IS ALLE MA’S SO?

hande

Sondae laat my aan Ma dink.  En ook nie net omdat Ma die sedebewaker in ons huis was nie.

Sondae vroeg is ons, anders as gedurende die week, met koffie in die bed wakker gemaak. Op ‘n skinkbord met lekker lang stukke tuisgebakte anysbeskuit of die vorige dag se vetkoek of iets om saam met die koffie te eet. Daar gaan nie later tyd vir ontbyt wees nie, want daar moes betyds  klaargekry word. ‘n Halfuur vóór die kerkdiens begin, het ons op ons gereelde plek gesit, tweede ry van agter, links.

Die skaapboud of braaihoender is vóór kerk al op lae hitte in die oond gesteek. Ná kerk is die groente, wat ook al vóór kerk geskil is, op die stoof gesit en is met die poeding begin. Die huis was gevul met geure – ’n Sondagreuk – en Ma se musiek uit die radio op die yskas. Die Afrikaanse stasie se Klassiekekeur – In ‘n Kloostertuin van Albert Ketelbey, Mario Lanza met I’ll Walk with God… Ma se musiek.

Chris Kristofferson voel ook so ietsie hiervan as hy sing:

Then I crossed the empty street,

‘n caught the Sunday smell of someone fryin’ chicken.

And it took me back to somethin’,

That I’d lost somehow, somewhere along the way.

Wanneer ek Ma se musiek hoor, begin my mond ook soos Pavlov se hond  s’n water.

Soos die oggend aangestap het, het die geure die huis begin vul en teen die tyd wat Ma die tafel begin dek het en Pa die vleis begin sny het, het sy hom van agter om die lyf gevat, op haar tone gestaan en hom in die nek gesoen. Pa se gesig het dan in ‘n glimlag geblom en aan tafel het hy Ma se hand styf vasgehou.

“Segen Vader, laat ons nimmer u Naam vergeten, Amen”.