IS DAAR WERKLIK ‘N BEGIN EN ‘N EINDE?

time portal

Sedert ek jare gelede die rolprent, “Somewhere in Time” met die pragtige Jane Seymour en Christopher Reeve gesien het, het ek ‘n fassinasie met reise oor tydsgrense heen. Ouens wat baie slimmer as ek is, gebruik terme soos “geslote tydagtige kurwes”, “kosmiese stringe” en “kwantum swaartekrag” in ‘n poging om hul teorieë te staaf – volgens hulle kan daar (in teorie) wel oor tydsgrense heen gereis word. My oupa sou gesê het, “Jong, e-e-ek, weet darem nie”. Ten spyte daarvan dat daar oor die jare heen al baie e-e-ek-weet- darem-nie’s verkeerd bewys is toe ons wel met selfone vakansiefoto’s begin rondstuur en banksake gedoen het, vliegtuie vinniger as klank kon vlieg en enkele tieners self hulle kamers aan die kant begin maak het (ja, dis waar!), is ek nogal geneig om met my oupa saam te stem.

Ek het al baie gewens ek kon die tyd terugdraai om iets anders te doen as hoe ek dit gedoen het. Of gou gaan kyk wat wag in die toekoms voordat ek ‘n belangrike besluit neem. Ek kan egter nie sien hoe tyd, soos ‘n CD of DVD, ge-rewind of ge-forward kan word nie – om baie redes.

Wat ek wel die laaste tyd oor wonder, is die konsep van tyd in die ewigheidskonteks. En hier kom ‘n baie groot SÊ-NOU-MAAR in die prentjie in. Want hoe sal ons nou ooit met sekerheid weet?

Sê nou maar tyd het nie ‘n begin of einde nie? (En daar verloor ek nou die helfte van my lesers! ‘n Waarskuwing aan die oorblywende een – dit word selfs meer kompleks.)

Tyd, soos die gemiddelde mens dit ken, word gemeet met horlosies en kalenders en is gekoppel aan seisoene asook son- en maanbewegings. Maar dit is relatief, want tydsones kom ook nog in die prentjie in. Wanneer die mense in Australië die sonsopkoms van ‘n nuwe dag bewonder, maak mense op ander plekke gereed vir ‘n nagrus. Ek onthou toe my pa in Suid-Afrika dood is, was dit na middernag daar, maar nog voor middernag hier in Engeland. Ek en my sus het dus verskillende datums vir my pa se sterftyd.

Ek wonder egter oor ‘n ander konsep van tyd.

Dit het alles met ‘n droom begin. Ek droom ek loop ingedagte op ‘n pad. Skielik bevind ek my op ‘n totaal onherkenbare plek – ‘n vreemde dimensie. Niks lyk soos ek dit op aarde ken nie. Ek raak byna paniekerig en wonder hoe ek daar gekom het. Ek besef dat ek verdwaal is en draai om. Ek begin terughardloop en kom by ‘n vreemde ingang – een van daai wat soos water  in sci-fi-films lyk (die Engelse noem dit ‘n “portal”). Met mening spring ek terug deur hierdie “portal” … en skrik wakker. Ek wonder toe of ek dalk vir ‘n oomblik dood was en weer bygekom het. Was ek vir ‘n oomblik in ‘n ander dimensie? (Iemand wat ek ken het ‘n hartaanval gekry toe hy die huis instap en soos ‘n boom neergeval. Talle tekens het agterna daarop gedui dat hy vir ‘n oomblik dood was en met die slag van die val weer teruggebring is.)PORTAL

Dis toe dat ek begin wonder oor die mens se bestaan – die geboorte en dood, die begin en die einde. En daarna …

Hierdie ge-wonder is natuurlik niks nuuts nie en is so oud soos die mensdom self. Baie mense se gedagtes oor die onderwerp word as die alfa en omega (verskoon die woordspeling) verkoop en talle godsdienste en sektes is al daar rondom gebou. Van my kleintyd af weet ek van die hemel en die hel. Soos talle godsdienste vertel, is die hel ‘n plek van ewige straf vir dinge wat jy tydens jou leeftyd verkeerd gedoen het en die hemel is ‘n plek van ewige beloning omdat jy soet was en glo. Ander godsdienste vertel weer van reinkarnasie of die onderwêreld.

Ek weet dat ek, lewende wese, uit twee primêre dinge bestaan: weefsel en energie. Alle lewende organismes bestaan daaruit. Weefsel, in die mens, bestaan uit water, proteïne, vette, koolhidrate en minerale. Wanneer jy jou laaste asem uitblaas, of jy nou deur ‘n leeu opgevreet en uitgeskei word en of jy nou begrawe word, jou liggaam word basies kompos. Dit word afgebreek in verskillende prosesse tot ‘n veelvoud van stowwe. Jou brein ook – jou geheue word uitgewis. Daar bly niks van die weefselgedeelte van jou liggaam oor soos mense dit onthou nie. (Alhoewel, ek wonder ook baie oor die oorplasing van DNA, menslike chimeras en sulke goed, maar dit is ‘n gesprek vir anderdag). Jou energie, egter, gaan nie tot niet nie. Einstein het ons al vertel dat energie, veral in ‘n ope sisteem soos jou liggaam of die aarde (waar ons energie met ons omgewing uitruil), nie vernietig word nie, maar bloot aangaan, meestal in ‘n ander hoedanigheid. Energie word dus getransformeer.

En dit is op hierdie punt dat my ge-wonder groter word.

Veronderstel (daai sê-nou-maar!) ons almal  lewe in ‘n spesifieke dimensie (tans die aarde) in ‘n spesifieke tyd op ‘n tydlyn. Die lyn strek terug die ewigheid in en so ook vorentoe die ewigheid in (onthou, die heelal is onmeetlik groot en, so word daar gedink, brei steeds uit). Een heuglike dag op aarde soen jou ouers mekaar, een ding lei tot die volgende en, siedaar!, jy word op aarde verwek – met die liggaam waarin jy hopelik die aarde gaan bewandel. Jy is steeds net ‘n bondel water, proteïne, vette, koolhidrate en minerale – totdat energie jou lewe gee. Jou “power pack start jou op”.  Jou “power pack” gee nou lewe aan die vorm wat daai water en vet en goete aangeneem het – jou liggaam. Die “power pack” kon dalk net sowel in ‘n koei of ‘n boom ook beland het, maar dit was vir jou bestem. Of hoe?  Nou skop ‘n menigte interne en eksterne faktore in om jou te vorm – jou persoonlikheid, jou geloof, jou kulturele waardes, intelligensie en so aan.

 Waar kom daardie energie vandaan en waaraan het dit lewe gegee, wat was dit voordat dit getransformeer en in my liggaam kom vestig het?

Is dit ons siel?

Terug na my droom. Sê nou maar daardie energiebal beweeg op hierdie tydlyn langs, dalk selfs heen en weer – vir ewig. Hy beweeg deur “portals” van een dimensie na die ander en neem verskillende vorme aan van een dimensie na die volgende. Dalk bly hy selfs twee of meer kere op aarde in verskillende liggame of vorme. Binne-in hierdie dimensies mag daar dalk, soos op aarde, ‘n verloop wees, ‘n geskiedenis met tydsaanduidings wat deur die wesens van daardie dimensie geskep is. Hierdie dimensies is egter onafhanklik en totaal verskillend van mekaar. Wat in een dimensie gebeur, het geen relevansie in ‘n ander nie. Dis hoekom daar geen konsep van tyd vir die bewegende “power pack” is nie.ENERGIEBAL

Is die hemel of hel een van hierdie dimensies? Soos in Monopolie. Go to jail – of dan nou hel/hemel.

Ja, ek wonder sommer. Maar hoe sal ons nou weet?

Haai wag, dis teetyd! Wel, ten minste hier waar ek nou is. Ek en my “power pack”. Op hierdie spesifieke tydstip…  Ag, vergeet dit!

3 thoughts on “IS DAAR WERKLIK ‘N BEGIN EN ‘N EINDE?

  1. Nes ek vrede in my gemoed oor al die vrae het, kom skop jy weer ‘n miernes oop, André! Wie weet hoe lank gaan ek hieroor kriewel. Vir my is tyd nie liniêr nie. Dit is oneindig en so lyk dit ook vir my. Ja, en wat daarbuite? Dit kan my ‘n nag lank laat wakkerlê. Baie nagte. Van kindsbeen af. Dit is TYD dat ons koffie drink en die verskynsel TYD deurpraat. Ook sommer siel en gees ook. En materie wat nie geskep en ook nie vernietig kan word nie. En nog baie ander dinge. Skryf, ek lees! Dankie.

  2. Dit is nou diep en nadenkende leesstof, puik dat jy so ‘n onderwerp aanpak, skitterend verwoord, want dit bly maar ‘n moeilike onderwerp…….”STOF TOT NADENKE” !!! Welgedaan !!

  3. Daar in Openbaring 3 rond is daar ‘n versie wat praat van ‘n poort in die hemele wat geen mens kan oop- of toesluit nie. Sommige sci-fi kenners beweer dit verwys na ‘n “stargate.” My begrip is effens te junior daarvoor.

Leave a comment