MÔRE?

Vandag is my laaste dag op aarde.

Vir weke lank peins  ek al oor hierdie dag. Hoe gaan ek optree? Wat gaan ek doen? Gaan ek hartseer, opgewonde of benoud wees?

Vandag, presies nege jaar gelede, was ook my pa se laaste dag by ons – dis nou in die vlees.  Natuurlik het niemand van ons dit toe geweet nie. Dis juis dáárdie dag wat die bal aan die rol gesit het.

Wat sou ek anders gedoen het as ek destyds geweet het dat dit sy laaste dag was? Sou ek hom elke uur gebel het of sou ons saam ‘n lekker maaltyd gaan eet het? Soos ek hom ken, sou hy geskarrel het om sy garage vir oulaas te orden of seker te maak sy “dokumente” is in orde. Elke Vadersdag en verjaarsdag en kersfees wonder ek hieroor. Wat sou ons gedoen het as ons geweet het?

So, wat gaan ék vandag anders doen?

Ek wou nog altyd geproe het hoe truffels smaak. En of daar werklik so groot verskil in smaak is tussen ‘n peperduur bottel wyn en ‘n goedkope. Vandag gaan ek uitvind. En ‘n lugballonvaart…

Nee! Natuurlik is dit nie regtig my laaste dag nie (ek hoop nie so nie). Hoe sal ons nou weet? Maar sê nou maar…

Daar word vertel van die man wat by die dokter hoor dat dit wel sy laaste dag is. Diep bedroef en onsteld gaan hy huis toe – peinsend oor hoe hy sy laaste ure wil deurbring. Hy kry sy vrou in die kombuis doenig en deel haar die skoknuus mee. Natuurlik is sy in ‘n toestand en tranerig. Dis toe dat hy haar vertel wat hy met sy laaste tydjie wil doen:

“My lekkerste tyd ooit was ons wittebroodsnag. Onthou jy hoe ons room service bestel het en ons die hele nag aan ekstatiese liefde oorgegee het? Dis wat ek weer wil doen. Ek meen ek het nog net so agtien ure oor. Die kinders kan vir ons room service bring.”

En so word die daad by die woord gevoeg. Die hele dag dra die kinders kos en lekkernye kamer toe – so met asemskeptye van Pa en Ma. Dis later laataand en die vrou (en kinders) is uitgeput, maar dan kom die volgende versoek:

“Skatlam, dis nou nog net so agt ure oor; kan ons dit weer doen?”

En dan skraap die vrou haar energie bymekaar om aan haar man se laaste wens te voldoen.

Op ‘n stadium kreun hy hier langs haar: “Skatlam, dis nou nog net so vier ure…”

“My skat, luister,” val sy hom in die rede, “ genoeg is nou genoeg. Jý mag dalk nie nou-nou vir werk hoef op te staan nie, maar ék moet wel.”

Ek sien anderdag reaksies van mense op die vraag: Wat sal jy doen as dit jou laaste dag is?

Interessant genoeg het die meeste mense in die groep  so min of meer die volgende drie begeertes vir hul laaste oomblikke:

  • Ek sal weglê aan my gunsteling geregte
  • Ek sal bid en vergifnis vra vir al my sonde (selfs nie-gelowiges – so vir in case daar dalk toe nou wel ‘n hel en hemel is).
  • Ek sal die dag saam met geliefdes deurbring en vir hulle vertel hoe lief ek vir hulle is.

Hierdie drie wense is die sentrale tema van die meeste mense – so tussen die grapkaste deur.

Ons hoor baie dat ons moet “lewe asof daar nie ‘n môre is nie” of “lewe asof vandag jou laaste is”.

Die realiteit is dat daar vir die meeste van ons wel ‘n môre is. Ek kan myself nie vandag aan truffels en kreef gaan dik vreet nie, want môre het ek nie geld vir brood nie.

Maar daar is wel ‘n paar goed wat gedoen kan word, juis omdat daar ‘n môre is. Soos  daai “bid-en-vergifnis-” en “geliefdes-en-liefhê-dele” hierbo.

Ons het gelukkig nie nodig om hierdie goed vir die laaste dag te bêre nie. Nooit gesien. Doen dit nou. Maak die beste van elke asemteug, soos die kinders in die volgende video:

(Kyk op volskerm met klank aan)

http://www.youtube.com/watch?v=PHe6RpK6OnU

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s