HOE VREEMD IS “VREEMDE” VERSKYNSELS?

outer body experience

Ek onthou twee voorvalle, as kind, waar my liewe ma baie ontsteld was. Ek moet benadruk dat my ma ‘n diep gelowige mens was wat haar nie met “nonsens” opgehou het en nie bekend daarvoor was dat sy kluitjies sou bak nie. Veral nie om aandag te soek nie.

Toe ek die oggend wakker word, het ek haar in ‘n toestand by die kombuistafel aangetref. Ek was nog in die laerskool en dit is dus te verstane dat sy my aanvanklik nie met sulke goed wou opsaal nie. Pa was egter by die werk en ek dink sy het iemand gesoek om mee te gesels. As oudste kind was ek op daardie stadium al dikwels haar klankbord.

“Ek het myself laasnag op die bed sien lê, langs jou pa,” het sy huiwerig begin toe ek haar vra wat fout is. “Ek het gesweef en kon myself op die bed sien lê slaap.”

“Was dit ‘n droom?” het ek skepties gevra.

“Dis wat ek nie weet nie. Alles was so duidelik. Ek was bang en wou wakker word, maar kon nie.” Haar hande het liggies gebewe en dit het gelyk of sy wou huil. “Ek het probeer skreeu, maar kon nie ‘n geluid uitkry nie.”

Nie baie lank daarna nie het dit weer gebeur en weer het dit dieselfde reaksie by Ma ontlok. Groot ontsteltenis.

Ek het in die biblioteek gaan oplees en gesien dat daar baie opgetekende gevalle van buite-liggaam ervarings was. Dit het Ma egter nie gemakliker daaroor laat voel nie.

Sy het haar ervaring met niemand anders bespreek nie. “Die mense sal dink ek word gek.”

Ek is, soos my pa en ma was, ook een van daardie skeptiese mense wat altyd wonder oor hierdie “onverklaarbare” goed. Voordat ons dit nie eerstehands beleef of gesien het nie, neem ons dit met ‘n knippie sout. Maar ek is oop vir oortuiging. Dalk soos Tomas van die Bybel.

Jare later het ek ‘n pen verloor waaraan ek baie sentimentele waarde geheg het. Dit was ‘n silwer Parker wat ek by iemand baie spesiaals gekry het. Ek was baie ongelukkig oor die verlies. Een nag droom ek van die pen en sien duidelik waar hy is – op die mees onwaarskynlikste plek by die werk. Die volgende oggend is ek vroeg by die werk en loop eerste ding, ietwat skepties, na daardie plek toe. Ek is egter nuuskierig en, moet ek erken, hoopvol steek ek my hand in die gleuf in. Ja, ek vat toe die pen raak.

Soos reeds vermeld, was my pa selfs nog meer skepties oor hierdie dinge as ek. Enkele maande voor sy dood, neem Ma vir hom sy oggendkoffie in die bed – en tref hom verwese en in trane aan (om Pa in trane te sien was op sy eie ‘n vreemde verskynsel).

Hy kon nie dadelik praat nie, maar na ‘n ruk kom dit stamelend: “Hulle was hier, die drie van hulle”.

“Waar was wie, my lief?” wou Ma weet.

“Net daar by die voetenent van die bed… die drie…” Verder kon hy nie kom voordat emosies weer die oorhand gekry het nie. Ma het gedink om hom maar te los – hy sou wel later vir haar vertel.

Enkele weke later, kort voor sy dood, is Ma saam met Kleinsus winkels toe. Terug by die huis tref hulle vir Pa op die sitkamerbank in dieselfde toestand as daai oggend in die bed aan.

“Hulle was weer hier…” is al wat hy baie emosioneel kon uitkry.

Hy is dood sonder dat ons weet wie hom besoek het.

IMG_4912

Enkele jare later is ek en Vroulief in die vliegtuig van Duitsland af op pad Engeland toe. Kort na opstyging, let ek ‘n vreemde ligbal langs die vliegtuig op. My onmiddellike reaksie is dat dit ‘n weerkaatsing in die klein, ronde venstertjie moet wees en kyk rond om die oorsprong van die weerkaatsing te sien. Ek sien niks. Ek wys vir Vroulief die bal, so groot soos ‘n wasmasjien  en so half in ‘n ronde wolkie gehul. Sy, en so ook ander mense, sien hom ook. Die bal bly langs die vliegtuig. Later beweeg hy vorentoe, weer terug en toe onder die vliegtuig in. Toe is hy weg. Ek kan myself steeds skop dat my selfoon bokant my kop in die bagasierak was.

Ek het vir baie jare oor hierdie bal gewonder en het my eie verklarings probeer kry. Eendag lees ek toe van balvormige weerlig – ‘n rare fenomeen wat, na bewering, al deur mense waargeneem is. Dit word normaalweg met donderstorms geassosieer, maar die lig glim baie langer as die blitsige weerligstraal. Op die internet is daar selfs video’s van sulke balle. Ek wonder nou of statiese elektrisiteit, toe die vliegtuig so deur die wolke beweeg het, nie dalk die ligbal kon veroorsaak het nie.

So wonder ek oor baie goed. Soos daai ou huurhuis waar ons beslis nie alleen was nie – die een waar die jong verpleegster, kort voordat ons daar ingetrek het, selfmoord gepleeg het. En daardie dringende drang wat my forseer het om af te trek om die bande na te gaan, eendag toe ons hele gesin op reis was. Ek trek langs die pad af en sien toe dat een van die bande ‘n yslike blaas gevorm het en op die punt was om te bars. Ek wonder ook oor daai aand toe ek nog in die hoërskool was en ek alleen by die huis  op my bed na die Top Twenty lê en luister het. Ek hoor toe duidelik hoe die kombuisdeur oopgaan (maar nie weer toegaan nie), iemand teen die kombuisstoel stamp, iets soos ‘n bos sleutels op die tafel gooi en by die voordeur uitgaan. Die voordeur is met ‘n slag toegeslaan. Toe ek gaan kyk of dit die ander huismense is wat terug is, is daar niemand nie. Die agterdeur is steeds gesluit, die stoele staan netjies en die voordeur is op knip. Ek weet ek was wawyd wakker. Die huismense het eers later teruggekom.

Daar was ook die kloppe aan die deur, drie voorvalle, die aand voordat nabyfamilie dood is. Ons het elke keer om die kombuistafel gesit en almal het die klop aan die agterdeur gehoor. Ma het nog gesê ek moet versigtig wees toe ek opstaan om die deur oop te maak. Daar was niemand. Drie keer het dit gebeur, ja.

O ja, en Les, ons 81-jarige buurman in ‘n vorige blyblek van ons hier in Engeland. Hy het alzheimersiekte gehad en nie aldag geweet wat rondom hom aangaan nie. Een oggend word hy wakker met ‘n dringendheid wat hom jaag om by sy beste vriend, Allan, in ‘n naburige dorpie uit te kom. Sy vrou, Dorothy, het verpligtinge gehad en belowe hom dat hulle die agtermiddag daarheen kan ry. Sy het besig geraak en later besef dit is baie stil. Les was skoonveld. Sy bel haar seun, wat dadelik kom. Dorothy het net ‘n gedagte dat hulle na die buurdorpie toe moet ry. Nie ver van Allan se huis af nie, tref hulle vir Les aan – flink op pad na sy vriend toe. Hulle laai hom op en ry na Allan toe.  Les is verpletter toe hulle die nuus hoor. Allan is ‘n halfuur tevore skielik aan ‘n hartaanval dood. ‘n Maand later het Les sy vriend gevolg.

Ek is steeds skepties en soek logiese verklarings. Soms sukkel ek.

Wonder julle ook so oor die goed?

DSCN9037(1)

3 thoughts on “HOE VREEMD IS “VREEMDE” VERSKYNSELS?

  1. Ek het nogal persoonlik ‘n interessante NDE gehad, ook baie drome het gerealiseer soos ongelooflike detail rondom Mandela se begrafnis, twee jaar vooruit. In 2009 berig ek oor 2011 se vloede en EFF se opstaan. Baie sulke dinge. Ek het anderdag video van bal-weerlig in Kentucky gesien en dit het baie lank aangehou.

Leave a comment