HERFS

2015-10-22 12.52.07

Ek is mos ‘n sonskynmens. Ja, ek probeer wel ‘n bietjie sonskyn in ander mense se lewens bring, maar dis nie wat ek met my dubbelsinnige stelling bedoel nie. Ek hou van sonskyn. Somer.

Hier by ons is die horlosies verlede naweek teruggedraai en is ons nou twee ure agter Suid-Afrika. Herfs, met mening en fluks op pad winter toe.

Vanoggend, tydens kopskoonmaaktyd in die voëlpark hier naby ons, kon ek sien hoe die natuur voorberei vir die naderkruipende winter. Daar was ‘n byt in die lug, die meeste trekvoëls het al opgepak en swerms Kanadese ganse maak gereed vir die winter. Dagligtyd is heelwat korter as gedurende die somermaande en sonskyn verflou teen ‘n grou lug. Die laaste van die veldbessies is soet en vlek my vingers. Die wind roer die digte bos biesies langs die stroom. Ek hou daarvan. Dit roep herinneringe op van kindertyd op my oom se plaas langs die Modderrivier naby Bloemfontein.

Sonskyn en somer. Ja ek verkies dit, maar tog is daar ietsie aan winter wat my nie ‘n totale afkeer daarvan gee nie. ‘n Stuk van my hou van winter. Veral hier in die noordelike halfrond.

Gesellige kaggelvure en warm sjokolade of glűwein gee wintersaande ‘n karakter, ‘n atmosfeer van knusheid. Sop en bredies en kaneelsouskluitjies. Hierdie jaar word ‘n wit Kersfees vir Brittanje voorspel. Daar is iets sereen aan ‘n  laataand-stap met ‘n wolserp en handskoene aan deur ‘n dik laag sneeu, krakend onder sneeustewels. Dis gewoonlik doodstil, want min mense trotseer die sneeu daardie tyd van die aand. Dis net jy met jou witwolkasem en die sneeuvlokkies met die lig se weerkaatsing van ‘n sneeuwit bedekking.

Ja wat, winter kan maar kom. Ons Suid-Afrikaners pas mos by alles aan (selfs ‘n verloorslag teen die All Blacks).

2015-10-22 12.41.372015-10-22 12.43.572015-10-22 12.44.442015-10-22 12.53.332015-10-22 13.02.582015-10-22 13.10.332015-10-22 13.14.44