapenstilstandsdag baie meer intens onthou word as in Suid-Afrika. Remembrance Day. Armistice Day 11 November.

My ou seun was in die “Army Cadets” hier in Engeland toe hy nog op skool was. ‘n Nasionale jeugorganisasie geborg deur die Ministerie van Verdediging en die Britse Weermag. Jaarliks op Remembrance Sunday, is daar kransleggingseremonies landswyd met militêre optogte en  gedenkdienste. Een jaar het hy ook aan so ‘n optog deelgeneem en skelmpies ‘n Suid-Afrikaanse vlaggie aan sy uniform vasgesteek. Daarmee wou hy op sy manier hulde bring aan al die Suid-Afrikaanse soldate wat tydens die twee wêreldoorloë diens gedoen het.

En natuurlik ook aan die geslag manne wat tydens die Grensoorlog gesneuwel het en met letsels gelaat is.in-die-bos

Die hartseer en leemte wat ‘n gesneuwelde gedurende die oorlog in Suidwes en Angola gelaat het, het ‘n groot impak op talle Suid-Afrikaanse gesinne gehad. Beserings  het lewens onherroeplik verander.begrafnis

En dan was daar ook daardie letsels wat niemand kon sien nie. Wonde wat nie bloei nie.

Sy belewenis van die werklikheid het byna skisofrenies geword: ’n Rasionele ervaring wat presies verstaan wat gebeur het en waarom. En ’n emosionele ervaring wat dit moeilik maak om dit hier, ver van waar dit gebeur het, te hanteer.

 Op die grens het die oumanne hieroor gepraat. Van die nagte waar jy depressief rondrol, sleg slaap, sweet en angsaanvalle kry wat in drome begin waar jy in ‘n bos vol landmyne verdwaal en mense hoor skreeu en huil.

 En dan skrik jy telkens vervaard wakker. Gillend, natgesweet.

 Heel dikwels klou ons vas aan herinneringe uit “die goeie ou dae”. Maar dan is daar ook herinneringe wat ons diep wegpak en huiwerig oopmaak.

 verslae-troep-2

Of vir altyd probeer toehou. Herinneringe wat met niemand gedeel word nie.

Hy het ‘n plekkie wat hy koester, ‘n stil plekkie waar hy min mense toelaat. Hy treur en lag daar tussen herinneringe deur wat nooit uitgewis sal word nie. Herinneringe aan vriendskap, liefde en omgee vir broers saam met wie hy geskerts, gehuil en gesweet het. Broers saam met wie hy met laaste lig ‘n sigaret of pakkie Super C gedeel het. Broers wie se verminkte liggame hy vasgehou het terwyl die lewe, rooi gevlek, in die wit sand weggesyfer het – saam met sy jeug.

 verslae-troep

Daardie dae raak weg in gister, maar bly vlak in sy wese.”

UIT: MONOCHROOM REENBOOG – ANDRÉ FOURIE

Vanjaar is dit presies vyftig jaar sedert die eerste skote van die Grensoorlog geklap het. Kom ons raak hierdie week vir ‘n oomblik stil en dan dink ons aan ons pa’s en seuns en broers, aan eggenotes en geliefdes wat gesneuwel het.

En ons dink ook aan hulle wat met wonde en letsels deur die lewe gaan – ook daardie bloedlose wonde.

kiste

Saluut!

lest-we-forget

MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

2 thoughts on “VANJAAR IS DIT VYFTIG JAAR…

  1. Oorlog is wreed en hoe nader aan die huis, hoe wreder. Kom ons hoop en bid dat oorlog vir ons kinders en kleinkinders gespaar sal wees en nee, ek glo nie iemand wat deel was van die grensoorlog sal dit ooit vergeet nie. Dankie vir die deel.

Leave a comment