DAARDIE EERSTE BESKEIE KLEIN TREETJIE

DAARDIE EERSTE BESKEIE KLEIN TREETJIE

Ouma beskuit

Nou annerdag sien ek weer daardie bekende sêding wat te vertelle het dat iemand wat nie glo dat klein dingetjies ‘n verskil kan maak nie, nog nooit met ‘n zoemende muskiet in die kamer probeer slaap het nie. Of iets in dier voege.MUSKIET

Wat my toe nou dadelik aan die merkwaardige tannie Greyvenstein laat dink het.

In 1939, toe die wêreld nog gebuk gegaan onder die nagevolge van die Groot Depressie, het baie Suid-Afrikaners swaar getrek. In Molteno het die dominee een Sondag daardie jaar uit Matteus  25: 14-30 gepreek, die gedeelte waar Jesus mense aangemoedig het om met hulle talente te woeker. Ná die diens het die dominee ‘n aanbod aan ‘n groep vroue gemaak. Met ‘n klein bedrag wat aan elkeen oorhandig is, is hulle uitgedaag om hul talente in te span en met die geld te gaan woeker.

Elizabeth Ann Greyvenstein het die geleentheid aangegryp en met haar twee sjielings en ‘n sikspens (op ‘n stadium rofweg gelyk aan vyf-en-twintig sent) bestanddele vir beskuit gaan koop. Haar familieresep was ‘n treffer op die kerkbazaar en gou het die bestellings begin instroom. Met haar wins het sy nóg bestanddele gekoop en by sportbyeenkomste, kerkfunksies en ander byeenkomste begin verkoop. Gou was haar beskuit deur die hele distrik bekend.

Hoe sou die beskuit egter buite die distrik aanvaar word? Haar seun het eendag met sy pa se Ford-bakkie die pad gevat en teruggekom met baie bestellings. Die skuur op hulle plaas is omskep in die land se eerste beskuitfabriek met ekstra klei-oonde en tuisgemaakte droograkke. Dit is landswyd verkoop as Uitspan Beskuit en later Outspan Rusks.

uitspan

Vandag is tannie Greyvenstein se beskuit, danksy baie emigrante Suid-Afrikaners, oor die hele wêreld heen bekend as Ouma beskuit.ouma blik

Met haar drie muntstukke het sy ‘n sakeryk op die been gebring, want dit is nie waar die storie eindig nie.

In die laat 1950’s het haar seun, Leon, op reis deur Amerika, se pad met Herman Lay (einste Lay van Lay’s skyfies) gekruis. Terug in Suid-Afrika het hy dadelik aan die werk gespring en die eerste aartappelskyfies onder die handelsnaam Simba begin vervaardig.simba logo

Uit dieselfde beskuitfabriek het ons later ook nog ander Suid-Afrikaanse gunstelinge soos Tastee Wheat, gekry.

Skoonma het graag vertel hoe haar ma destyds nie juis besonder beïndruk was toe sy die eerste proe van die veelbesproke nuwe Simba-skyfies gekry het nie. “Aggeneewat, dit smaak maar na gewone aartappel met ‘n bietjie sout op, of wat?”simba snacks

Moet nooit dink klein treëtjies bring jou nêrens nie. Dit is heel dikwels daardie eerste klein beskeie treetjie wat die belangrikste stap van jou lewe kan wees.

Hoe groot is ‘n muskiet? En jy? En hoe baie kere het die muskiet nie al gewen nie!

14 thoughts on “DAARDIE EERSTE BESKEIE KLEIN TREETJIE

  1. Little drops of water, little grains of sand … (baie ou Engelse gediggie). En dan is daar natuurlik ook Van Wyk Louw se Beiteltjie … Baie dankie vir hierdie skrywe. Nou weet ek ook waar Ouma se “rusks” hul beslag gekry het — en van Simba-tjips se herkoms.

    • Wat ‘n eer om jou kommentaar op my ou skryfseltjie te kry! Ek het nogal gedink die meeste mense mense ken die storie van Ouma Greyvenstein se beskuit (dalk nie almal bekend met Simba nie). Maar tot my verbasing kom ek agter dat die meeste mense toe tog nie geweet het nie. Baie groete en liefde vir jou!

  2. Goeie stukkie leersame geskiedenis. Ek persoonlik dink ons almal is net altyd bang om daai eerste treetjie te gee in die onbekende, te veel “wat as ?, wat kan?? verkeerd gaan!!!”, so bewys Ouma se beskuit ons verkeerd.

    • Dit is so. Ons wou hier in Engeland vir Engelse al laat proe het hoe beskuit smaak (hulle ken dit mos nie), maar het werklik nie die vrymoedigheid gehad om hulle ‘n Ouma te laat dip nie.

  3. Die lekker inspirerende verhaaltje is so vars vanaand as die eerste wat ek dit gehoor het. Dankie vir ‘n die memories.

Leave a reply to Biltong & Pot-roast Cancel reply