SAAI OM TE OES?

SAAI OM TE OES?

STADSAAL10

Woensdagaand, met die foto’s van ’n brandende Bloemfonteinse stadsaal wat soos ’n veldbrand deur die internet versprei is, het iets diep binnekant in my meegegee.

Ons skoolleuse was, SAAI OM TE OES. Die aand met my matriekafskeid, was die tema vir die aand deur ons skoolwapen geïnspireer en die skoolhoof het ʼn aangrypende toespraak gelewer aan die vooraand van ons groep jongmense se volwasse lewens. Sy boodskap was gebaseer op die skoolleuse: Saai om te oes. Wat jy vandag saai, maai jy in die toekoms. Ons matriekafskeid was, ironies genoeg, in die Bloemfonteinse stadsaal.STADSAAL 1

As laerskoolseun het ek baie ure in daardie gebou deurgebring. Dis daar waar kleinsus Elmarie ‘n A-Plus vir voordrag gekry het. Dis ook daar waar ek elke jaar albei my sussies met balletkompetisies gaan ondersteun het, nie altyd noodwendig besonder vrywillig nie. In die hoërskool was dit minder teësinnig, so met die klompie tienerballerinas wat ontluikende hormone op aandag laat spring het (nè Santie?). Een Saterdagaand, egter, het ek en Pa genoeg ballet vir die jaar gesien en besluit toe om eerder inry toe te gaan – net ons twee. ʼn Regte manne-aand met cowboy-fliek, hamburgers, tjips en al.

In daardie saal het ek en Willie, as skoolseuns, talle optredes gaan kyk. Met ons kerkpakke aan, want Pa het gesê as ʼn man in die aand uitgaan, dan trek hy ordentlik aan – en buitendien, dis die stadsaal. Al Debbo, Joe Dolan en nog vele ander. Later jare die Claxons en andere. Die laaste keer wat ek in hierdie besondere saal was, was met ʼn matriekreünie toe jarelange vriendin, Alice en haar kroos die gehoor met hul musiektalent vermaak het.STADSAAL 9

ʼn Onthaal of enige funksie in die stadsaal was ʼn deftige affêre. Daar is vertel dat die dansvloer een van die bestes in land was. STADSAAL 7

 

Destyds, toe die stadsaal net so na die depressiejare gebou is, is kiaat uit Birma en marmer uit Italië vir die afwerking ingevoer. Sandsteen is gebruik vir die buitekant om aan te pas by die ander historiese geboue in President Brandstraat. Die Raadsaal waar die indrukwekkende standbeeld van generaal De Wet op sy perd, Fleur, net so oorkant die stadsaal aandag trek. Die Appèlhof, van waar heelwat internasionale uitsendings van opspraakwekkende hofsake al gebeeldsend is, net so langs die stadsaal.STADSAAL 10

In 1947 is die Britse koninklikes hier onthaal.STADSAAL 8

Nou is daar ‘n uitgebrande ruïne in ‘n spogstraat. ‘n Swartverbrande karkas van goeie herinneringe.STADSAAL 11

Al hierdie dinge flits toe deur my kop toe ek die foto’s van die saal in ligte laaie sien. En daar knak toe iets. Wat dit presies was, weet ek nie. Skielik het ek kwaad geword vir die ewige baklei in Suid-Afrika. Tot in my murg hartseer om te sien hoe so baie dinge wat vir my waarde het, verwoes word.  Siek en sat en moeg om my velkleur te verdedig en heeltyd die ander wang te draai – ter wille van politieke korrektheid, vrede en welwillendheid.

En ek het gewens daardie oproeriges (ek kan ander woorde ook hier gebruik) kon na die toespraak luister wat ons skoolhoof destyds met die matriekafskeid gelewer het.

Saai om te oes.

Want Woensdagaand is daar niks behalwe verwoesting gesaai nie.

Daar kan mos nie ‘n oes wees nie!

(EK WIL BENADRUK DAT GEEN VAN DIE FOTO’S IN HIERDIE ARTIKEL MYNE IS NIE – DIT IS VAN ORAL GELEEN)

VAN DIE SWARTSPAN NA DIE GROENSPAN

VAN DIE SWARTSPAN NA DIE GROENSPAN

meisies in kaapstad

DIE 1960’S – MEISIES TREK AANDAG  MET HULLE MINIROKKE

Die meeste mense in Suid-Afrika weet waarmee hulle besig was: 6 September 1966. Abrie Cronje was tien en Springbok-radio se middagvervolgverhale het sy aandag gehad met sy natuurstudieboek voor hom oop. Eintlik was dit huiswerktyd en daarom het hy oudergewoonte ‘n skoolboek voor hom gehad terwyl hy stories geluister het – meestal was dit maar net vir die skyn, die boek. springbok radioDie middagstories was destyds se sepies – Die Geheim van Nantes, Die Banneling, Die Wildtemmer, Die Wit Sluier… stories wat die land aangegryp het. Nie juis almal in die kraal van ‘n laerskoolseun nie, maar enige iets was beter as huiswerk doen…

die wit sluier

ERNSTIGE SAKE – DIE WIT SLUIER

_________________________________________________________________

Die stories en al die ander radioprogramme word skielik deur die sein van ‘n noodberig onderbreek: Doktor Verwoerd is deur ‘n parlement-bode met ‘n mes gesteek. Elke paar minute kondig die sein verdere verwikkelinge aan totdat die finale skokboodskap gelees word. Spesiale uitgawes van Die Volksblad en ander dagblaaie versprei die nuus met foto’s en groot swart letters. Suid-Afrika word verpletterend in rou gedompel met die dood van sy Eerste Minister. Vlae hang halfmas.

2851153_141019191141_die_landstem_6_sept66

Die dag met die begrafnis hou die land se ratte op met draai; alles staan stil. Abrie-hulle volg die lewendige uitsending daarvan oor die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika. Dit word ook oor die Engelse stasie uitgesaai, maar hulle luister nooit eintlik Engels nie.

SA Spieël/SA Mirror, wat die weeklikse nuushoogtepunte na die rolprentteaters bring, wys dele van die begrafnis die volgende week op die groot skerm. In die inryteater kan gesien word hoe ‘n volk in massa treur. Mense uit alle vlakke van die samelewing staan gepak langs die roete wat die kanonwa met die kis, gedrapeer in die Oranje-blanje-blou, na die Helde-akker volg. ‘n Weermag-Bedford met blinkswart bande trek die kanonwa. Stroefgesig soldate marsjeer stadige pas, op maat van die dodemars.

Abrie kom nie agter dat dit eintlik maar meestal die witmense is wat met Verwoerd se begrafnis treur nie. Op die skerm in die teaters kan hy baie nuuskieriges van alle gemeenskappe langs die roete sien. Maar dit val hom nie op dat almal nie hartseer is nie.

Abrie is in standerd drie. Hy het al baiekeer gewonder wat die resultaat van die een of ander slim ou se navorsing sou wees. Sy navorsing sou kyk na die effek wat die omgewing waarin ‘n kind grootword, op sy lewe het.

kinders op parkbankie

KINDERS OP ‘N PARKBANKIE IN DIE 1960’s

Abrie is ‘n Suid-Afrikaner. Sy land word deur die buitewêreld verag, gesanksioneer en beswadder. Suid-Afrika is die wêreld se muishond. Dit is isolasiejare en sy Springbokhelde speel net so nou en dan ‘n toets. Sy provinsie is in die oë van nie-Vrystaters so plat en oninteressant, dat selfs die voëls glo onderstebo daaroor vlieg.  Dit is ook nie regtig wetgewing wat Indiërs verbied om langer as vier-en-twintig uur in die Vrystaat te vertoef nie – so word daar gespot – hulle wíl blykbaar nie langer bly nie. Nie eers die feit dat staatspresidente en ander groot geeste daar gebore is, kan die provinsie se aansien opstoot nie. Sy rugbyspan is meestal kookwater, maar word altyd in die pylvak van die Curiebeker geklop. Bloemfontein, sy geboorteplek, hoofstad van die Vrystaat, bakermat van Afrikanerdom – is dit nodig om meer te sê? Afrikaners word wêreldwyd dikwels voorgestel as agterlik, verkramp en dom. Soms ook deur mede-landgenote wat nie-Afrikaners is. Sy laerskool is nog jonk, geen swembad of rugbyvelde soos die ander ouer, gevestigde skole nie en die geboue is opslaangeboue van vaal asbespanele. Al die kinders van sy skool is volgens vanne in sportspanne ingedeel, nie volgens die een of ander merietestelsel nie. Daar is drie spanne. Die Blouspan (vanne Q tot Z) wen altyd. Die Rooispan is altyd tweede en sý span, die Swartspan (ernstig!) is altyd laaste. Stel jou voor! Rasieleiers met swart klere en atlete met swart rosette. Hy’t nog altyd  gewonder wie op aarde die kleure gekies het. Dit is dalk die rede hoekom hulle altyd laaste is. Geen verwagting of spantrots nie. Hoe op aarde kan daar met die flambojante bloues en rooies meegeding word? So halfpad deur sy laerskooljare skop ‘n nuwe onderwyseres in afgryse vas en stel voor dat dit die Groenspan word. Dieselfde vanne, dieselfde kinders, maar nou is hulle die  Groenspan. Die Groenspan is steeds laaste, maar hierdie keer met teleurstelling, want nou was daar verwagtinge. Hulle is tog immers nou op gelyke voet met die ander spanne met ewe spoggerige rosette.

swartspan

Ja, jou van kan ‘n groot verskil maak in die rigting wat jou lewe inslaan. Dit kan selfs bepaal in watter span jy is.

Veronderstel nou net dat hy in Texas, in Amerika gebore is. Daar waar alles groter en beter voorgestel word. So wonder hy baie, dieselfde hy, maar op ‘n ander plek. As seun van ‘n oliebaron wat die Dallas Cowboys ondersteun. ‘n Land wat, sonder om druipstert te wees, sportspanne na die Olimpiese Spele kan stuur. Wie se vlag een van die herkenbaarste simbole ter wêreld is. Wat flieks maak van sy oorwinnings oor die Indiane, Duitsers en Japannese. ‘n Land wat verskoning vir niks en niemand vra nie. Oor wie se president die hele wêreld treur ná sy sluipmoord. Sou hy ‘n ander tipe mens gewees het? Hoe ‘n tipe mens sou hy, Abrie, gewees het as hy dáár gebore is? Of dalk, sê nou maar by die Boesmans? Of by die Sotho’s?

Met volwassenheid en nabetragting kom, meestal – en hopelik — insig en dit was eers nádat hy sy vlerke gesprei het en ánder, nie noodwendig groener nie, weivelde verken het, dat die besef tot hom gekom het: Hy was bevoorreg. Sy kinderjare in Bloemfontein, in die Vrystaat, in Suid-Afrika, in die Swartspan was stene uit sandsteen gekap. Dit was die boustene van ‘n fondament waarop sterk mure gebou kon word, mure wat hom later jare kon skans teen die aanslae van die lewe.

Bloemfontein in the late 1960s (22)

BLOEMFONTEIN SE MIDDESTAD – 1960’S

Verwoerd se sluipmoord en die verkiesing van ‘n nuwe Eerste Minister oorheers vir weke die nuus. Dimitri Tsafendas het ‘n huishoudelike naam geword en John Vorster word as Verwoerd se opvolger aangewys.

Lees verder in MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

ENKELE KOMMENTARE OP MONOCHROOM REËNBOOG

11226051_10206786952410922_759259504811044360_n

ENKELE KOMMENTARE OP MONOCHROOM REËNBOOG

(SOOS VERSKYN IN LITNET  )

Annette le Grange

‘n Moet lees boek. Skitterende skryfstyl, eerlik, openhartig. Die storie tref mens fel,veral vir ons wat in daardie era groot geraak het. Die boek lewer ‘n intense genot en mens is half jammer daar is nie nog hoofstukke oor nie, veral as jy lees en besef dit is die laaste bladsy. Baie geluk mnr Fourie, jou boek is beslis aan te beveel vir jonk en oud. Stukkie ware geskiedenis van ons brose land en sy mense.

  • Gert Burger

    Een boek wat ek sonder twyfel sal aanbeveel. Veral die mense wat die tyd van die bosoorlog intens belewe het, kan dalk uitvind hoe naby hierdie verhaal aan hul eie belewenisse is.

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Monochroom Reënboog is ‘n boeiende boek. Die taalgebruik en skryftrant pas treffend aan by die verskillende lewensfases van Abrie, die hoofkarakter. Fourie skilder omgewing, omstandighede en situasies só helder en lewensgetrou, dat ‘n mens sterk daarmee kan identifiseer – veral as jy self ‘n oud-Bloemfonteiner is. Hierdie boek leen hom m.i. nie tot ‘n opvolg van enige aard nie, maar ook ander skeppingswerk van Fourie sal ‘n aanwins wees vir die Afrikaanse boekrak. Ons sien uit daarna.

  • Dr G M Augustyn

    Ons wat bevoorreg is om Andre in persoonlike verskyning te ken, hier in Engeland, weet dat die man sy woorde weeg en kies, en dat hy versigtig omgaan met mense omdat hy broosheid diep ken. Sy verhaalkuns in Monochroom Reënboog bring lekkerte in vele opsigte, want ook daar is ontwerp en fyn kies van woord en gedagte volop vir die genietleser en die ontledingsleser. Knap gedaan, Andre!

  • Andre De Wet

    As ‘n seun van ‘n soldaat wat self in die 70’s groot geword het was dit ‘n ongelooflike grypende boek. Ek kon myself inleef in heelwat van die situasies. Ek bly ook nou in Engeland en die boek het erg aan my hartsnare getrek.

  • Willie Brits

    Ek was weer teruggevoer na my kinderdae op ‘n wyse wat my ‘n knop in die keel gegee het. André jou eerlike, gemaklike skryfstyl gee geloofwaardigheid aan jou boek. Wel gedaan my vriend. Ek kan nie wag vir die opvolg nie.

  • Andre Eloff

    Toe ek die boek lees het my eie lewe en grootwordwêreld voor my afgespeel. Ek is deeglik herinner aan die ou dae. Die boek is briljant geskryf … vol hartseer, verlange, nostalgie, vreugde en letterkunde met ‘n sterk geskiedkundige inslag.
    Ek het dit geniet … dankie Andre. Maak weer so!

  • Colleen Potgieter

    Ek het so pas ‘n boek klaar gelees … dit was fantasties … kry dit, koop dit of leen dit, maar lees dit. Die boek: Monochroom Reënboog geskryf deur André Fourie.

  • Herman du Plessis

    Baie geluk met ‘n uitstekende boek. Ek het elke bladsy geniet, en lekker gelag, gehuil, en opgewonde geraak saam met jou karakters. Dit het my soveel nostalgiese genot verskaf om te lees van ons herkoms in hierdie monochroom reënboogland. Ek lees al Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Stigg Larson, Jo Nesbo, Deon Meyer en Wilbur Smith se boeke, en kan nou die naam van Andre Fourie daarby voeg.

    Welgedaan, en mag daar nog baie uit jou pen vloei. Jy mag maar!

  • Johan Noordman

    Nooit so geboei deur ‘n boek nie – wens dit het nog 20 addisionele hoofstukke gehad. Kan nie wag vir ‘n volgende treffer nie.

    LEES HIER MEER OOR MONOCHROOM REËNBOOG

 

LITNET: ANDRÉ FOURIE OOR MONOCHROOM REËNBOOG

11226051_10206786952410922_759259504811044360_n

LITNET VRA TIEN VRAE AAN ANDRÉ FOURIE OOR MONOCHROOM REËNBOOG

  1. Waarom het jy Monochroom reënboog geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Ons woon tans in Engeland en eendag het die verlange na Suid-Afrika en my mense die oorhand gekry. Ek het sommer begin skryf aan ‘n storie uit my kinderjare in Bloemfontein en toe ek weer sien, het ‘n boek begin vorm aanneem.

2. Waaroor handel die storie?

Dit is die verhaal van Abrie, ‘n seun wat grootword gedurende die 1960’s en 1970’s in Bloemfontein. Die storie strek oor tien jaar en vertel van Abrie se lief en leed, sy verhoudings met mense van verskillende kultuurgroepe, sy bewuswording van apartheid en sy twyfel in die standpunt wat hy ten opsigte van die kwessie moet inneem. Abrie se tienerhormone skop ook in met gepaardgaande eerste liefde (en later ernstiger romanse). Die laaste gedeelte van die boek handel oor sy diensplig, belewenisse op die grens en die impak wat dit op sy lewe gehad het.

 3. Die titel roep kleurvolle en ook teenstrydige aspekte op: vertel asseblief iets hiervan.

Suid-Afrika staan as die reënboognasie bekend, maar ons weet almal dat daar ‘n tyd was (en selfs vandag nog is) toe die reënboog nie so kleurvol was nie en hoofsaaklik maar in skakerings van swart en wit was. Dit titel verwys ook na ‘n blaai deur ‘n album vol monochroom foto’s van onthoutye en wonderlike (maar ook nie-so-wonderlike-nie), kleurvolle dae.

  1. Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

LEES VERDER:

Tien vrae: André Fourie oor Monochroom reënboog

 

 

VRYSTAAT KUNSTEFEES

Vandag ‘n jaar gelede het ek die gedenkwaardige voorreg gehad om twee baie besondere mense aan my sy te gehad het tydens die bekendstelling en bespreking van my boek op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Maretha Maartens en Nico Luwes, julle was my Aäron en Hur.

Monochroom Reënboog is steeds beskikbaar. Kliek hier vir meer inligtingMONOCHROOM REËNBOOG TE KOOP

IMG_0956

Nico Luwes, Maretha Maartens en die uwe

DSC_4120

DSC_4067

DSC_4107

Martinique en Clariece laat die geld inrol

DSC_4115IMG_0961

DSC_4051

Twee jong boekwurms – Samantha Hurst en Andrew Candiotes

ARTIKEL IN GET IT (1)ARTIKEL IN GET IT (2)

LEES GERUS MEER OOR DIE BOEK IN… TYDSKRIFARTIKEL OOR MONOCHROOM REENBOOG

LEES OOK HIER MEER OOR DIE OORSPRONG VAN DIE BOEK IN “Tien vrae: André Fourie oor Monochroom reënboog Litnet

LIEFDE IS ‘N PAASEIER


(Foto uit Sarie se kortverhaal met dieselfde titel)

Een Saterdag, ná ‘n rugbywedstryd, stop Abrie voor die kombuisvenster en maak sy fiets teen die vensterbank staan. Sy knieë is vol bloed en modder. Windverwaaid en stram klim hy van die fiets af, sportsak oor die skouer. Sy rugbystewels klink hard op die sementblad voor die kombuisdeur. Die kombuis is gevul met geure wat vyftienjarige seuns rasend maak. Kos. Varsgebakte vetkoek. Saterdae bak Sarie baiekeer vetkoek vir middagete. Partykeer met wors, partykeer met kerriemins, partykeer as bykos saam met iets anders. Die vetkoek is dan sommer nagereg ook. Met stroop of waatlemoenstukke en lekker soet koffie.

“Hallo, Ma, ek’s terug!”

“My seun, kyk hoe lyk jy. Het julle gewen?”

“Hoe dink Ma dan? Ons gaan nie in vir verloor nie. Wanneer eet ons?” Hy soen sy ma en neem ‘n vetkoek uit die bak op die tafel. Die vetkoek is warm en hy lek vinnig sy vingers as dit brand.

“Nou-nou. Ek wil net gou hierdie tert klaarmaak … en moenie daai worsies eet nie, dis vir vanmiddag. Gaan kry jy solank vir jou klaar. As die meisiekinders kom, moet jy gereed wees.”

“Aag Ma, ek het Ma mooi gevra. Ek sal vir Ma wys hoe werk die kamera, dan kan Ma mos maar die foto’s neem.”

“En wat van die musiek? Jou pa het gesê jy en jý alleen werk met die kamera en hi-fi. As daardie klomp partytjiemeisies onder jou pa se goed invaar en dit kom iets oor, wil ek nie vanaand hier wees as hy terugkom nie.”

“Maar Ma, toe ék dertien was…”

“Basta nou en loop bad vir jou!” Sarie steek die tert in die oond. “Hoekom vra jy nie vir Jaco hy moet jou kom help nie? Dan het jy darem ‘n maat.”

“Hoe laat kom Pa?”

“So hier by sesuur se koers.”

“So ek is al mansmens hier vemiddag. Nottedêm.”

“Hei, hei, jy praat nie so nie…”

“Maar…”

Niks ge-maar nie. Ek sê mos, vra vir Jaco. My liewe mens, dis jou suster se dertiende verjaarsdag, ‘n dag waarna sy nou al lank uitsien. Moet dit nou nie vir haar onaangenaam maak nie. Toe, ‘seblief.”

Vir ‘n oomblik dink hy oor die ding na en hol toe gou langsaan na Jaco toe.

Halfdrie lui die voordeurklokkie vir die eerste keer. Debbie ontvang haar vriendinne en al kletsend en giggelend raak die groepie vrolike dertienjarige meisies in die tuin groter. Drie tafels staan prettig gedek met glase en pons en lekkernye. Die wit tafeldoeke hang roerloos, so asof Sarie tot die wind opdrag gegee het om hom te gedra. Die servette en blomme is pienk. Vir Debbie is die lewe pienk en wit. Die stoele is wit. Drie sambrele is pienk en twee is wit.

Twee luidsprekers teen die muur in die koelte borrel die jongste popklanke uit. Rose Garden, Knock Three Times, Looky Looky… Die drade loop van die luidsprekers by Abrie se kamervenster in. Hier is hy en Jaco in beheer van die musiek. Die twee loer grootoog deur die kantgordyn en bespreek die uitsig. Vir hulle is dit ‘n vreemde ervaring. Hulle het die meeste van die meisies al gesien. By die skool, by die kerk en selfs al hier by Debbie. Maar vandag lyk hulle anders. So, so … anders. Groter of iets.

“Check ou Liena. Wie sou nou kon dink …” Jaco bedink homself vóórdat hy meer van sy gedagtes verklap. Abrie het ook nogal gedink dat sy nie te onaardig lyk nie.

“Oë links, tienuur. Wie’s daai ene met die wit?” vra Abrie.

Jaco kyk. “Nee, ken haar nie. Dink ek’t haar al iewers gesien, maar weet nie wie sy is’ie.”

Die getik-tik van die naald in die laaste groefies van die plaat bring hulle weer terug by hulle taak vir die middag. Abrie haal die plaat af en sit ‘n seven single van Neil Diamond op die draaitafel, Cracklin’ Rosie.

“Ek hoop ons kry ook van daai kos. Ek meen, ‘n man moet darem eet ook,” skimp Jaco.

“Ons kan gaan kry as ons die foto’s gaan neem.” Abrie se oë is vasgenael op die enetjie-met-die-wit. Sy dra ‘n wit kuitlengte katoenrokkie met bruin Josefsandale. Haar donkerbruin hare hang los oor haar skouers. Sy is pragtig. Klein, met so ‘n parmantige houding. ‘n Goue kruisie hang aan ‘n fyn kettinkie om haar nek. Die son raak aan haar lipglans.

“Het jy gesien sy’t kissing gloss aan!” merk Jaco op. So hy’t haar ook gesien.

“Wie?”

“Daai een met die wit rok vir wie jy so kyk.”

“Aag, voetsek jy man. Wat weet jy buitendien van sulke goed soos kissing gloss?”

“Man, my suster smeer ook die goed aan. Ek sien mos.”

Abrie kyk. Ja, haar lippies blink. Haar mondjie. Mondjie. Sy’t g’n ‘n mond of ‘n bek nie. Haar lippies is rooi, sommer so vanself. Sy het niks behalwe daai blink goed op haar gesig nie. Haar wange lyk sag. Sy hart versnel effens. Iets klop hier agter sy oë. Die son blink in haar hare. Sy eet ‘n koeksister. En drink Cream Soda. Sy vat nog ‘n happie en lek die stroop van haar lippies af. Abrie lek ook sonder dat hy ‘n koeksister eet. Met haar pinkie vee sy ‘n repie hare uit haar gesig. Daar’s ‘n drukking in sy ore. Hy haal deur sy mond asem.

“Wanneer gaan julle twee kêrels die foto’s neem,” verbreek Sarie die stilte.

“Ag Ma-a. Is dit nou nodig om so op mens af te sluip.” Abrie weet nie regtig waarom hy geskrik het nie. Maar hy voel betrap.

“Ek het nie op julle afgesluip nie. Die deur staan dan oop. Kom kry vir julle eetgoed, dan neem jy sommer ‘n paar foto’s.”

Met ‘n onwilligheid om tussen die spul meisiekinders in te loop, neem Abrie die kamera van die boekrak af.

“Sê Ma net vir hulle hoe om te staan. Ek praat nie met hulle nie. Ek druk net daai knoppie en klaar.”

“Abrie, stadig nou.” Sarie se kyk het eintlik nie woorde nodig nie.

Abrie stap agter sy ma tussen die klomp meisies in met Jaco op sy hakke. Jaco kies koers eetgoed toe. Abrie kyk nie rond nie. Netnou kyk hy in die gesiggie met die wit rokkie vas. As hy net kan weet waar sy is sodat hy dié kol kan vermy. Hy probeer so onopsigtelik as moontlik wees. Sy hande is nat.

“Meisies, dis nou Debbie se broer, Abrie en sy vriend Jaco. Abrie gaan gou ‘n paar foto’s neem.”

Deksels, Ma! flits dit deur sy brein. Hoekom maak sy nie ‘n rooi vlag op my kop vas nie! Sy ma se woorde suis deur sy ore. Stilweg beny hy haar vir die gemak waarmee sy met die meisies praat. Hy lig sy wenkbroue ongeërg sodat sy voorkop kreukel en kyk na die nok van die dak, dan na die venster en dan na die bondel meisies hier voor hom sonder om ‘n enkeling raak te sien. Hy probeer verveeld lyk.

“Abrie, neem sommer so ‘n paar ongeposeerde foto’s. Waar’s Debbie? O, daar is sy, neem sommer een van haar by daardie groepie.”

Giggel. Effe geskarrel. Party probeer uit die kameraoog se pad kom. Ander trek klere reg. Gooi hare agteroor. Hy sien egter net vir Debbie. Doelbewus. Hy durf nie na die ander gesigte kyk nie. Mik, fokus en flits. Twee keer, drie keer. Nou een van die koektafel waar Jaco nog steeds staan. Toe hy omdraai, is die gesiggie voor die lens, met die mooiste glimlag. Hy verstar. En toe kyk sy weg.

“Wat van ma en dogter saam?” stel Petro voor. Dadelik ‘n goedkeurende koor. Fokus en flits.

“Ek wil graag een van my en Debbie hê.”

“Ek ook!”

Flits. Flits.

Waar is Witrokkie nou? Is sy al op een van die foto’s?

“Hoeveel foto’s kan jy nog neem? “ vra Debbie.

Hy kyk op die metertjie. “Nog agt.” Sy eerste woorde hier buite.

“Neem so een of twee van ons hele groep saam.”

Terug in die kamer is hy omgekrap omdat Jaco nie vir hom eetgoed gekry het nie.

“Man jy dink ook net aan jouself. Staan lekker by die tafel jouself en dik vreet en ek moet al die werk doen.”

“Wie’t op jóú stert getrap?” vra Jaco.

“Niemand het op my stert getrap nie. Net gedink dat my vriend darem vir my eetgoed sou kry.” Abrie draai die plaat om en voel sommer vies vir homself. Waarom moes hy so onbeholpe daar buite gewees het? Hy het soos ‘n kleuter op sy eerste skooldag gevoel. Dalk lag die spul meisies nou vir hom. Hy weet nie eers of Witrokkie op een van die foto’s is nie. En nou haal hy dit op ou Jaco uit.

Voetstappe kom die gang af.

“Mamma sê ons moet vir julle eetgoed bring.”

Abrie laat die naald op die plaat sak en draai om. Debbie en Witrokkie is in die kamer, Debbie met twee bordjies eetgoed en Witrokkie met twee glase pons. Hy gryp die bordjies by sy suster. Jaco neem die glase by Witrokkie. Haar oë dwaal deur die kamer, oor die prente van Piet Visagie en Dawie en Mannetjies en ander sporthelde. Oor die veerpyltjiebord, die deurmekaar bed, die twee modelvliegtuie op die boekrak en die bak met tropiese visse in die hoek. Dan stop haar oë op Abrie. ‘n Sekonde lank – of is dit langer? In dié tyd glimlag sy effens, skaam. Hy versteen. Sy hart mis ‘n slag en begin toe onbedaarlik in sy keel te klop. Hy voel die klop agter sy oë, in sy ore. Sy mond raak droog en hy kyk weg.

Toe stap die meisies uit.

Abrie staar hulle agterna totdat die twee buite sig is en trek dan sy gesig soos een wat ‘n kramp kry.

“Blikskottel, maar sy’s mooi. Het jy gesien hoe check sy my? Oei!”

Hy sit die twee bordjies eetgoed op sy lessenaar neer en bly staan asof hy ‘n hou in die maag gekry het. Vir ‘n oomblik roerloos. Herleef weer daai sekonde. Dan blaas hy sy ingehoue asem hard uit terwyl hy sy hande vinnig agteroor deur sy hare vee en agter sy kop vou. Hy kyk af, staar, na niks. Jaco is al met sy tweede tertjie besig. Hy skud net sy kop en grinnik.

“Jong, sy’t vir die visse gekyk, sy’t vir alles gekyk.” Sy mond is vol vleispastei terwyl hy praat.

“Man, sy’t vir mý gekyk. Sy’t my in die oë gekyk. So.” Abrie wys hoe hy gekyk is. By die venster soek hy haar deur die kantgordyn. Hy sien haar dadelik.

“Ek wonder wat’s haar naam. Gaan vra jy gou vir Debbie,” steek hy vir Jaco op.

“Is jy mal! Doen jou eie vrywerk. Netnou dink sy ék’s agter haar aan.”

Later die aand, toe dit al sterk skemer is, is Debbie in haar kamer saam met haar ma besig om die geskenke te bewonder wat sy die middag gekry het. Peet sal enige tyd hier wees. Ouma en Oupa sal ook netnou oorkom.

Abrie lê op sy bed in die donker na die dak en staar. ‘n Plaat met romantiese liedjies speel sag op die draaitafel wat al gebêre moes gewees het. Hy het ‘n lam gevoel. Iewers is seer, maar hy weet nie presies waar nie. En dis nie van die rugby nie. Sy nek? Nee, sy maag? Ook nie. Dis hier binne. Sy longe. Ja, sy longe. Waar sit ‘n mens se hart? Hy voel. Die klop is hewiger as ander tye. Hy voel geïrriteerd. En sweterig. Wat is haar naam?

Hy hoor sy ma kombuis toe stap. Op die ingewing van die oomblik spring hy op en stap na sy suster se kamer waar sy steeds met haar geskenke doenig is.

“Het jy mooi goed gekry,” vra hy om die gesprek aan die gang te kry.

“Ja, kyk net hierdie mooi armband.”

“By wie kry jy dit?” Dalk, net dalk is dit van Witrokkie.

“By Lizelle.”

“Wie’ sy?”

“So enetjie met kort ligte hare. Sy’t vanmiddag so ‘n wit-en-rooi rok aangehad.”

“Nee, ken haar nie.”

“En hiérdie boek?”

“By Hettie.”

Hy besef dat hy nie oor al die geskenke kan uitvra nie. Hier was vanmiddag seker maklik twintig meisies.

“Is almal wat hier was in jou klas?” pols hy.

“Hmm, meestal. Party van die ballet.” Debbie draai die prop van ‘n bottel badskuim af en ruik daaraan. Sy oog vang haar album met skoolfoto’s op die boekrak. Ongeërg en so belangeloos moontlik begin hy daardeur blaai. By ‘n klasfoto van verlede jaar steek hy vas. Sy oë soek. Ry op, ry af. Hier’s sy sowaar! Dit móét sy wees. Weer sit sy hart in sy keel. Kalm nou. Hy  kies ‘n donkerkoppie met kort hare in die boonste ry.

“Was dié een ook hier?”

Debbie kyk. “Ja, hoekom?” Sy kyk hom vraend aan.

“Vra maar net. En dié een?” ‘n Ligtekoppie.

Sy kyk. “Ja.”

“Mens herken hulle nie eers so met ander klere aan nie.” Hy huiwer, kyk na die gesiggie. Die glimlag is onmiskenbaar.

“En dié een?” Belangeloos.

“Wie? O, ja, maar jy het haar mos gesien. Sy’t my gehelp toe ons vir julle eetgoed gevat het. Sy’t so ‘n wit rok aangehad. Mooi gesiggie.”

Hy staan roerloos. Te bang enige beweging of iets wat hy sê, verklap iets.

“Sy sê jy’s oulik.” Debbie kyk op om te sien watse reaksie haar woorde ontlok.

Hy voel hoe iets oor hom spoel. Hy weet nie of dit koud of warm is nie, maar dit verswelg hom. Die vertrek is skielik heeltemal te klein. Dit voel of hy onder ‘n skrum lê, maar hy probeer niks wys nie.

“Wie?” vra hy net om iets te sê.

“Bianca, die meisie met die wit rok vanmiddag. Daai een op die foto.”

Bianca! Nou is die vertrek régtig te klein.

“Aag!” Hy stap halfpad deur toe, maar steek vas. “Hoekom sê sy so?” vra hy.

“Ek weet nie. Sy like jou seker. En in daai kyk wat jy haar vanmiddag gegee het, kan ek net een ding sien.”

“Wat?”

“Daai outjie met die pyle het jou getref.”

“Watter ou is dit?”

“Die liefde, ou broer, die liefde.”

“Man, wragtag, jy’s sommer heeltemal simpel. Jy’s sommer … mal!” Hy storm kamer toe waar hy die hi-fi begin ontkoppel om dit te gaan bêre.

Bianca. Bianca. Hmm…dit pas by haar. Bianca…

Oe, dis mooi. Bi-an-ca…

Later die aand toe Debbie by die grootmense in die sitkamer sit, sluip Abrie na haar kamer toe. Die bedlampie is aangeskakel. Op haar bed is al haar geskenke uitgestal met die kaartjie van die skenker daarby. Koorsagtig bestudeer hy die kaartjies. Die derde een wat hy raak vat, is Bianca s’n. Sy hande bewe. Hy lees die boodskappie in standerd ses-meisiehandskrif, netjiese letters met kringetjies op die i’s en j’s. Hy ruik aan die kaartjie. Dit ruik na … papier. Nee, tog nie. Spesiale papier. Hy ruik weer. Hy soek na iets anders as papier. Dit bly ruik na papier. Bianca-papier. Hy tel die houer met ‘n stelletjie seep, badskuim en goete op. Bianca se geskenk. Versigtig. Hoekom bewe sy hande? Daar’s weer daai kol op sy maag. Hy voel weer soos vanmiddag. Daai drukking, dis definitief ‘n drukking hier in sy kop. Amper soos voor ‘n wedstryd. Háár hande het hier geraak. Sý het dit vasgehou. Hy streel saggies daaroor. Sy hande bewe liggies as hy die bottel badskuim uit die houer haal en die prop afdraai. Hy ruik aan die inhoud. Sou sy so ruik? Dis lekker. Vars. Skoon. Soos ná ‘n reënbui.

“Jy like haar, nè?”

Blitsig draai hy die prop op en probeer dit onder die kussing inskuif, maar besef dat dit te laat is. Verleë sit hy maar en wag vir die ergste. Debbie bly vir hom deur die skrefie aan die skarnierkant van haar slaapkamerdeur loer. Half met ‘n magsgevoel. Het jou!

“Oupa-hulle is hier. Hy roep jou,” sê sy, draai om en stap sitkamer toe.

Hy voel of hy in ‘n seepbel gesit het en toe bars dit. Meisies!

Maandag by die skool dwaal sy oë oor die speelgrond. Hy sien haar nêrens nie. Ook nie vir Debbie nie.

Ná skool, aan die etenstafel, vind hy uit dat die standerd ses-meisies van tienuur af na ‘n praatjie oor weerbaarheid in die skoolsaal geluister het. Hy luister fyn of daar nie dalk iets gesê word wat hy dalk sal wil hoor nie. Niks. Debbie praat net oor die praatjie, haar fiets se pap wiel en eet haar kos. Hy sluk sy melk weg en gaan na sy kamer.

Later die middag stap hy met sy rugbyklere die gang af om te gaan oefen. Debbie roep hom vanuit haar kamer. Sonder om te gretig te lyk, loer hy in.

“Wats’it?” vra hy.

“Vrydagaand wys daar ‘n oulike fliek in die skoolsaal. Hoekom vra jy nie vir Bianca nie en dan gaan ek saam met Jaco,” stel sy voor. Hy besef dat dit nie soseer oor hom of Bianca gaan nie. Hy weet mos. Maar die voorstel maak nogtans dinge in hom wakker. Iewers spring ‘n hormoon op aandag. Maar hy hou hom in.

“Aag jong, ek weet nie, ek het nog nooit eens ‘n woord met haar gepraat nie. Ek ken haar nie eers nie.

Ek … ek weet nie eers wat haar van is nie.”

“Grové.”

“Wat?”

“Haar van is Grové.”

Hy het die eerste keer gehoor, maar sy brein moet dit eers verwerk. Dit neem ‘n rukkie. Baie dinge is nou gesê. Groot dinge. Grové. Fliek …

Fliek!

“Ag toe man. Oukei, ‘k sê jou wat, ék sal vir Bianca vra en dan vra jy vir Jaco,” pols Debbie.

Hy dink kliphard. ‘n Geweldige opgewondenheid pak hom beet. Hy sien homself in die skoolsaal langs die meisie met die wit rok en lang bruin hare. Opgewondenheid maak plek vir huiwering. Hy wil ook nou nie van homself a fool gaan staan en maak nie. Wat gaan sy pelle sê? Aag, Schalk was al met ‘n meisie by die skoolfliek. Niemand het juis iets gesê nie. Die ander het hom eerder bewonder. Hy hoef wraggies nie vir dié meisie skaam te wees nie. Sy’s pragtig. Hy gaan ‘n posisie hê. Dis nie sommer elkeen wat ‘n meisie skoolfliek toe vat nie. Behalwe nou natuurlik die groot seuns.

“Jong, maak maar soos jy wil. Ek moet rugby toe gaan.”

“Sal jy vir Jaco vra?”

“Sal sien.”

Hy bedink hom. Sê nou sy vra nie vir Bianca nie.

“Ja, goed, ek sal hom vra.”

Vrydagmiddag is hy soos ‘n leeu in ‘n hok. Lê op die bed, staan op, staan voor die venster, gaan lê weer. Daai lammigheid is terug. Eintlik was dit nooit weg nie. Hy het gloede. Só moet iemand in die dodesel voel, dink hy by homself. Miskien is dit tog nie so ‘n goeie idee nie, hierdie fliekding vanaand. Hy dink hy is siek. Ja, beslis. Hy voel half warm. Hy kyk in die spieël en oortuig homself dat hy selfs bleek lyk. Móét siekte wees. Terug op die bed. Hande agter die kop gevou lê hy na die plafon en staar. Wat praat hy met haar? Ja, wat sê hy vir haar? Hoe moet hy weet waarvan sy hou? Sy lag dalk nog vir hom.

Ingedagte het hy intussen van die bed af opgestaan en voor die venster gaan staan en uitkyk. Die tuin lyk heel anders as verlede week toe die klomp meisies hier was.

Op daardie stoel het sy gesit.

Hy gaan uit en kyk of iemand hom nie dalk sien nie. Dan gaan sit hy versigtig op die tuinstoel. Net hier, met haar wit rok en blink lippies. Hy streel oor die armlening. Hy sien die gesiggie wat vir ‘n oomblik in die lens was. Die glimlag daar in sy kamer.

Is dít hoe liefde voel? Maar dit sal ‘n ou mos mal maak! Tog is dit nogal lekker. So amper soos ‘n droom. Maar jy is wakker. So half in ‘n ander wêreld, maar jy gaan steeds skool toe en als.

Dis herfs. Die blare lê bont onder die bome. Herfs is eintlik mooi. Herfs ruik na appels en hot-cross-buns. En eerste koue. Ja, hy hou nogal baie van die herfs met sy baie kleure. Paastyd. Volgende week sluit die skole. Dan is dit Paasnaweek. Hy wonder of Bianca vir die vakansie weggaan? Hy móét ‘n foto van haar kry. Een met daai glimlag van Saterdag. Dalk kan hy vir haar ‘n Paaseier gee. Jaaa, een van daai groot hase in goue papier. Nee, dalk nie, sy’s darem nie meer ‘n kind nie. Eerder een van daai’s wat so ‘n halwe eier is en met tjoklits volgemaak is.

Hy kyk op sy horlosie. Amper vieruur. Moet hy of moet hy nie? Voetstappe op die droë blare laat hom opkyk.

“En as jy so alleen hier buite sit?”

“Aag, ek sit sommer, Ma.”

“Ek hoor jy gaan vanaand fliek.” Sy ma trek ‘n stoel langs syne en gaan sit.

“Ja-a, miskien. Ek sal nog sien.”

“Met ‘n meisie?”

“Waar hoor Ma dit?”

“Ek vra!”

Vir ‘n oomblik is dit stil. Hy dink. Sy ma word met al sy geheime vertrou. Op ‘n manier verstaan sy altyd. Maar, sjoe, meisies!

“Ma, wat sê ek vir haar?” Hy voel hy bloos. Sy bene is teen sy bors opgetrek terwyl hy sy een skoenveter los- en dan weer vasmaak. Staar dan net na sy skoenpunte. “Waaroor praat ons?”

Met sy ken op sy knieë gestut, druk hy die plastiese punte van sy skoenveters in die vetergaatjies in. Trek dit uit en druk dit by ‘n volgende gaatjie in. Amper soos ‘n outydse skakelbord.

“Jy praat met haar oor enige iets. Gesels met haar oor dieselfde goed as waaroor jy en Jaco gesels. Net waaroor jy wil. Sy’s ‘n mens. Sy’s ‘n gewone meisie soos jou suster. Moet dit nie ingewikkeld maak nie.”

“En wat doen ons?” Vir ‘n vlugtige oomblik kyk hy op en gaan dan weer met sy skakelbord aan.

“Julle kyk die fliek. Gaan koop vir haar koeldrank en lekkers. Gesels. Wat sou jy en Jaco gedoen het?”

Hy dink so ‘n rukkie en voel hoe die duiweltjies nader storm. “Ons sou die meisies met popcorn in die donker gegooi het en kyk wie ‘n glas koeldrank die vinnigste kan down.” Hy bars uit van die lag. Sy ma gluur hom deur haar wenkbroue aan en glimlag.

Kwart voor sewe is hy en Jaco by die skoolsaal. Hulle het vooruit geloop om solank in die kaartjiery te staan.

Elkeen koop twee kaartjies. Toe gaan staan hulle so half agter een van die pilare voor die skoolsaal die paadjie na die straat en dophou. Abrie het intussen albei sy kaartjies in ‘n baie, baie klein rolletjie opgerol. Hy kom agter wat hy gedoen het en probeer dit weer plat kry.

“Gee my een van jou kaartjies, dan vat jy hierdie een,” beveel hy vir Jaco.

“Hoekom?”

“Ek kan nie so ‘n kaartjie vir die meisiekind gee nie. Kyk hoe lyk die ding!”

“Jaco lag en gee vir Abrie een van sy kaartjies.

“Maar joune is dan sopnat! Wat gaan met jou aan, is jy senuweeagtig?” vra Abrie vies omdat die kaartjies natgesweet is, maar terselfdertyd verlig omdat die skynbare komkommerkoel Jaco ook tog iets hier binne voel.

“Man…”

Maar verder kom hy nie met sy sin nie. Die twee meisies kom die paadjie afgestap. Albei het bont blomrokke aan.

Abrie voel hy moet dringend by die toilet uitkom, maar sy bene is traag. Die meisies kom nader, op met die trappies tot op die saalstoep. Ongemaklik skuif die twee seuns agter die pilaar uit.

Debbie groet eerste. “Hallo, Jaco…”

“Hallo, hier’s julle kaartjies, ons kry julle daar binne.” Abrie weet nie hoekom hy dit gesê het nie en is dadelik spyt.

Debbie kom tot die redding. “Nee man, ons gaan saam met julle in, maar laat ek julle nou eers amptelik voorstel. Bianca, jy het my broer, Abrie, mos gesien. Abrie, ontmoet vir Bianca.”

Abrie weet hy bloos, maar gelukkig is dit half donker hier op die saalstoep. Hy steek sy hand uit en trek dit vinnig terug – groet ‘n ou ‘n meisie ooit met die hand? Hy gaan haar beslis nie soen nie.

“Aangename kennis, Bianca. Moet ek jou hand skud?” Hy steek weer sy hand uit. Iewers kruip daar so ‘n kriesel selfvertroue uit. Hy is wragtag darem ouer as sy.

Bianca glimlag verleë en neem sy hand. “Hello, Abrie.” Jaco gee sy tipiese snorklag.

Die twee seuns stap agter die meisies die saal binne.

“Waar wil julle sit?” vra Debbie.

Abrie kyk rond. Agter is dit reeds vol. “Sommer daar langs oom Blackie,” Hy wys na oop stoele langs die muur waar foto’s van die land se staatspresidente hang.

By die sitplekke gaan die twee meisies sit, maar die seuns  talm. “Wil julle iets van die snoepie af hê?” vra Abrie.

Die meisies konfereer, dan die bestelling. Die twee seuns loop snoepie toe.

Toe die ligte begin dowwer raak vir die fliek om te begin, daag hulle op, elkeen met twee koeldranke in die hande en lekkergoed wat by hulle hempsakke uitsteek. Twee sitplekke is oop aan weerskante van die twee meisies wat langs mekaar sit. Debbie sit naaste aan die paadjie. Abrie plak homself sommer langs sy suster neer en laat Jaco gestrand in die paadjie staan.

“Skuif op jong”, sê Jaco terwyl hy vir Abrie in die ribbes pomp.

“Skuif op. Jaco moet ook nog sit,” beveel Abrie sy suster.

In die harwar skuif Bianca op. Die fliek begin en Debbie knyp haar broer in die ribbes. Abrie besef sy fout en klim oor sy suster om vir Jaco plek te maak. En toe gaan sit hy tussen die twee meisies. Langs Bianca. Doodstil, kyk hy na die skerm, maar sien niks. Sy ruik lekker. Later vind hy uit dis Debbie wat so ruik. Maar Bianca ruik ook lekker. Die fliek is al ‘n ent weg toe hy besef dat hy met twee halfgedrinkte glase koeldrank sit.

“Soek jy koeldrank?” fluister hy vir Bianca.

“Oukei,” sê sy sag. Dis tog wat sy bestel het toe hy bestellings geneem het.

“Hy’s so bietjie half…” sê Abrie en gee die een glas vir haar. Haar hand raak aan syne. Waaroor sou die fliek gaan, wonder hy.

Hy onthou ook van die lekkergoed in sy hempsak. “Hier’s jou tjoklit.” Die sjokolade voel pap soos dit al begin smelt het.

Pouse gaan die ligte aan. Dit voel of die hele saal se oë op hom brand. Hy voel so groot soos ‘n lugballon. Moet hy opstaan of hier bly sit?

“Speel jy wedstryd môre?” vra Bianca.

“Ja… e… ja, ek en Jaco.”

“Hier op ons veld?”

“Ja.”

“Ek sal bietjie kom kyk hoe speel julle. Tommy, my broer speel ook.”

“O.”

Stilte.

“Is jy lus vir nog koeldrank?” durf hy die stilte aan, maar soek ook rede om te ontsnap. Hy het egter nie nodig om te ontsnap nie. Debbie red weer. Sy leun oor hom na Bianca toe.

“Wil jy dalk saam met my kom?” vra sy.

“Ja, goed,” antwoord Bianca. Sy skuif verby Abrie agter Debbie aan. Haar bene raak aan syne.

“Seker gou gaan neuse poeier,” sê Jaco toe die twee meisies buite hoorafstand is.

“Hoekom?” vra Abrie.

“Man, meisies doen dit.”

Neuse poeier? Dit lyk nie of sy poeier op het nie. Hy weet sy ma poeier haar gesig, maar nie Debbie nie. Nee, Jaco dink verkeerd, sy’t beslis nie poeier aan nie. Dis weer net daai blink goed op haar mond. Mondjie.

Dan kyk hy in die saal rond. Hy waai vir Herman agter in die saal. Herman maak goedkeurend grootoog, duim in die lug. Abrie se bors swel van trots. Hy wonder wie het nog almal gesien. Hy het ‘n meisie!

In sy bed, laatnag, herleef hy die aand. Hy kan nie slaap nie. Waaroor was die fliek? Hy weet op een plek was daar ‘n ou in ‘n sportmotor. Haar oë, sy’t die mooiste oë. En daai mondjie! Môre gaan sy by die rugby wees. Miskien kan hy dan vir haar ietsie gee. Daai Paaseier! Hulle speel eers tienuur. Daar sal genoeg tyd wees om gou by die winkel aan te ry…

Gedurende die wedstryd dwaal sy oë kort-kort oor die toeskouers. Waar is sy?

Hy hol roboties bloot agter die bal aan. Sy het tog gesê sy sal hier wees. Hy het haar al vóór die wedstryd verwag. Sy aandag is glad nie by die spel nie. Daar staan Debbie, maar waar is Bianca?

Ná halftyd sien hy haar. Sy staan heel intiem en gesels met twee groter seuns van die skool teen wie hulle vandag speel. Verraaier!

Vlermuis, hulle breier, is rasend langs die veld. “Cronje, wil jy eerder gaan netbal speel? Los die meisies! My magtag, wat gaan aan met jou?”

Die spel kom genadiglik tot ‘n einde. Abrie kook. Daai een ou het haar wragtag om die lyf gevat! En sy’t nie onwillig gelyk nie. Wie dink sy miskien is sy! Nee, o hel, so laat hy nie met hom mors nie. En dit ná gisteraand! Hy pluk sy stewels uit en prop dit by die pragtige paaseier in die sportsak. Die groot halwe sjokolade-eier, gevul met kleiner blokkies sjokolade, het hy vroegoggend, vóór rugby, gaan koop. Hy klim op sy fiets en laat die ketting kraak. Iemand roep hier agter hom, maar hy trap dat die wiele sulke wit strepe in die gruis spin.

Jaco kom ‘n paar minute ná Abrie by die huis aan waar hy op die bed die paaseier sit en afskil. Die halwe eier het in die sportsak gebreek.

“Kry vir jou,” bied Abrie aan.

Jaco laat hom nie twee keer nooi nie. “Wat het vandag in jou in gevaar?” wil hy met ‘n mond vol sjokolade-eier weet.

“Bianca het gesê dat sy sou kom kyk as ons speel.”

“Maar sy het mos.”

“Ja, maar watter tyd daag sy daar op! Ek kyk die hele tyd uit vir haar, tot vir haar ‘n paaseier gaan koop. Selfs ou Vlermuis was geïrriteerd met my. Eers hier ná halftyd daag sy op en gaan staan by daai HTS-ouens. En sy laat so wragtag daai een ou haar om die lyf vat. Ek sweer dit was om my op te wen.”

Jaco het homself intussen aan die kleiner blokkies begin help. “Wie’s die ou?”

“Weet nie, hy’t HTS-klere aangehad.”

“Is dalk familie, man,” probeer Jaco troos.

“Hoe sal mens nou weet. Gee ok’ie om nie. Ek’s klaar met meisies.”

Jaco steek nog ‘n sjokolade in sy mond. “Ja, ek sê ook daai ding. Meisies maak in elk geval net ‘n ou se kop deurmekaar. Kyk net hoe vrot het jy vandag gespeel.”

“Ja, het ek nie vrot gespeel nie. Vlermuis gaan my seker nog drop ook vir die volgende wedstryd. Hy sê ‘is my skuld dat ons verloor het.

Abrie gaan staan by sy kamervenster en uitstaar. Hy dink hoe lomp hy gisteraand gevoel het. Oor ‘n simpel standerd sesmeisiekind! Sy suster se maat. Die herfsblare maak ‘n mat onder die perskebome. Wat ‘n gemors. Herfs is eintlik ‘n simpel tyd met al die blare wat so val en rondwaai en somer wat op ‘n end is en als.

En wie moet al die blare optel. Hy, hy wat Abrie is.

Hy steek die laaste blokkie sjokolade in sy mond en sê: “Ek sien daar wys ‘n karate-fliek in die stad. Is jy lus? Net ek en jy?”

“Ek’s game.

“Nou ja toe, laat ons klaarkry.”

Abrie krap die lekkergoedpapiere, wat oor die bed gestrooi lê, bymekaar en gooi dit in die snippermandjie. Die kaartjies van gisteraand se fliek lê onderin. Vir ‘n oomblik staar hy daarna. Dan buk hy af en haal dit uit. Sonder dat Jaco sien, bêre hy dit in sy Bybel. Hy loop saam met Jaco uit en groet tot later.

Op pad stort toe vat hy vir hom ‘n warm vetkoek uit die bak in die kombuis.

Later, nádat hulle van die fliek af by die huis gekom het, spring Debbie op hom.

“Wat het vanoggend met jou aangegaan? Bianca roep en ek roep, maar jy jaag daar weg of die duiwel agter jou is. Dis net stofwolke en klippe!”

“Sê jy maar vir jou ou maatjie hierdie man is niemand se robbies nie. Ek is klaar met meisies.”

“Aag foeitog, ook maar goed so, want haar pa sê buitendien dat sy te jonk is om met seuns uit te gaan.”

“O, gaaf.”

Stilte.

Sy probeer weer. “Maar waaroor het jy jou nou eintlik so ge-strip ?”

“Oor sy laat was en toe gaan staan sy nog by die vyand.”

“Die vyand? Wie’s dit?” vra sy verbaas.

“Daai HTS-ouens met wie sy so lovy-dovy staan en gesels het,” antwoord Abrie.

“Dis haar broer, Tommy, my jimmel. Hy speel vir HTS se eerstespan wat eers ná julle gespeel het. Haar pa wou ook kom rugby kyk as Tommy speel en wou nie so vroeg ry om net vir haar te bring nie. Simpel!”

“Aag, lyk dit of dit my worry. Ek… ek…” maar hy kry nie woorde vir ‘n teenargument nie. Hy stap kamer toe en slaan die deur agter hom toe.

Vandag het hy sy naam behoorlik krater gemaak.

Lees verder in MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

MODDERRIVIER

Dis een van daardie sonnige Vrystaatse wintersdae wat in baie Noord-lande as ‘n warm somersdag gesien sal word. Pechu en Bunny is, soos gewoonlik, kaalvoet. Ons gee onsself oor aan die dag, elke sintuig van my neem gulsig die omgewing in.  Al twee van hulle is baie behendig met ‘n kettie. Pechu het al selfs ‘n springhaas met sy kettie platgetrek. Ek het ook al gesien hoe hy ‘n patrys op veertig tree met ‘n klip neervel. Maar die geleentheid om met ‘n geweer, al is dit net ‘n windbuks, te jag, was vir ons drie seuns ‘n groot avontuur.

Teen elfuur het ons al genoeg geskiet sodat ons aan middagete kon begin dink. Mieta het vir my bietjie sout en botter saamgegee, met instruksies. En ‘n bakkie mieliemeel. Die pannetjie uit my rugsak, saam met die ketel, potjie en ander noodsaaklikhede vir ‘n veldete, kom nou goed te pas.

Onder ‘n wilgerboom langs die rivier sit ons en vere pluk. Die voëltjies lyk soos vaal miniatuurhoendertjies, die duiwe darem so bietjie groter. Nadat hulle skoon gepluk en die binnegoed verwyder is, spoel ek hulle onder my waterbottel af. Pechu se vuurtjie het intussen lekker begin knetter. Bunny het drie klippe só geplaas dat ek my pan daar op kan sit, langs die potjie met pap. Die botter spat gou in die pan en net soos Mieta verduidelik het, plaas ek so ‘n paar van die voëls in die warm botter en strooi ‘n klein bietjie sout oor. Die pap wat Puchu in my potjie maak, begin effens brand.

VUUR

“Hierie pot hy’sie dik nie,” maak Pechu verskoning vir die brandreuk. Ek weet die pot se boom is dun, dis maar ‘n gewone emaljepotjie wat al so bietjie van sy roomkleur verf op vorige uitstappies verloor het.

“Hy sal reg wees, moenie worry nie,” stel ek hom gerus.

Die voëltjies is gou gaar en ons begin solank weglê aan die voorgereg. Ek dink my eerste een is ‘n mossie. Hulle lyk maar so min of meer almal dieselfde so sonder vere, meestal vinke, koringvoëls en mossies. Intussen het ek die duiwe so al op die borsbeen langs oopgesny en plat in die warm botter gedruk.  Húlle eet ons saam met die pap. Die duif se bors is sag en geurig.

Ná ete gaan spoel ons die eetgerei in die rivier af. Hurkend by die water skiet ek ‘n pannetjie vol water oor Pechu. Die twee broers sit weerskante van my en afspoel. Pechu kap laggend ‘n handvol water terug en skaterend val Bunny ook in. Dit ontaard in ‘n uitgelate woeste watergeveg en gou-gou is ons so nat dat ons sommer in die rivier begin speel – winter of te nie. Speel, eerder as swem, want Bunny kan nie swem nie. Pechu se swemmery verras my nogal, maar ook nou nie so dat ek hom as kaptein van die swemspan sou kies nie. Met so ‘n vreemde styl kry hy dit darem reg om vorentoe deur die water te beweeg.

SWEM IN DIE RIVIER

Uitasem gespeel, klim ons teen die grondwal uit en gaan lê op die gras so ‘n entjie van die betonkeerwal af. Soos ‘n besorgde ma vou die middagson ons heerlik warm in haar strale toe. Die grootmense wil nooit hê dat ons naby hierdie betonwal kom nie, maar vandag is hier nie grootmense nie. Pechu vertel dat hy al groot visse met sy hande aan die bokant van die wal gevang het. Die water vloei sterk en stort so vier meter laer in ‘n maalkolk oor die wal. En dis hier teen die damwal, aan die bokant van die waterval, waar die visse soms vasgekeer word en met die omdraaislag deur wagtende hande gevang word.

“Vang julle die visse sommer so met die hande?” vra ek ongelowig.

“Moet die hanne,” bevestig Pechu.

“Nou maar kom’s gaan kyk.”

Ons staan so kniediep in die water en wag vir die visse, drie, vier treë van die wal af. Pechu beweeg effens dieper in, nader aan die damwal waaroor die water dreunend tuimel. Ek volg hom, maar Bunny is huiwerig en klim uit. Die stroom trek-trek hier aan my bene. Later aan my heupe. En toe raak dit ‘n dare game, visse vergete.

Met Bunny wat bekommerd van die oewer af toekyk, kyk ek en Pechu hoe naby ons aan die rand kan kom met die stroom wat hier van agter beur om ons bo-oor die wal te smyt. Nou vang ons nie meer vis nie. Ons konsentrasie lê nou by die sterkvloeiende stroom. Voetjie vir voetjie beweeg ons nader aan die damwal waar die rivier ‘n jong waterval word.  Met elke tree nader aan die rand voel dit of die water harder beur. Pechu is so ‘n halwe tree nader aan die wal as ek. ‘n Paar keer wil-wil ek my balans tussen die los klippe verloor, Pechu ook, maar dan gooi ons net ons lywe agtertoe en gee ‘n tree terug. Weer stadig vorentoe totdat die aanslag van die water te sterk word en ons net doodstil vasskop om die aanslag met skuinsbeurende lywe af te weer.

So tart ons die noodlot. Pechu se gesig blom met wit tande. Hy wink vir my om nader te kom. Die stroom is sterk. Versigtig lig ek my voet van ‘n vastrapposisie, stadig vorentoe, voel-voel vir ‘n nuwe vastrapplek. Ek kry een en wil vasskop, maar die klip gly en my balans word aan flarde geruk. Met minagting gryp die stroom my en slinger my soos ‘n vetgesmeerde paling verby Pechu wat my met weerlig-reaksie aan die arm beetkry. Hy is egter nie opgewasse teen die krag van die stroom nie en verloor ook sy vastrap.

Baie mense vertel hoe hulle lewens in stadige spoed verbyflits wanneer die dood in die gesig gestaar word. Al wat ek aan kon dink, was die klippe wat ek ‘n vorige keer, toe die rivier droog was, aan die onderkant van die wal gesien het.

Terwyl die stroom ons oor die rand spoeg, wonder ek of ons dadelik dood gaan wees en of ons gaan verdrink. Ek staal myself vir die trefslag op die klippe, maar daar is geen trefslag nie. Die water is diep en die klippe ver onder die oppervlakte. Dit voel of ons in ‘n wasmasjien val. Die water maal ons soos wasgoed al in die rondte, al in die rondte. Ek kry vir Pechu aan die voet beet, maar tussen die modderwater en borrelgemaal verloor ons mekaar weer. Vandag gaan ons verdrink, want ons kry nie ons koppe bo die water om asem te skep nie, flits dit deur my kop. Die maalkolk skuur my rug teen die klippe op die bodem en neem my weer, so voel dit, boontoe. En weer ondertoe. Hoe lank ons so gemaal het, weet ek nie. Baie dinge het deur my kop geflits. Ek het gewonder of Pechu nog lewe. Waar gaan ons lyke uitspoel? Gaan Ma-hulle kwaad wees?

Die wasmasjien word skielik op ‘n ander siklus geplaas, want eensklaps kry ek myself uit die maalkolk geskop. Vir ‘n oomblik sien ek niks van Pechu nie, maar dan skiet hy ook soos ‘n kurkprop langs my uit. Ons swem kant toe en gaan lê op die riviersand, lam gespartel. Bunny is gou by ons. Hy sê niks, kyk ons net grootoog aan, maak seker dat ons lewe. Ek draai my kop na Pechu toe en hy kyk na my. Hy het ‘n bloedstreep langs sy kop en my rugvelle het teen een van daardie bodemklippe agtergebly. Maar ons lewe. Ons borskaste werk soos blaasbalke. Pechu spoeg ‘n klippie uit.

En toe bars ons uit van die lag.

(Verwerkte uittreksel van my boek: MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

Mannetjies

Rugby was my lewe.

My onder 15-span, so dink ek met nabetragting, het darem meer wedstryde gewen as verloor. Ons was wel nie ‘n topspan nie en ek moet toegee dat my spel nou regtigwaar nie so was dat die Springbokkeurders ‘n snerpendkoue Saterdagoggend sou opoffer om na ons wedstryd te kom kyk nie.

Maar Pa het.

Vroeg Saterdae, in die hartjie van die winter, moes hy opstaan om my betyds by ‘n rugbyveldveld af te laai. Die A-span het altyd later in die oggend gespeel, wanneer die Vrystaatse wintersoggend darem al so bietjie ontdooi het. Dit was egter ons manne van die laer spanne, die B- en C-spanne, wat as’t ware die ys op die veld moes breek en eerste moes speel.

Daarom moes Pa my vroeg by die veld besorg het. Dan staan hy daar saam met ‘n klompie ander pa’s ons en aanmoedig asof ons die Springbokke is. Die ryp het dikwels nog wit op die wintersgras gelê. Met ‘n wasem-asem deel Pa dan saam met ‘n ander pa die koffie uit die fles wat Ma saamgestuur het, nekke diep in die krae ingetrek.

Persoonlike hoogtepunte van my skooljare is op doodgerypte rugbyvelde aangeteken. Persoonlik, ja, want wat vir een persoon ‘n hoogtepunt is, is vir ‘n volgende een maar vanselfsprekend.

Daar was laagtepunte ook. Soos tydens die een wedstryd toe ek wou indruk maak op Sanet.

Rugby was die hoofonderwerp van bespreking, oral. Op die speelgrond, in die klas, op die bus en selfs, volgens Pa, by die kerkraadsvergadering. Brian Lochore se All Blacks was in die land en kort tevore het die hele land geluister hoe ou Spiekeries vir Syd Nomis doellyn toe aangemoedig het. Aanmoedig? Dalk nie die regte woord nie. Die gewilde sportkommentator was histeries. “Syddie! Syddie! Syddie!” Onpartydige sportkommentaar.

SPIEKERIES

Sanet het langs die veld saam met ‘n groep meisies gestaan en ek wou  haar aandag kry. Ek was op buitesenter en die bal het bitter min verby Jakkie op binnesenter gekom. Ek moes dus hard werk om my doel te bereik. Op een stadium is Jakkie in ‘n losgemaal ingetrek en Dirk laat loop die bal na my met ‘n yslike gaping wat wink.

Ek vat daai gaping, bal onder die regterarm. Die gaping laat my toe om spoed op te tel en ek hardloop skoon onder die teenstanders en my ondersteuning uit. Selfs hulle heelagter word onkant gevang.

Hulle het so ‘n groot stut gehad wat maar baie stadig by die losgemale en skrums aangekom het en hy was dus nog van die vorige losgemaal naby hulle doellyn op pad na die pas afgelope losgemaal toe ek hom voor my gewaar. Net hy staan tussen my en die doellyn, tussen my en my doelwit om die meisiekind te beïndruk. My oomblik het aangebreek, die perfekte geleentheid om vir haar te wys van watter stoffasie hierdie senter gemaak is.

Ek pyl reg op die ou grote af, in volle vaart en sien hoe  hy sy hande op sy heupe plaas en gereed maak om my te stop. My strategie is doelbewus, berekend, want ‘n senter is rats en vinnig. ‘n Stut nie. Hoe kan ‘n lomp stut ‘n ratse senter stop? Die mense langs die veld raas en ek hoor hoe word my naam geskreeu.

Go Abrie! Go Abrie!”

Op die laaste moment – ek kon sy asem ruik – doen ek ‘n systap, een wat ou Mannetjies jaloers sou gehad het. Ek sou agterna nooit weer ‘n stut as lomp klassifiseer nie.

Toe ek klaar gesystap het, staan ou Grote steeds voor my. Ek kan onthou dat ek hom in volle vaart getref het, maar daarvandaan niks. Niks.  Ek het eers weer begin onthou toe ek met klere en stewels en al onder ‘n koue stort gestaan het. Jaco het met ‘n stokkie gekeer dat my braaksel die stortuitloop verstop.

Ek het ‘n paar keer agterna gehoor – elke keer onder histeriese gelag – hoe ek ou Grote getref het, teruggebons het, ‘n agteroor flik-flak gedoen het en doodstil bly lê het. Blykbaar het ek nie lank gelê nie, want toe die Rooikruis-ouens my wou afdra, het ek vertel dat ek reg is. Omdat die wedstryd amper verby was, het hulle my toe maar die voordeel van die twyfel gegee, totdat ek in die opponente se agterlyn gaan stelling inneem het en verder niks van die wedstryd af geweet het nie. Jaco en die Rooikruis-ouens het my kleedkamer toe gehelp.

Ek het Sanet se aandag gekry. Debbie vertel dat sy en die ander meisies toilette toe moes hardloop soos hulle gelag het.

Pa het gevra of ek dit weer eendag kan doen, maar hom net betyds waarsku dat hy sy rolprentkamera gereed kan hê.

‘N VRYSTATER IN BENFLEET

Byna elf jaar gelede het ons van ‘n naburige dorpie (village) na Benfleet, Engeland verhuis – ons eie huis. Niemand sal Benfleet as ‘n toeristedorpie beskryf nie, die hoofstraat is maar bra vervelig met die gewone winkels en wegneemeetplekke en hier is, op die oog af nie werklik enige besienswaardighede nie.  Die hele dorp is omtrent die grootte van ‘n gemiddelde voorstad in Pretoria.

Uitsig van watertoring

UITSIG OOR BENFLEET VANAF DIE WATERTORING MET ‘N PLAAS OP LINKS EN DIE HOOFDORP IN DIE VERTE. DIE HUISE OP REGS IS NA DIE INGANG VAN BEFLEET

Delf mens egter so effens dieper, ontvou ‘n heel interessante geskiedenis.

Benfleet is in Essex, reg oos (so 40 kilometer tot in die buitewyke) van Londen langs die Teemsrivier waar hierdie bekende rivier in die Noordsee uitmond. Die naam kom van die Saksiese setlaars wat in die vyfde eeu hier kom nesskop het. Hulle het die gebied Beamfleote genoem – boomryke stroom. Oor die jare heen het die naam verdraai geraak tot die stasie met die koms van die spoorweg in 1855 amptelik Benfleet genoem is. Die stroom is ‘n vertakking van die Teems en het vir baie jare handelskepe met ware van Europa en elders na die gebied gebring. Onder die parkeerterrein van die ou Hoy and Helmet pub, wat teenaan die stroom is, is daar ‘n doolhof van tonnels wat baie jare gelede gebruik is om alkohol (belastingvry) van die skepe af in te smokkel.

hoyandhelmetpubsouthbenfleet

DIE EEUE OUE HOY AND HELMET PUB

Die naam, Hoy and Helmet verwys ook na die dorpie  se verbintenis met skeepsvaart, waar Hoy ‘n tipe skip was en Helmet die versterkte boeg van die skip om in laagwater te kan vaar. Vandag is dit meestal net seiljagte, huisbote en motorbote wat in die getystroom gesien word.

Church_Corner_0028

‘N OU FOTO VAN BENFLEET SE HIGH STREET MET NOG ‘N OU PUB, DIE ANCHOR INN OP REGS EN DIE OU KERK WAT AGTER DIE BOOMTOPPE UITSTEEK.

Net langs die Hoy and Helmet is daar ‘n monument om die Slag van Benfleet tussen die Vikings en die Saksers in 894 te herdenk. Tydens opgrawings met die bou van die treinstasie, is op talle uitgebrande Vikingbote en geraamtes uit die veldslag afgekom. Om die oorwinning oor die Vikings te vier, het die Saksers destyds ‘n houtkerk nie ver van die slagveld af nie gebou. Die fondasies is later gebruik om ‘n permanente klipkerk te bou – ‘n gebou (met uitbreidings oor die jare heen) wat vandag, na 1 100 jaar steeds staan en as kerk gebruik word.

stmaryschurchsouthbenfleet

ST MARY’S CHURCH, BENFLEET WAT AL MEER AS ‘N 1000 JAAR OUD IS.

Een van die voetslaanpaaie waar ek gereeld my gemoed gaan skoonmaak, lei na die Hadleigh Country Park – ‘n enorme park met woude en selfs die ruïnes van die ou Hadleigh-kasteel waar die onbeperkte uitsig vir myle ‘n blik gee op die Teems, Noordsee en omgewing. Hierdie einste park het ook ‘n moderne bergfietsbaan – ‘n nalatenskap van die 2012 Olimpiese spele toe wyle Burry Stander Suid-Afrika se naam tydens die kompetisie hoog gehou het.

So van kastele gepraat. Benfleet se watertoring, wat in 1903 voltooi is, waak as ‘n indrukwekkende 90 meter hoë baken oor die dorpie. Mense wat weet, vertel dat dit spook in hierdie swierige toring wat gebou is in die Romaanse styl om soos ‘n kasteel te lyk. Maar dis blykbaar ‘n vriendelike, ondeunde spook.

Watertoring

BENFLEET SE WATERTORING

Benfleet was in 1952 in die nuus toe ‘n Meteor vegvliegtuig hier neergestort het. Wonder bo wonder is niemand beseer nie, maar ‘n hele klompie huise is beskadig en blykbaar het iemand se hoenderhok met die inhoud daarvan oor ‘n groot gebied gesaai gelê. Talle huise dra ook nog letsels van Duitse bomme uit die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste huise is oor die jare heen herstel, maar sommige hou die letsels as herinnering aan ‘n vergange era. John en Paddy oorkant die straat is nou al in hulle tagtigs en het hier grootgeword. As jonggetroude paartjie het hulle in 1956 die nuutgeboude huis betrek en dra elke somer vir ons vrugte van die ou vyeboom in hulle tuin aan. Die huis is op ‘n bult met ‘n ver uitsig oor die omgewing. Dit verklaar hoekom daar vandag nog ‘n platform is waar daar ‘n kanon en soeklig tydens die oorlogtyd was. Paddy vertel hoe die soldate vir hulle, as klein kindertjies, die pad met daardie yslike lig verlig het wanneer hulle met ‘n slee in die sneeu teen die helling af pret gehad het.

Laerskool

BENFLEET LAERSKOOL

Terloops, einste Paddy het ‘n waterverfskildery wat haar ma as jong Britse meisie in Pretoria tydens die Boereoorlog geverf het. Haar pa was as soldaat daar gestasioneer. Die skildery gee ‘n pragtige beeld van Meintjieskop en die Groenkloofarea (sonder enige huise) van die gebied waar die Voortrekkermonument later gebou sou word, af.

TOE EK TWEE JAAR OUD WAS …

groote schuur kleur

Dis tog interessant hoe vlietende belewenisse by plekke, of saam met iemand, blywende indrukke kan laat.

Ek was nog nie heeltemal twee jaar oud nie toe ons in Groote Schuur-woonstelle daar in Aliwalstraat, Bloemfontein ingetrek het. Reg oorkant die statige bekende ou Klipkerk. Wat verder interessant is, is hoedat die brein sulke herinneringe kan stoor sodat dit byna 60 jaar later nog uitgepak kan word – veral as in ag geneem  word dat ons maar enkele maande daar gewoon het. Dit was ek en Pa en Ma wat daar in nommer 10 ingetrek het en toe ons daar wegtrek, was ons vier mense – met Babasussie wat intussen bygekom het.

Groote Schuur 10, Bfn 1958

Ek en Ma op die balkon van Groote Schuur-woonstel 10.

Ma vertel graag hoe ek haar opgewonde kom roep het om vir haar die eier te wys – tot groot vermaak (alles van oudste babas is mos vermaaklik en slim en oulik) besef sy toe dat die nul van nommer 10 op die voordeur my eier is. Wat minder vermaaklik was, was toe ek en my buurmaat, klein Billy ‘n swaar deurstop oor die balkonmuur  deur ‘n geparkeerde motor se voorruit gegooi het. Ter verdediging moet ek darem meld dat ons nie oor die balkonmuurtjie kon sien nie (dit lyk my die balkonmuur is later jare met tralies vervang). Ek onthou die uitleg van die woonstel, die rakke in die kombuis en die ou roomkleur Bell-radio op die yskas. Die radio bring krakerige herinneringe van Pa wat na sportuitsendings luister en Ma na U Eie Keuse en Springbokradio se middagvervolgverhale.

Ma vertel ook dat ek as tweejarige, sonder dat ek oor die muurtjie kon sien, karre onder in die straat slegs aan die enjingeluide kon identifiseer. By nabetragting moet ek toegee dat dit dalk tog nie so moeilik was nie. Destyds het die karre verskillend geklink. Daar was die Ford V8’s (wat anders geklink het as ‘n Packard “straight eight”) en die kenmerkende tweeslagenjin van die DKW’s en wie ken nou nie die geluid van ‘n Kewertjie nie.

Die parkeervierkant in die woonstel se agterplaas is die agtergrond van ‘n nagmerrie wat ek as peutertjie gehad het. In my droom is ek net so teen skemertyd alleen in die agterplaas toe ek ‘n kat gewaar. Nie sommer enige kat nie! Hierdie kat loop op sy agterpote, voorpote uitgestrek met ontblote naels en met so ‘n dreigende, onheilspellende uitdrukking op sy gesig. Gloeiende oë en ontblote slagtande. Hy staan tussen my en die trappe en probeer my in ‘n hoek vaskeer. Ag, ek was al in die hoërskool toe voel ek steeds nie gemaklik om alleen met ‘n kat gelaat te word nie.

Kat

Vanaf die balkon het ons ‘n goeie uitsig op die ou Klipkerk, net oorkant die straat, gehad. Die gemeente is in 1919 gestig, Nuwe babasussie is in 1958 daar gedoop. Drie druppels water op die klein voorkoppie. Ten spyte van ons baie kort verblyf en my brose ouderdom destyds, het die kerkgebou ‘n blywende indruk gelaat.

Klipkerk

Ek was nog nie drie nie toe ons daar weggetrek het – na ‘n huis in Dan Pienaar.

Jare later het my pad weer met die ou kerk gekruis toe my toekomstige bruid en haar ma in daardie gemeente was – NG gemeente Bloemfontein-noord. Ons het, as jong verliefdes, dikwels Sondagaande nuwe herinneringe daar geskep.

En toe, op een heerlike herfsoggend in 1983, is ons daar getroud. Die prentjie van die pragtige bruid wat in die paadjie van die Klipkerk na my toe aangeloop kom en die stuwende note van die troumars wat die gebou vul, sal nooit uitgewis word nie.

Op die trappe van die blou-grys ysterklipgebou is ons toegevou in ʼn confetti-wolk. Sy was by my ingehaak en ek het vlugtig na die woonstelgebou oorkant die straat geloer.

Na die balkon van nommer 10. En ek kon nie help om die kat raak te sien nie – die een wat in die sonnetjie op ʼn vensterbank gelê en slaap het.

Klipkerk 1983