ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

 

IMG_2139

Soos ‘n bejaarde dame met ‘n Zimmerraam staan sy daar met haar swaar takke gestut. Daar is talle ouer dinge op aarde, dit gee ek toe. Maar bitter min van hulle lewe vandag nog.

 

Die inligting op ‘n bord by die boom dui die ouderdom aan as ongeveer 1150 jaar. Dit is oud!

IMG_2143

Toe Jan van Riebeeck voet aan wal in Suid-Afrika gesit het, was die boom reeds 800 jaar oud. Daar word vertel dat Robin Hood en sy manne skuiling onder hierdie boom gesoek het – daar in die bekende Sherwood Forest.

IMG_0580

Volgens oorlewering was Robin Hood ‘n vrygewige misdadiger, vernuftige swaardvegter en boogskutter wat met sy “Merry Men” in Sherwood Forest gebly het. Die term “merry men” was aanvanklik ‘n algemene omskrywing vir volgelinge van ‘n misdadiger, ‘n ridder of soortgelyke leiers.

IMG_0579

Daar is talle weergawes van Robin Hood se verhaal en oor die eeue heen is baie kinkels en stertjies bygevoeg. Hollywood het ook ‘n swaar hand gehad met die byvoeg van ekstra kleur en geur en dramas. Daar word, byvoorbeeld, in geen historiese bron melding gemaak van die skone “Maid Marion” nie en Errol Flynn, geklee in ‘n pikante groen kostuum, het ‘n bepaalde beeld geskep van die held wat van die rykes gebuit het om vir die armes te gee.

IMG_0581

Die eerste verwysing na Robin Hood en sy manskappe, was in 1377 en die Sloane manuskrip beskryf bepaalde gebeure wat aandui dat Robin in 1160 gebore is.

Hoe dit ook al sy, die man met sy boog en pyle het oor die eeue heen talle mense se verbeelding op sleeptou geneem.

IMG_0575

Hy en sy bende het in die Sherwood Forest geskuil – ‘n enorme, boomryke area.

IMG_2159

Bewyse van flintgereedskap verklap dat die woud deur prehistoriese jagters gebruik is. Later, tydens die laat Ystertydperk en Romeinse bewind, was die woud bewoon en boerdery was algemeen. Teen die negende eeu het die boerderygemeenskap hulle merk op die Sherwood-landskap begin maak en talle van daardie gemeenskappe bestaan vandag nog. Plekname wat met “by” eindig, soos Thoresby, het ‘n Skandinawiese oorsprong, “thorp”, soos in Gleadthorpe is Deens en “feld” (“field”), soos Mansfield is Romeins.

IMG_2155

Die naam, Sherwood, is die eerste keer in 958 aangeteken toe dit “Sciryuda” (“die woud behoort aan die landheer – “shire”) genoem is. Na die Normandiese inval in 1066, is die woud as koninklike jagveld gebruik. Die ruïnes van Koning Johannes se jaghuis kan vandag nog naby die dorpie, King Clipstone gesien word.

IMG_2152

Ons besoek die afgelope naweek was in die vroeë lente met die bome wat nog relatief blaarloos staan. Maar die atmosfeer van duisende jare was nogtans teenwoordig.

IMG_2158

As daar nou ooit ‘n tyd was dat ek gewens het om iemand se lewensverhaal te hoor, dan was dit gister by dáárdie boom – Major Oak, soos hy bekend staan. Dink net as jy ‘n toestel aan hierdie pragboom kon koppel om grepe uit sy millennium-oue bestaan op ‘n skerm te kon sien!IMG_2148

DIE OUE EN DIE NUWE

DIE OUE EN DIE NUWE

7870142

Twee keer per maand hou ons Suid-Afrikaners kerk in Birmingham, waar een van die agt bedieningspunte van die SA Gemeente hier in Brittanje is. Vir my en Christine neem die rit daarheen die beste deel van ‘n uur-en-‘n-half. Ná die diens word daar gekuier en tee gedrink – heel dikwels ook saam gebraai. As gevolg van die afstand, heen en weer, maak ons gewoonlik sommer ‘n uitstappie van die geleentheid en besoek interessante plekke terwyl ons daar is.

Die afgelope Sondag het ons die Bullring besoek. (Ja, glo dit nou of nie, maar daar was groot ontsteltenis toe die woord, net ‘n paar jaar gelede, een woord geword het, nadat dit vir letterlik honderde jare as twee woord gespel is).

St-Martins-Church-5

ST MARTINS CHURCH, WAT DESTYDS DIE MIDDELPUNT VAN DIE BULL RING WAS, GEDURENDE DIE 1950’S (LET OP DIE STANDBEELD, DOFWEG SIGBAAR IN DIE MIDDEL VAN DIE FOTO)

Die Bull Ring (twee woorde!) het aanvanklik as Corn Cheaping bekendgestaan – die markplein, net so langs die kerk. Die kerk, St Martins in the Bull Ring, is in 1263 gebou en oor die eeue heen vergroot tot sy huidige vorm. Op 10 April 1941, tydens die Blitz, het ‘n bom net so langs die kerk ontplof en groot skade aangerig.

St-Martins-Church-2

DIE BOMBESKADIGDE KERK. BAIE VAN DIE OORSPRONKLIKE LOODGLASVENSTERS IS VOOR DIE OORLOG UITGEHAAL EN BEWAAR. MAAR DIE WAT NIE UITGEHAAL IS NIE, IS ALMAL BESKADIG OF VERWOES TYDENS DIE OORLOG

Die markplein het eeue gelede reg rondom die kerk ontwikkel met huise wat in ‘n sirkel daaromheen gebou is. Beeste is ook natuurlik hier verkoop en in later jare is gevegte tussen bulle en honde hier gereël – daar is geglo dat die beesvleis sagter is wanneer die bees onder stres geplaas is. So het die Bull Ring gestalte gekry. Gelukkig is hierdie praktyk gestop, maar die naam het vasgesteek.

St-Martins-Church-7

DIE BULL RING-GEBIED GEDURENDE DIE VROEE 1960’S

IMG_2005

‘n Nuwe, ultramoderne winkelsentrum, die Bullring – geopen in 2003 – staan vandag op die plek waar daar oor die eeue heen soveel dramas afgespeel het.

birmingham-bullring

IMG_2009

DIE STANDBEELD VAN HORATIO NELSON, WAT SEDERT 1809 DAAR STAAN EN BESLIS BAIE LIEF EN LEED EN VERANDERINGE AANSKOU HET.

Bullring-Shopping-Centre-Shop-Front-Installation

STILTE

STILTE

cathedral-winchester-1

Die watergevulde kelder in Winchester katedraal

Daar’s mos baie soorte stiltes.

Kyk, jy kan vir enige pa van ‘n tienerdogter vra oor wakkerlê-stiltes. Dis nou wanneer die pa wakkerlê en wonder hoekom dit so  stil is daar waar daai einste dogter met haar kêrel in die sitkamer is. Veral wanneer die pa nog kan onthou van die dae, baie lank gelede, toe hy ook so saam met ‘n ander pa se dogter in die sitkamer gesit het.pa-in-bed

Dan kry jy katedraalstiltes wanneer jy ‘n gebou soos die Notre Dame binnestap en die swaar houtdeur sluit die buitegeluide agter jou uit. Sulke stiltes het  ‘n reuk ook. En dis ook nie heeltemal stil nie, want mense fluister en neem foto’s.paris_notre-dame

Die stilte voor ‘n storm, enige storm, kan senutergend raak. Dis nóú stil, maar iets gaan gebeur, dit broei. Jou maag voel dit en jou nekspiere raak styf. Hierdie stilte hoef ook nie regtig iets met die weer te doen hê nie.stilte-voor-die-storm

Daardie stilte onder die sterre van ‘n Karoonag – ‘n stilte wat jy in jou gebeente voel, deur jou are voel pomp. ‘n Dankbare, lofliedstilte. Nou en dan is daar die geluid van ‘n nagdier, verder niks behalwe jou asemhaling en hartklop nie.karoo

Vir my is die ergste stilte egter daardie koue stilte. Stilte wat jy met ‘n mes kan sny.

Byvoorbeeld.

Jy ry in die kar, dalk effens te naby aan die padprop voor jou. Jy weet wie sy nommerplaat gemaak het, want jy kan duidelik die plakker in klein lettertjies sien. Maar dit pla jou nie. Hoekom beweeg hy nie oor na die stadige baan nie!  Jy’s haastig, want julle is laat. Eintlik is dit jou blom wat langs jou sit se skuld, want vroumense draai mos altyd. (Amper altyd. Oukei … soms.) Maar jy sê niks, konsentreer op die pad, probeer tyd wen.tailgating-banner

Jy flits ligte, praat en beduie: “Beweeg oor na die ander baan, jou uil!” (Goed, ek skryf uil ter wille van wie ook al hier lees, maar dit is nie werklik wat gesê word nie.) Jy weet voor jou siel jy moenie so naby die ou ry nie. Jy weet dis gevaarlik en waarskynlik die oorsaak van die meeste ongelukke. Maar jy is die beste bestuurder in die wêreld. Mos. Jy kan vinnig rem as daar gerem moet word. Buitendien, dis die uil (sien verduideliking hierbo) hier voor jou wat verkeerd is. Hy moet bietjie ‘n les geleer word. Mos. Jou ligteflits het geen effek op hom nie.

Blom kom in beweging. “Bedaar, bedaar!  Jy kan nie so op die man se stert sit nie, my maggies. Jy maak hom senuweeagtig.” Sy trap rem, maar daar is geen pedale waar sy sit nie.

Al die goed wat sy sê, weet jy, maar iewers spring ‘n spiertjie.

“Wil jy bestuur?” vra jy met jou kalmste stemtoon. Sy ken egter al jou stemtone, almal van hulle.

“Jy gaan ons verongeluk. Ry net stadiger.”

“Luister, as jy nie so gedraai het nie, dan hoef ek nie nou so te gejaag het nie.” Effens ander stemtoon.

Jy wéét eintlik dat dit nie die werklike rede vir die gejaag is nie, want jy ry altyd te vinnig. Die duike in die vloer aan die passasierskant waar Blom altyd vastrap, getuig daarvan.

“Ek… ag, jy…” probeer sy, maar sy is nou te warm om behoorlik te dink. “Reg, ry soos jy wil. Ek maak nie weer my mond oop nie, maar…”paartjie-in-kar

En met daardie “maar” pak sy ‘n gevaarlike wapen uit.

Stilte.

‘n Ysige stilte sak oor jou toe. Daai een wat wat rillings teen jou ruggraat laat afgly, wat die sweetdruppels in jou nek laat vries. Jy besef jou fout en probeer haar hand vat om dinge in trurat te gooi.  Jy ry selfs stadiger en beweeg oor na die middelbaan. Maar dis te laat. Sy gooi haar gewig op haar linkerboud, trek haar hand weg en kyk by die venster aan haar kant uit.

Stilte. Dit kom lê soos ‘n sak mielies op jou bors, kom vou soos ‘n nat mus om jou kop.couple-after-argument2

Julle bereik jul bestemming veilig. So tussen die groetery en glimlagte probeer jy weer, maar haar hand is weer te vinnig vir jou. Jy vat haar om die lyf. Sy glimlag vir die gasvrou en kners vir jou. Jy hou jou greep om haar middel.

Soos die aand aanstap, begin die ys so staaadigaan te smelt. Die stiltegordyn maak op ‘n skrefie oop. Haar hand word stadiger weggeruk.

Ssjjjjjjt… Versigtig nou.

dagwood

CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

Olieberging

‘n Blik oor die Teems op die gasaanlegte.

Min skrywers kon nog presies verwoord wat daardie noodlottige nag in 1953 op Canvey gebeur het. Ek sal dit ook nie kan doen nie – ek kan ook maar slegs die feite weergee.

Ter agtergrond:

voelpark bome

Een van die natuurbewaringsgebiede op Canvey in laat herfs.

Canvey Island is een van ons buurdorpies hier in Engeland en word gesien as ‘n eiland omdat dit van die res van die land afgesny is deur vleilande, moerasgedeeltes en vertakkings van die Teemsrivier in die riviermonding,. Daar is tans slegs twee roetes van die eiland af en wanneer een van hierdie paaie deur padwerke of ‘n ongeluk versper word, is dit verkeerschaos. Vandag woon daar ongeveer 38 000 mense op hierdie minder gegoede eiland wat heelwat industrieë huisves en bekend is vir sy petrochemiese berging- en verskepingfasiliteite.

Ou pier

‘n Vervalle vasmeerplek vir bote met oorblyfsels van ‘n skip in die modder.

Vondste tydens opgrawings toon bewyse van nedersettings tydens die steen-, brons- en ystertydperk. Jare gelede is die eiland hoofsaaklik as weiding gebruik vir veral skaap. Sedert die Romeinse tye tot in die Middeleeue is soutwinning, teel van skulpvis en graanverbouing op die eiland beoefen met markte vir surplusprodukte in Londen asook die naburige Colchester (wat die oudste aangetekende dorp in Brittanje is en op ‘n stadium die hoofstad van die Romeinse provinsie, Brittanje, was) en Chelmsford. (Terloops, in Chelmsford het die befaamde Marconi die wêreld se eerste radiofabriek gebou en die eerste toetsradio-uitsendings gedoen – met ‘n opname van Nellie Melba – wat gelei tot tot die totstandkoming van die BBC).

Die Hollandse invloed op die eiland is vandag nog sigbaar in straatname en enkele Hollandse styl huise. In 1622 is daar besluit om met Hollandse kennis van landherwinning ‘n seemuur rondom Canvey te bou en land te herwin. Nagenoeg 15 km² is herwin en ná voltooiing van die projek het talle van die Hollandse werkers agtergebly.

Canvey is besonder plat en lê gemiddeld 3 meter onder die hoogwatermerk. Die hoogste punt op die eiland is ongeveer ‘n halwe meter bo seevlak wat die gebied geweldig kwesbaar teen oorstromings maak.

Op Saterdag, 31 Januarie 1953 het mense laatmiddag van sportgebeurtenisse, die fliek en kuierplekke by die huis gekom om vir aandete aan te sit. Regoor Engeland het dinge stadigaan beter begin gaan ná die verwoestende effek van die Tweede Wêreldoorlog. Op Canvey het 11 000 mense gewoon.

Andrew Manser was een van hulle, destyds ses jaar oud en onthou die aand soos gister:

“Ons gesin het aan tafel oor die middag se fliek gesit en gesels en die res van die aand bordspeletjies gespeel terwyl ons radio geluister het. Buite het die wind erg gewaai. Dit was winter en snerpend koud. Soos gewoonlik is ons kinders teen negeuur almal bed toe gestuur. Ons was ses kinders en het twee-twee in ‘n bed geslaap.

‘n Geweldige storm uit die noorde het in die Noordsee af beweeg en kusgedeeltes noord van Canvey, België en Nederland reeds met volle geweld getref. Wat die storm ongewoon gemaak het, is dat dit gepaardgegaan het met ‘n buitengewone hoë gety. Twee uur die nag het die storm Canvey getref met water wat by plekke reeds twee myl land-in gestroom het. Daar was weinig vooraf waarskuwing, hoofsaaklik as gevolg van swak kommunikasiestelsels en ook omdat daar nie werklik ‘n enkele beheerliggaam verantwoordelik was om waarskuwings van hierdie aard uit te stuur nie.

Water het teen ‘n geweldige tempo huise begin oorstroom. Mense in tweeverdiepinghuise het almal na die boonste verdieping geskarrel. Ander in enkelverdiepinghuise is geforseer om in die ysige nagtemperatuur op hul huise se dakke te klim, wagtend op hulp. Karavaanhuise met angsbevange, gillende mense in het die strate begin afdryf. My pa het besef dat ons sou verkluim en het ‘n gat in die plafon van ons enkelverdiepinghuis gemaak. Een vir een het hy ons kinders deur die gat gestoot en beveel om styf aan die balke vas te hou. My ma kon nie opklim nie en het met die twee jongstes in ‘n stootkarretjie in die kombuis gebly terwyl my pa en die laaste kind deur die gat geklim het. Om ons kalm te hou, het Ma ons liedjies laat sing. Ons was koud en bang.

Op een stadium moes my boetie aan die slaap geraak het en het deur die plafon tot op die kombuisvloer geval. Die water was toe seker so heuphoogte. Op pad ondertoe het hy sy kop teen die gietyster koolstoof gestamp. My ander broer het sonder om twee keer te dink, agterna gespring en hom uit die water op die kombuistafel getel. Bloed het oor sy gesig gestroom.  Hy het ‘n paar keer geroggel en het toe stil geraak. Ek kon sien hy’s dood. My ma het van skok, angs en paniek in soort van ‘n droewige beswyming geraak. Sy het die stootkarretjie heeltyd sussend gewieg – vorentoe, agtertoe tot ek besef het dat die water te diep is, die water kom oor die rante van die stoorkarretjie. Albei die kinders het in die stootkarretjie verdrink.

Niks in ons hegte gesin was daarna ooit weer dieselfde nie.”

huis en wal

Opruim na die groot vloed

Nog ‘n oorlewende onthou:

“Ek is seker een van min mense wat die hele aaklige gebeurtenis sien ontvou het. Ek was 20 en het saam met my pa en ma op ‘n boothuis gewoon. Ons ken die see en kon daardie oggend al sien dat die gety anders as gewoonlik was. Vanaf ons boothuis kon ons gedurende die nag sien hoe die keerwalle meegee en water land-in begin stroom het. Ons kon die hulpkrete hoor en ek het met groot gesukkel my roeiboot oor die seemuur getrek. Dit was bitterlik koud. Die toneel van verwoesting anderkant die muur was absoluut onbeskryflik en die hulpkrete sal vir altyd by my spook.

Ek het dadelik begin roei en verby ‘n huis met ‘n paniekerige man op die dak gevaar. Ek wou hom help, maar hy het my gesmeek om eerder vir sy vrou te soek – hy weet nie waar sy is nie. Ek het om die huis geroei en ‘n vrou in haar nagklere verstrengel in boomtakke gesien. Sy was dood. Verderaan was daar nog hulpkrete en ek het daarheen geroei. Ek het heen en weer geroei en kon 11 mense daardie nag red. Vier van hulle is later as gevolg van blootstelling dood. Teen daardie tyd was ek al totaal uitgeput en my hande het gebloei van die roeiery. Ná ‘n warm drankie by ‘n tydelike sorgsentrum, droë klere en verbande om my hande, het ek weer na die man op die dak gaan soek. Hy was egter dood toe ek daar aankom en tot vandag toe voel ek skuldig dat ek hom nie kon oorreed om in die boot te klim nie. Al die emosies van die afgelope nag het my skielik oorweldig en teen dagbreek het ek handdoek ingegooi toe die hulpkrete begin kwyn en slegs ‘n  grieselrige stilte oor die eiland neergedaal het.”

Met sonop  het 58 mense op Canvey hul lewens verloor. Talle het op die dakke van huise verkluim terwyl ander deur water in hul huise vasgekeer was – terwyl hulle geslaap het. Al langs die kus van Engeland het 307 mense gesterf, 24 000 huise is verwoes of beskadig en 40 000 mense is na veiligheid gebring.

canvey thameside

Toe en nou in Thameside

canvey northavenue

Toe en nou in North Avenue.

straattoneel

Verslae mense aanskou die storm- en vloedskade die volgende oggend.

redding uit huis

Mense word die oggend na die ramp uit huise ontruim.

In Holland en Belgie was die tragedie selfs groter met meer as 1 800 mense dood. In die Noordsee is ongeveer 230 mense op veerbote, skuite en visserbote dood. Meer as ‘n 1 600 kilometer van die Britse kuslyn is deur die storm geraak.

Ná die opruiming op Canvey is dadelik begin met die bou van ‘n nuwe, versterkte beton seemuur. Die muur, wat 23 kilometer lank is, is in 1983 voltooi en in 1993 met ‘n verdere twee meter verhoog.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die seemuur op Canvey Island met ‘n uitbeelding van die noodlottige nag in 1953 op geskilder.

Canvey-Island hoofstraat

Canvey Island se hoofstraat vandag.

SOUTHEND-ON-SEA

Vanaf land deur bomeSOUTHEND-ON-SEA

Southend-on-Sea, of sommer kortweg, Southend, is een van die groter dorpe in ons omgewing en die mees oostelike groot dorp aan die noordelike oewer van die Teemsrivier voordat die Noordsee begin. Tussen ons dorpie – Benfleet – en Southend is daar vier aaneengeskakelde dorpies – Hadleigh, Leigh-on-Sea, Chalkwell en Westcliff  – so 12 kilometer soos die kraai vlieg of 19 kilometer seelangs. Ons praat van “seelangs”, maar strenggesproke is dit die yslike riviermonding. Die windjie stoot hier al seegeure in die Teems se mond op en omdat dit ‘n getyrivier is, bring hoogwater heelwat seelewe (selfs dolfyne) met die soutwater diep land in. Southend is dan ook ‘n kusdorp en gewild onder vakansiegangers – slegs sowat 65 kilometer oos van Londen-sentraal af. Moet egter nie Jeffreysbaai se branders en strande verwag nie.

PALACE HOTEL

Die statige Palace Hotel op Southend se seefront. Koninklikes het al hier oornag – lank gelede.

In 1830 is die wêreld se langste ontspanningspier in Southend gebou – ‘n 2.14 kilometer lange looppad die see in. Oor die jare heen het die pier al deurgeloop onder rampe soos groot skepe wat daarin vasgery het en twee groot brande. In 1995 is ‘n vermaaklikheidsarkade aan die landkant van die pier deur brand in puin gelê en in 2005 het vuur groot skade aan restourante en winkels op die ander punt, diep die see in, aangerig. ‘n Smalspoortreintjie is beskikbaar om mense wat nie kans sien vir die stappie nie en goedere te vervoer.

Southend-on-Sea se historiese 2.16 km-lange pier

Southend-on-Sea se historiese 2.16 km-lange pier met die pretpark in die voorgrond.

Baie Sondagmiddae gaan loop ons daar – en koop ‘n lekker draairoomys by die restourant op die punt.

‘N VRYSTATER IN BENFLEET

Byna elf jaar gelede het ons van ‘n naburige dorpie (village) na Benfleet, Engeland verhuis – ons eie huis. Niemand sal Benfleet as ‘n toeristedorpie beskryf nie, die hoofstraat is maar bra vervelig met die gewone winkels en wegneemeetplekke en hier is, op die oog af nie werklik enige besienswaardighede nie.  Die hele dorp is omtrent die grootte van ‘n gemiddelde voorstad in Pretoria.

Uitsig van watertoring

UITSIG OOR BENFLEET VANAF DIE WATERTORING MET ‘N PLAAS OP LINKS EN DIE HOOFDORP IN DIE VERTE. DIE HUISE OP REGS IS NA DIE INGANG VAN BEFLEET

Delf mens egter so effens dieper, ontvou ‘n heel interessante geskiedenis.

Benfleet is in Essex, reg oos (so 40 kilometer tot in die buitewyke) van Londen langs die Teemsrivier waar hierdie bekende rivier in die Noordsee uitmond. Die naam kom van die Saksiese setlaars wat in die vyfde eeu hier kom nesskop het. Hulle het die gebied Beamfleote genoem – boomryke stroom. Oor die jare heen het die naam verdraai geraak tot die stasie met die koms van die spoorweg in 1855 amptelik Benfleet genoem is. Die stroom is ‘n vertakking van die Teems en het vir baie jare handelskepe met ware van Europa en elders na die gebied gebring. Onder die parkeerterrein van die ou Hoy and Helmet pub, wat teenaan die stroom is, is daar ‘n doolhof van tonnels wat baie jare gelede gebruik is om alkohol (belastingvry) van die skepe af in te smokkel.

hoyandhelmetpubsouthbenfleet

DIE EEUE OUE HOY AND HELMET PUB

Die naam, Hoy and Helmet verwys ook na die dorpie  se verbintenis met skeepsvaart, waar Hoy ‘n tipe skip was en Helmet die versterkte boeg van die skip om in laagwater te kan vaar. Vandag is dit meestal net seiljagte, huisbote en motorbote wat in die getystroom gesien word.

Church_Corner_0028

‘N OU FOTO VAN BENFLEET SE HIGH STREET MET NOG ‘N OU PUB, DIE ANCHOR INN OP REGS EN DIE OU KERK WAT AGTER DIE BOOMTOPPE UITSTEEK.

Net langs die Hoy and Helmet is daar ‘n monument om die Slag van Benfleet tussen die Vikings en die Saksers in 894 te herdenk. Tydens opgrawings met die bou van die treinstasie, is op talle uitgebrande Vikingbote en geraamtes uit die veldslag afgekom. Om die oorwinning oor die Vikings te vier, het die Saksers destyds ‘n houtkerk nie ver van die slagveld af nie gebou. Die fondasies is later gebruik om ‘n permanente klipkerk te bou – ‘n gebou (met uitbreidings oor die jare heen) wat vandag, na 1 100 jaar steeds staan en as kerk gebruik word.

stmaryschurchsouthbenfleet

ST MARY’S CHURCH, BENFLEET WAT AL MEER AS ‘N 1000 JAAR OUD IS.

Een van die voetslaanpaaie waar ek gereeld my gemoed gaan skoonmaak, lei na die Hadleigh Country Park – ‘n enorme park met woude en selfs die ruïnes van die ou Hadleigh-kasteel waar die onbeperkte uitsig vir myle ‘n blik gee op die Teems, Noordsee en omgewing. Hierdie einste park het ook ‘n moderne bergfietsbaan – ‘n nalatenskap van die 2012 Olimpiese spele toe wyle Burry Stander Suid-Afrika se naam tydens die kompetisie hoog gehou het.

So van kastele gepraat. Benfleet se watertoring, wat in 1903 voltooi is, waak as ‘n indrukwekkende 90 meter hoë baken oor die dorpie. Mense wat weet, vertel dat dit spook in hierdie swierige toring wat gebou is in die Romaanse styl om soos ‘n kasteel te lyk. Maar dis blykbaar ‘n vriendelike, ondeunde spook.

Watertoring

BENFLEET SE WATERTORING

Benfleet was in 1952 in die nuus toe ‘n Meteor vegvliegtuig hier neergestort het. Wonder bo wonder is niemand beseer nie, maar ‘n hele klompie huise is beskadig en blykbaar het iemand se hoenderhok met die inhoud daarvan oor ‘n groot gebied gesaai gelê. Talle huise dra ook nog letsels van Duitse bomme uit die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste huise is oor die jare heen herstel, maar sommige hou die letsels as herinnering aan ‘n vergange era. John en Paddy oorkant die straat is nou al in hulle tagtigs en het hier grootgeword. As jonggetroude paartjie het hulle in 1956 die nuutgeboude huis betrek en dra elke somer vir ons vrugte van die ou vyeboom in hulle tuin aan. Die huis is op ‘n bult met ‘n ver uitsig oor die omgewing. Dit verklaar hoekom daar vandag nog ‘n platform is waar daar ‘n kanon en soeklig tydens die oorlogtyd was. Paddy vertel hoe die soldate vir hulle, as klein kindertjies, die pad met daardie yslike lig verlig het wanneer hulle met ‘n slee in die sneeu teen die helling af pret gehad het.

Laerskool

BENFLEET LAERSKOOL

Terloops, einste Paddy het ‘n waterverfskildery wat haar ma as jong Britse meisie in Pretoria tydens die Boereoorlog geverf het. Haar pa was as soldaat daar gestasioneer. Die skildery gee ‘n pragtige beeld van Meintjieskop en die Groenkloofarea (sonder enige huise) van die gebied waar die Voortrekkermonument later gebou sou word, af.

‘N LEWE BUITE SUID-AFRIKA

vlag

Na aanleiding van twee Engelse artikels (ja, hierdie Vrystater kan darem “the language” so effens uitmaak) hier in ons koerant, het ek gedink om my eie Afrikaanse weergawe te doen en my stempel daarop te plaas. Die artikels in The South African hier in Engeland, was onder die opskrifte, “Five hard truths I’m learning living overseas” en “Five culture shocks every South African experiences when living in the UK”.

Die skrywer van eersgenoemde artikel, begin deur te sê dat “Living life between two worlds leads to some learning curves and hard, hard truths”.

Om in ‘n oorsese land huis op te sit, is ‘n avontuur – om die minste te sê. Jou lewe is gevul met ontdekkings, persoonlike groei en opwindende besluite oor jou en jou gesin se lewens, Dit is egter ook met eensaamheid en verwarring gelaai. En baie, baie deursettingsvermoë en aanpasbaarheid.

Verlangdae so saam met die gemis van bekende geure, klanke en die Afrika-son op jou vel dwing jou dikwels om hardop ‘n gesprek met jouself te hê. Dan vertel jy vir jouself dat elke negatiewe gevoel nie noodwendig die teken is dat jy moet oppak en terug huis toe gaan nie. Daardie gevoelens raak maar deel van die avontuur.

  1. JY LEER OM DIE LEWE EN DIE WÊRELD SONDER HULP TE NAVIGEER

Jou hele ondersteuningraamwerk het in Suid-Afrika agtergebly. Hier is nie ‘n ouma of gawe buurvrou om na die kinders te kyk as julle die aand wil uitgaan nie. Jonas en Mieta is ook by die huis – hier werk jy self in die tuin, was die kar en doen al die huiswerk. By ons is Saterdagaande voor die TV strykaand. Saans loop jy alleen in die reën van die stasie af huis toe en wens tog so om gou vir ‘n koffietjie by ‘n broer of suster of ou skoolvriend in te glip om te kla of om vreugdes te deel. Later aanvaar jy dat dit nie moontlik is nie en nog later raak jy gewoond daaraan.

  1. JY BESEF DAT JY NIE ‘N GESKIEDENIS HIER HET NIE

My jongste het dit lank gelede goed gestel. Hy het sy lewe in Suid-Afrika as ‘n lyn gesien. Toe stop daardie lyn en begin hy noodgedwonge ‘n nuwe lyn in Engeland. Wanneer hy weer terug Suid-Afrika toe gaan, sal hy weer ‘n nuwe lyn moet begin, want daar het teveel op sy Engelse lyn gebeur om die twee Suid-Afrikaanse lyne sommer weer te kan verbind.  Daar gaan dus ‘n gaping tussen die twee lyne wees. Aan die ander kant het sy Engelse lyn sommer so in die lug ontspring. Daar is ‘n groot deel van sy lewe wat nie op hierdie lyn verteenwoordig word nie. Toe die ander seuns ‘n oupa-en oumadag by die skool gehad het, was sy grootouers baie myle vêr. Hy het ook nie in dieselfde omgewing as sy Engelse skoolmaats tot hier gekom nie. Sy hele verwysingsraamwerk was anders. En dit gaan weer anders wees as hy terug Suid-Afrika toe gaan.

Ons mis die familietroues en neefs se mondigwording. Ons kan nie lewenslange vriende se begrafnis bywoon nie. ‘n Vinnige braai saam met ou Swaer bly ‘n wens.

Maar jy kry ander dinge om hierdie leemtes te vul en ‘n pak Oumabeskuit of ‘n braai saam met mede-verlangharte kry dieper betekenis.

  1. AANVAAR DAT MENSE IN EN UIT JOU LEWE GLIP

Jy gaan heel waarskynlik kontak met baie van jou vriende verloor. Aanvaar dit, dit is die verloop van die lewe al het jy in Suid-Afrika gebly. Gelukkig vir Skype en Facebook kan mense steeds deel van jou lewe bly. Ek het juis deur die sosiale media met ou skoolvriende bande opgetel met wie ek waarskynlik nooit kontak sou gemaak het as ek in Suid-Afrika gebly het nie. Jou verlanghart dryf jou dikwels om te kyk en te wil weet wat in jou ou buurt aangaan.

  1. TYD SAAM MET GELIEFDES IS NOOIT GENOEG NIE

Of jy nou huis toe gaan vir die Kersvakansie en of familie en vriende vir jou kom kuier, die tyd vlieg gou verby en baie vinnig wens jy dat jy dit weer oor kan hê. Daar gaan beslis blydkskap-trane van hereniging wees, maar wees ook voorbereid op die gewone familietwispunte. En die opmerkings (wat in baie gevalle niks anders as verskuilde afguns is nie) – “Julle het mos landuit gevlug”, of “Julle los ons toe mos om die probleme uit te sorteer”.

Jy besef gou hoe baie dinge maar nog is soos jy dit onthou, nie veel het verander nie. Tyd het in baie opsigte stil gaan staan. Maar dan let jy die subtiele veranderings op. En die grotes. Kleuters word tieners. Tieners staan nou op trou. Jou ma loop krommer. Die tuine in die buurt van jou kinderjare lyk nou verwaarloos.

En dan besef jy hoe die tyd verbygaan het en die lewe nie stilstaan nie. En hoe baie veranderings en aanpassings daar in jou eie lewe was.

  1. ONTHOU JOU REDE

Elkeen van ons het ‘n rede hoekom ons nie in Suid-Afrika woon nie. Mag dit nooit wees om van probleme af weg te kom nie, want dit gebeur nooit! Probleme is oral – die aard daarvan verskil slegs.

Daar kom dae wanneer verlange plek maak vir ander emosies. Skuldgevoelens is dalk een van die grootstes, veral wanneer ek die hunkering in my ma se stem hoor om die kinders te sien, te hoor, te druk. Ook wanneer ek sien hoe uitbundig die kinders saamkuier wanneer ons in Suid-Afrika gaan kuier. Dit is sulke tye wanneer ek myself moet herinner aan die rede vir ons opofferings. Ja, elkeen het ‘n rede. Ons wou ons kinders se horisonne verbreed en hulle ‘n beter kans gee om (met twee paspoorte) ‘n groter verskeidenheid geleenthede te hê.

passports-original

Vandag pluk ons reeds die vrugte van ons opofferings, maar daar sal altyd die “gewonder” wees – wonder hoe sou dit gewees het as ons in Suid-Afrika gebly het. Met twee paspoorte kan ons darem enige tyd weer huis toe gaan. ‘n Naweekwegbreek na ‘n Frankryk of Holland of enige Europese land is darem ook soveel makliker sonder die rompslomp van visum-aansoeke. Selfs lande soos Amerika en Australie hou die hekke vir jou oop wanneer jy die rooi paspoort waai.

In Engeland moes ons vinnig ‘n paar kultuurskokke oorbrug. Ek noem vinnig die vyf wat in die tweede artikel van “The South African” beskryf is.

  1. RUIMTE IS ‘N LUUKSE

Dit is ‘n groot pluspunt wanneer jy parkeerplek vir jou kar in die oprit het. Baie karre staan snags op straat en saans en oor naweke kan dit tot gevegte lei vir ‘n gesogte parkeerplek. Die huise is gemiddeld baie kleiner as in Suid-Afrika en die tuine (gelukkig ook maar, so sonder ‘n Jonas) is nie veel groter as ‘n blombedding in Suid-Afrika nie. Jou bestuursvernuf word tot die uiterste toe beproef in die nou strate waar daar heel dikwels net vir een kar plek is in ‘n tweerigtingstraat. In die platteland waar ons woon, kan ons darem bene rek (maar die huise is steeds kleiner).

  1. KRY SUID-AFRIKA ‘N BIETJIE UIT JOU KOP

Hoe swaar ook al, jy moet jou Suid-Afrikaansheid soms opsy skuif. Jy wil outomaties vergelykings tref met alles in Suid-Afrika totdat jy almal begin irriteer met “..in Suid-Afrika doen ons…”. Ons Afrikaners is ‘n trotse lot en dit is soms maar moeilik om te weet wanneer die Britse manier ingespan moet word en of jy maar moet vasklou aan jou eie gewoontetjies. Sodra jy die regte mengsel van die twee kan baasraak, begin jy die oorhand oor die situasie kry. Kersfees in die winter werk nog steeds nie vir my nie.

  1. SUID-AFRIKAANSE TYD IS UIT

Niemand hier verstaan “nou-nou” nie. Jou tydsbestuurvernuf word tot die uiterste toe getoets, veral wanneer jy drie verskillende treine werk toe vat. Normaalweg loop die openbare vervoer soos ‘n duur horlosie, maar soms kan ‘n stok in die spreekwoordelike wiele ‘n dag sleg omkrap.

  1. MIN MENSE HIER ROND KNOOP GESELSIES AAN

Ons Suid-Afrikaners hou nogal daarvan om te klets. Behalwe vir die ouer (eensame?) garde, doen die Engelse dit nie. Om ‘n gesprek met ‘n vreemdeling aan te knoop, is so stram soos flinke diens op ‘n Vrydagmiddag in ‘n Kroonstadse munisipale kantoor. Veral as jy met ‘n aksent praat.

  1. JY’S SUID-AFRIKAANS – EN ANDERS

In openbare plekke mag jy dalk sukkel om ‘n gesprek aan die gang te kry, maar by sosiale geleenthede vind jy jouself heel dikwels omring van mense wat graag luister hoe jy ‘n leeu uit jou sitkamer in Suid-Afrika verdryf het en (na al die jare) steeds verstom is dat ons toilette in Suid-Afrika het. (Tell me, where is South Africa? Duh, jy moet ‘n clue sien in South en in Africa!). Onthou, jy kom van ‘n ver plek af en mense wil weet hoe jy selfs tot in Engeland kon kom. As die plaaslike Suid-Afrika-kenner, voel jy verplig om die mense in te lig oor jou geliefde land.

En selfs al was jy nie eers so baie lief vir jou land nie, besef jy vinnig, na al die stories wat jy vertel, hoe jy die land – jou ware tuiste – mis.