WAAR HOU DIE WESTE OP?

Anderdag moes ek iets in ‘n naburige dorpie gaan doen. Baie van die mense daar is anders, anders as ek. Daar is baie plekke op aarde waar ek al sulke mense gesien het. Ek het hulle ook al in e-posse gesien wat vriende aanstuur. Die e-posse is baiekeer gemerk: Walmart Shoppers, of soms ook Walmartians. Legendariese foto’s wat “gewone” ouens soos ek in stomme verbasing laat staar. Oopbek. In die dorpie waar ek was, was daar darem nie ‘n bebaarde ou man met ‘n Tinkerbell-kostuum aan nie. Ook nie ‘n swaargewig vrou in ‘n deurtrekker en visnetuitrusting met grimering wat ‘n zombie in sy spore sal stuit nie. Daar het wel ‘n middeljarige man met ‘n sigaret agter die oor op ‘n chopperfiets tussen die voetgangers deurgevleg en ‘n yslike spoegbol net so langs die vrou voor my gelaat. Daar was ook ‘n vrou met ‘n kop vol haarkrullers en nagklere aan in die winkelsentrum, klaar ge-shop met twee cartons sigarette, ‘n bottel vodka en ‘n pak babadoeke saam met die baba in die stootkarretjie – 11-uur in die oggend. Twee manne het met ‘n pak slaptjips tussen hulle op ‘n muurtjie gesit en, te oordeel aan die leë blikkies rondom hulle, al deur ‘n six pack of twee gewerk.

Dis toe dat ek begin wonder. Ek wonder toe sommer oor ‘n klomp goed. En ek wonder vir ‘n paar dae lank.

My hele lewe is anders as die mense hierbo genoem. My waardes, my inhibisies, my verwysingsraamwerk, my hele lewensbeskouing. Dít waaraan ek “normaal” meet, is anders.

Wat is normaal? Wat is DIE NORM? Is daar ooit so iets?

‘n Meisie vertel van haar huweliksnag op sestienjarige ouderdom met haar bruidegom, die helfte ouer as sy. Enkele weke voor haar huweliksnag het sy ‘n tradisionele prosedure ondergaan wat in die sogenaamde Westerse lande as besnydenis bekend staan (female genital mutialtion). Sonder enige vorm van verdowing is sy vasgepen en alle uitwendige geslagsdele is afgesny. Daarna is die opening verklein en vasgewerk (vroeër jare was dit met dorings vasgesteek!) sodat net ‘n baie klein opening vir menstruasie en urinering gelaat is. ‘n Kort stukkie riet is in die gaatjie gesteek om te voorkom dat dit toegroei. Vir eeue al word hierdie tradisie voortgesit om meisies suiwer te hou. As sy nie besny is nie, beteken dit geen respek en geen eggenoot nie. Sy sal ‘n buitestander sonder enige respek vir die res van haar lewe bly.

Sy vertel dat haar bruidegom haar op haar huweliksnag met ‘n sweep geslaan het om sy gesag te demonstreer. Hierna het hy sy jagmes in die gaatjie gesteek, die toegegroeide deel oopgesny en vir die volgende paar dae elke kort-kort intiem met haar verkeer om te keer dat die gat weer toegroei. Ná die eerste keer het hy sy bebloede jagmes aan sy boarm vasgebind sodat almal kon sien wat hy gedoen het en hy gerespekteer kon word. Sy moes lank stil gelê het totdat die wond genees het.

Is dít normaal? Onder watter maatstawwe?

Ek lees onlangs opmerkings van mense uit verskillende kultuurgroepe oor gebruike wat hulle vreemd van ánder kultuurgroepe vind. Vir baie was dit totaal vreemd dat mense nie hulle skoene uittrek voordat hulle ‘n huis binnegaan nie. Hulle kan nie verstaan hoe al daardie “vuilgoed” wat jou skoene op pad opgetel het, in jou veronderstelde skoon huis ingetrap word nie. Vir ander was dit ‘n grillerige gedagte dat slegs toiletpapier gebruik word om jouself mee af te vee nadat jy die toilet gebruik het. Jy moet tog vir jou was! Baie mense word absoluut gewalg deur die min respek wat kinders van veral sogenaamde Westerse lande aan hul ouers of ouer mense in die algemeen toon. En hoe durf jy jou ouers in ‘n tehuis gaan stop wanneer hulle oud is Jý moet na hulle omsien! Baie het ook iets te sê gehad oor sogenaamde Westerse kinders wat so opgepiep word en die septer in huishoudings swaai. Daar was ook verbasing dat jy jou neus in die geselskap van andere mag blaas, onbetaamlik geklee in die openbaar mag loop en vele ander opmerkings.  Wat vir een groep mense aanvaarbaar is, normaal is, frons ander mense weer oor. Want dit is nie normaal vir hulle nie.

Christene oor die wêreld heen drink wyn (as teken van bloed) en eet ‘n stukkie brood om die dood en opstanding van Jesus te vier. Is dít normaal? In baie kulture sal toehoorders onderlangs vir mekaar loer as jy begin vertel dat die rigtingwyster van jou lewe, die Bybel, vertel van ‘n groot vis wat iemand ingesluk en ‘n paar dae later uitgespoeg het. Of dat die Seun van jou God drie dae lank dood was, lewendig geword het en hemel toe is op ‘n wolk. Hoe normaal is dit om te glo dat ‘n groep maagde vir jou in die hiernamaals wag as jy jouself saam met ‘n klomp nie-gelowiges opblaas? Of om jou seun te laat besny terwyl hy nog ‘n baba is?

Deurgaans hierbo praat ek doelbewus van “veronderstelde” Westerse lande, want ek wonder toe ook watter lande in hierdie kategorie val. Waar begin en eindig die weste?

Ja, selfs hieroor is daar nie eenstemmigheid nie. Geografies is dit totaal onduidelik. Die grootste gedeelte van die Oos-Romeinse Ryk word vandag as Westers beskou, maar was Oos in die verlede. Daar kan geredeneer word dat vandag se Weste geografies Europa insluit (veral die lande van die Europese Unie) saam met lande wat deur Engeland, Spanje, Frankryk en ander Europese lande gekoloniseer en beïnvloed is – al lê Australië oos van Europa. Tydens die Koue Oorlog was daar so half van ‘n Amerika-Rusland-skeiding tussen Oos en Wes.

Die term “Westerse Kultuur” is ook baie wyd en word soms as sinoniem gebruik vir Westerse Beskawing, , Westerse Leefstyl of Europese Waardes. Dit verwys na ‘n nalatenskap van sosiale norme, etiese waardes, tradisionele gewoontes, geloofsisteme en spesifieke produkte en tegnologie wat hulle oorsprong of verbintenis met Europa het. As gevolg van  immigrasie en kolonisering is die term deur mense van Europese afkoms oor die wêreld heen versprei.

Wat van beskawing – wat is beskaafd en wat is onbeskaafd?

Vir onbeskaafd is daar talle verduidelikings en sinonieme. “Sonder beskaafde invloede”, barbaars, wild en selfs vulgêr om enkeles te noem. ‘n Ander bron beskryf . onbeskaafd as “’n plek of iemand wat sosiaal, kultureel en moreel nie gevorderd is nie. Ook ongesofistikeerd, ongemanierd en onverfynd. Volgens hierdie definisies is daar talle onbeskaafde mense rondom my.

Bring die woord “beskaafd” ons nader aan ‘n antwoord? Die Engelse vertaling, “civilisation” kom van die Franse woord civlisé, afgelei van civilis, civis en civitas wat Latyns is vir onderskeidelik siviel, stedeling/burger en stad. Dit het dus verwys na mense wat in die stedelike gebiede gewoon het – daar waar onder meer geboue, riolering, wetstoepassers en die regering was. Dit was in teenstelling met hulle wat in die landelike gebiede gewoon het en hoofsaaklik selfversorgend van die land af geleef het. Laasgenoemde groep het gewoonlik geleef bloot om te bestaan.

Die Franse filosoof, Rousseau het doerietyd al gedink dat beskawing nie noodwendig gelyk is aan verbetering nie. Hy het, soos andere ná hom, onderskeid getref tussen beskawing en kultuur. Hulle sien beskawing as rasioneel- en sosiaalgedrewe en nie ten volle in ooreenstemming met die menslike natuur nie. Kulture word as natuurlik organismes gesien en nie deur bewuste, rasionele, doelgerigte optredes gedefinieer nie, maar eerder deur ‘n pre-rasionele volkseenheid of -gees. Beskawing, aan die ander kant is meer rasioneel en meer suksesvol in materiële ontwikkeling. Dit is onnatuurlik en lei tot eienskappe soos bedrog, skynheiligheid, afguns en geldgierigheid – wat weer tot ander “sondes” lei.

Ja, dis wat die slim ouens dink.

Sosiale wetenskaplikes het enkele eienskappe gelys waarvolgens ‘n beskawing van ander tipe gemeenskappe onderskei kan word.

  1. ‘n Beskawing het ‘n georganiseerde landbousisteem – nie bloot net bestaanslandbou nie.
  2. Die ekonomiese stelsel van ‘n beskawing is meer kompleks as ander gemeenskappe, veral ten opsigte van eienaarskap en handeldryf.
  3. Huisvesting van beskawings neig om meer permanent te wees in teenstelling met ander gemeenskappe wat nomadies is of tydelike huisvesting bou.
  4. Die politieke struktuur van ‘n beskawing is gewoonlik baie meer kompleks as dié van ander gemeenskappe.
  5. Een van die hoofkenmerke van ‘n beskawing, is geletterdheid.

Ander eienskappe van beskawing sluit onder meer in gedefinieerde kodes en reëls ten opsigte van godsdiens, die kunste, wetenskap en tegnologie.

Tradisioneel het ‘n staatsbestel wat daarin kon slaag om merkbare militêre, ideologiese en ekonomiese mag te vestig, homself as “beskaafd” beskou. Dit is nou in teenstelling met ander gemeenskappe en groepe wat buite die “beskaafdes” se invloedsfeer lê en gesien is barbaars, primitief  en wild. Deesdae word eerder gepraat van “inheemse mense” of “stamgemeenskappe”.

Wanneer ‘n dier leer om bepaalde menslike funksies te kan doen, dinge wat diere normaalweg nie kan doen nie (soos praat, krane oopdraai en deure oopmaak) word hy dan ‘n mens? Wanneer ‘n pikkewyn in die bosveld aanpas, word hy dan ‘n rooibok? Word ‘n Inuïet ‘n Duitser wanneer hy Duitsland toe trek?  Kan ‘n Afrikaner ‘n Zulu word as hy die taal kan praat? Op sommige van hierdie vrae sal baie mense Ja antwoord. Ander sal dink dit is onmoontlik.

In ‘n ander dorpie naby ons is daar ook mense wat anders as ek is. Welaf, behep met aansien en voorkoms. Die tipe motor wat jy ry, bepaal jou aansien. Kosmetiese operasies, klein hondjies wat in handsakke rondgedra word en jou posisie op die sosiale leer is hoog op hulle prioriteitslys. Hulle koop net by die duurste winkels en sal nie dood sonder ‘n baie duur uitrusting met bybehore gesien wil word nie. ‘n Wolk van duur parfuums vergesel hulle waar hulle met soortgelyke vriende koer oor goed waarvan ek die woordeskat nie eers het nie.

Die groep mense wat ek eerste genoem het, die Walmartians en hierdie materialiste klomp hierbo woon in my omgewing – in ‘n Westerse land met Christelike norme en waardes, dieselfde norme en waardes as dié waarmee ek grootgeword het. Tog identifiseer ek nie met hulle nie. Hulle is nie noodwendig swart of gay of Moslem of Joods of Blou Bul-ondersteuners of enige van die dinge waarmee baie mense gewoonlik probleme mee het nie. Hulle identifiseer ook nie met my nie.

As ons “homogene” groep mense – mense van dieselfde land, taal, kleur, kultuur, geloof en span dan so baie van mekaar verskil, hoe op aarde gaan ons groter, eeue oue kwessies soos rassisme, homofobie, verskille in kultuur en al daai goed uitgesorteer kry? En wie se maatstaf en norm gebruik ons?

Jaaa Swaer…  ons kan maar net traai (en oorlog maak). Ek sal in die Weste begin, jy vat die Ooste.

Advertisements

One thought on “WAAR HOU DIE WESTE OP?

  1. André, jy vra hier groot vrae waarop ‘n mens nie sommer (kort) antwoorde kan gee nie. Waar mense se persoon aangetas word, hulle liggame permanent geskend of gemodifiseer word, is dit vir my totaal onaanvaarbaar: manlike en vroulike besnydenis, gaatjies in die oorlelle of enige ander lelle, om dit aan iemand te doen sonder dat hulle daarom vra, is wat my betref uit. As dit nie om mediese redes geskied nie (manlike besnydenis), wil ek dit nie gedoen hê nie. Daardie grillige rietjie-gedoente, daarvoor moet ‘n stokkie gesteek word. Dit word vir mans se plesier en egoïsme gedoen. Vir my is mense primêr gelyk, totdat hulle hulleself anders bewys, as krimineel, bv. ‘n Mens moet gerespekteer word vir wie en wat hy/sy by geboorte was, m.a.w. herkoms, kleur, nasionaliteit, alles. Kultuurverskille sal daar altyd wees: ons moet dit aanvaar en respekteer, nooit ons eie siening, gebruike en gewoontes op ander af forseer nie. Ook nie die anders-geöriënteerde beledig of verkleineer nie. Dit moet alles ten minste binne die raamwerk van leef en laat leef geskied. Die groot Liefdesgebod is nie vir almal beskore of aanvaarbaar nie. Leef en laat leef beteken vir my wedersydse respek in alle opsigte. As jy ‘n mes in die underground rondswaai, verdien jy om gegryp te word. As jy in jou moskee mense teen die staat oprui, verdien jy om gedeporteer te word. As jy beledigende slagspreuke buite jou huis uitstal, moet jy tevrede wees as die polisie aan jou deur klop. Moet niemand te na kom nie. Moet niemand seermaak nie. Moet niemand doodmaak nie. Oos en wes lê op dieselfde
    (kronkel-) lyn en die een is so skuldig soos die ander. Vir dié van ons wat die Liefdesgebod ken en eerbiedig, is dit eenvoudig, maar nie maklik nie: ons moet ons naaste (alle ander mense) liefhê soos onsself en God bo alles en voor alles.
    Ek lees jou altyd met groot waardering.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s