ROTTERDAM – RONDLOOP EN DIE MARKTHAL

ROTTERDAM

RONDLOOP EN DIE MARKTHAL

Saterdagoggend het ons ‘n stukkie van Rotterdam te voet gaan verken. Ek moes weer ‘n draai by die Markthal, wat ek die eerste aand gesien het, maak.

The Markthal is ‘n enorme marksaal met ‘n boog  woonstelle en kantore bo-oor. Die gebou is in Oktober 2014 geopen. Behalwe vir die groot marksaal, bevat die kompleks 228 woonstelle, 4600 vierkante meter kleinhandelruimte, restourante om van te kies en keur en ‘n ondergrondse parkeergarage met 4 verdiepings waar  meer as 1200 motors kan parkeer.

‘n Tydjie gelede het ek vertel van die interessante vrugte wat ek al hier in Europa teëgekom het. En sowaar, by ‘n vrugtestal daar in die Markthal loop ek toe weer ‘n klompie vreemde vrugte raak (en andere wat nou al aan my bekend is).

Ons tyd was beperk en ek moes behoorlik uit die saal gesleep word sodat ons verder kon verken. Daar sal hopelik ‘n volgende geleentheid wees.

DSCN3170

MARKTHAL IN DIE AAND

DSCN3344 (2)

DSCN3362 (2)

DIE BESIGE MARKSAAL VAN MARKTHAL BEDAGS

DSCN3364 (2)DSCN3365 (2)DSCN3367 (2)DSCN3370 (2)

IMG_20190803_162952

VAN BO NA ONDER: SLANGVRUG, MANGSTEEN, FEJOA, BOOMTAMATIE EN PITAYA (‘N TIPE GEEL DRAGON FRUIT – HEERLIK!)

IMG_20190803_162957 (2)

SLANGVRUG WAT VAN ‘N PALM AF KOM. Die vrug is min of meer so groot soos ‘n vy en die tekstuur is baie soos dié van ‘n kokosneut.

DSCN3374 (2)DSCN3376 (2)

VOLGENDE KEER: DELFT

Advertisements

KINDERDIJK

KINDERDIJK

ROTTERDAM: DAG 1

Ná ‘n stewige ontbyt, voorberei deur my prinses  (ook bekend as Melissa, my dogter) in haar kasteel, het ons die pad (aan die regterkant!) Kinderdijk toe toe geneem. Dit was ‘n trietsige, reënerige dag – nie ideaal vir foto’s nie.

Kinderdijk is ‘n dorpie in die distrik Molenlanden, in die Suid-Hollandse provinsie van Nederland – so 15km oos van Rotterdam.

Dit was vir ons heel treffend om uit die bloute ‘n kat in die veld daar teë te kom – veral nadat ons die volgende inligting bekom het.

Tydens die Saint Elizabeth-vloed van 1421 het die Grote Hollandse Waard oorstroom . Die Alblasserwaard-polder is egter nie oorstroom nie. Daar word vertel dat, toe die verwoestende storm bedaar het, ‘n dorpenaar na die dyk tussen hierdie twee gebiede gegaan het om te kyk wat gered kan word. In die verte sien hy ‘n houtwiegie op die water dryf. Soos hy nader beweeg, bemerk hy beweging in die wiegie en by nadere ondersoek sien hy  ‘n kat wat probeer om die wiegie in die golwende water te balanseer deur heen en weer te beweeg  sodat water nie in die die wiegie kon kom nie. Toe die dorpenaar uiteindelik by wiegie kom, sien hy dat ‘n baba rustig daarin slaap – ongeskonde en droog. Die kat het die wieg gebalanseer en drywend gehou.

Hierdie legende is in Engels gepubliseer as “The Cat and the Cradle”.

Die dorpie is in die Alblasserwaard-polder by die samevloeiing van die Lek- en Noordrivier. Ongeveer 1740 is ‘n network van 19 windmeulens gebou om die polder te dreineer. Hierdie groep meulens is die grootste konsentrasie van ou windmeulens in Nederland. Die windmeulens van Kinderdijk is een van Nederland  se bekendste toeriste-attraksies  en sedert 1997 ‘n wêrelderfenisgebied van UNESCO.

 

DSCN3225 (3)DSCN3241 (2)DSCN3247 (2)DSCN3257 (2)DSCN3282 (2)DSCN3287 (2)DSCN3291 (2)DSCN3293 (2)DSCN3297 (2)DSCN3306 (2)DSCN3314 (2)DSCN3317 (2)DSCN3338 (2)

VIER LANDE IN EEN DAG – DEEL 2

VIER LANDE IN EEN DAG – DEEL 2

BELGIË EN NEDERLAND

Dit is groot konsentrasie vir my wanneer ons in Frankryk van die veerboot af ry. In Engeland het ek links gehou – nou moet ek regs hou. Regs op die pad, regsom by verkeersirkels en die vinnige baan is links.

Vreemd hoe elke land ‘n eie atmosfeer het. Frankryk met sy ouwêreldse plase (wat baie aan Suid-Afrikaanse plase herinner), flambojante brûe en Franse padtekens. Die Belgiese motoriste bestuur baie aggressief en wil jou alewig uit die aarde uit ry. Dalk die rede hoekom ons hierdie keer so vinnig daar deur is – sonder om foto’s te neem. Nederland skep ‘n rustiger atmosfeer met windmeule en baie water.

Twaalf ure ná ons vertrek, vroegoggend uit Derbyshire, ry ons Rotterdam binne.

Ons kry ‘n hartlike ontvangs en na ete gaan loop ons ‘n draai in ons onmiddellike omgewing sodat ons bene kan rek en ek my kamera se lens kan uittoets.

Daardie nag slaap ek die slaap van ‘n dooie … in ‘n Hollandse bed, in my prinses se kasteel.

DSCN3165 (2)

DSCN3172 (2)

DSCN3174 (2)

DSCN3177 (2)

DSCN3180 (2)

DSCN3189

DSCN3185 (2)

DSCN3190 (2)

DSCN3195 (2)

DSCN3197 (2)

DSCN3210 (2)

DSCN3214 (2)

VOLGENDE KEER: KINDERDIJK

VIER LANDE IN EEN DAG!

VIER LANDE IN EEN DAG!

ENGELAND EN FRANKRYK

Ja, dit was ‘n lang roete, maar ons het dit om ‘n rede gedoen. Ons wou die “scenic route” neem en ons wou Cité Europe aandoen – op pad Rotterdam toe om by my dogter te gaan kuier.

Vroegoggend is ons uit Derbyshire weg en om 10:00 het ons ons plek in Dover-hawe agter die wagtende ry karre ingeneem – opgewonde om op die yslike veerboot te kom. Oor die hawe waak die beroemde White Cliffs of Dover wat, na al die jare, steeds my asem wegslaan. Die see oor die Engelse Kanaal was kalm en ‘n raps meer as ‘n uur nà ons vertrek, nader ons Calais aan die oorkant van die see.

Sedert ons heel eerste besoek aan Frankryk, het dit nou al ‘n instelling geword om by Cité Europe, ‘n groot, moderne winkelsentrum in Calais te stop vir voorraad, maar (veral vir my) ook om tarte au flan te eet – so saam met ‘n koffetjie.

Nadat die innerlike met Franse bederf verkwik is, het ons die pad noorde toe aangedurf – deur België op pad Holland toe.

Oe, daardie verkeerde kant van die pad ryery!

Maar meer daaroor volgende keer.

DSCN3097 (2)

Waiting at Dover to board the ferrie

DSCN3109 (2)

…and finally on board!

DSCN3130 (2)

The White Cliffs of Dover

DSCN3135 (2)

DSCN3120 (2)

DSCN3121 (2)DSCN3117 (2)

DSCN3137 (2)DSCN3150 (2)

DSCN3151 (2)

On the other side of the English Channel … approaching Calais.

DSCN3156 (2)

Cité Europe … for fresh flans and croissants!

flan

FLAN

NEXT TIME: ROTTERDAM!

PADDAVELLE EN LANGHAAR-LIETJIES

PADDAVELLE EN LANGHAAR-LIETJIES

As kind, in Bloemfontein, het ons ‘n klein boompie in die voortuin gehad. Elke jaar het hierdie boompie die heerlikste vrugte gedra wat ek agterna nog net een keer geëet het – feijoa’s. Baie mense noem dit die vrugteslaaivrug. Ek kry nog die smaak in my mond as ek onthou hoe ons die vrug middeldeur gesny en met ‘n lepeltjie geëet het.

Sedert ons in 2002 in Engeland aangekom het, het ek nou al ‘n hele verskeidenheid vrugte geëet wat ek nie in Suid-Afrika geken het nie. Dit kan ook wees dat ek dit net nie so opgelet het in Suid-Afrika nie. En om daardie rede ken ek die meeste van hulle se Afrikaanse name nie (dit sal darem baie gaaf wees iemand vir my die Afrikaanse name kan gee). Talle vrugte het ook sedertdien hul weg Suid-Afrika toe gevind. Ek het, byvoorbeeld,  vir die eerste keer ‘n sharon fruit hier in Engeland geëet en toe ek weer sien, is dit volop beskikbaar in my geboorteland.

Die Engelse begin nou eers stadigaan hul fiemies los, maar het tot nou toe my nog nie as avontuurlustige eters opgeval nie. So het die bure in ons vorige huis ‘n banana passionfruit in die tuin gehad wat hulle nog nooit van geëet het nie. Die helder rooi kleur van die sappige binnekant het hulle laat vermoed dat die vrug dalk giftig kan wees. Ek wou dit nie glo nie en die buurvrou het byna ‘n hartaanval gekry toe ek op ‘n dag ‘n vrug pluk en voor haar eet. Heerlik! Agterna het die hele buurt by hulle kom vrugte pluk.

Engeland voer baie groente en vrugte in en so het ek al vrugte hier gekry wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Om ‘n paar te noem: ‘n Rambutan van Indonesie –  so ‘n lietjierige vrug met lang hare. ‘n Tamarillo, uit Suid-Amerika, lyk soos ‘n kruising tussen ‘n tamatie en ‘n grenadella. Die dragon fruit, wat ek weet, almal in SA nou al ken.  Die jackfruit is ‘n yslike en, waarskynlik, die mees buitengewone vrug van Indië af en word selfs as plaasvervanger vir vleis gebruik. Nog ‘n vrug wat baie soos ‘n lietjie is, is die longan van Sjina af. ‘n Mangosteen  lyk soos ‘n grenadella met ‘n heel knoffel aan die binnekant – ‘n heel unieke smaak. My gunsteling is egter die cherimoya of custard apple, wat heel anders is as dié wat ek in Natal geëet het.

Gister het ons egter weer ‘n piel de sapo geëet, ‘n tipe spanspek van Spanje af. Wanneer ek so na die skil kyk, kan ek verstaan waar die naam vandaan kom – paddavel. In Suid-Afrika het ek destyds hoofsaaklik net die valerige spanspek met die growwe skil en pienkerige binnekant gesien (ja, toemaar, my vrou vertel my altyd dat ek nie baie goed met kleurbeskrywing is nie). Hier het ek egter al heelwat ander soorte geëet waarvan die honey dew melon met sy wit vleis en suikersoet smaak my gunsteling is. Hier is ander ook met gladde skille, growwe skille, wit skille, groen skille en baie ander. Ek weet nooit watter kleur die spanspek aan die binnekant is nie totdat ek hom oopsny.

Die nadeel van hierdie ingevoerde vrugte (behalwe vir die impak wat dit op die omgewing het) is dat ons dit te ete kry lank nadat dit nog groenerig gepluk is.

Maar wat, so leer ons.

Feijoa

FEIJOA

Banana passionfruit

RAMBUTAN

TAMARILLO

Dragonfruit

JACKFRUIT

LONGAN

Mangosteen

Cherimoya

 

 

 

APPELKOOS EN JULUKA

APPELKOOS EN JULUKA

Die eerste keer toe ek hom gesien en sy naam gevra het, het hy met daardie ondeunde oë van hom geglimlag en gesê: “Appelkoos, Meneer”.

Hoekom juis Appelkoos, weet ek nie; dalk was dit die eerste oulike Afrikaanse woord wat in sy kop gekom het. Hoe dit ook al sy, ek was die enigste een wat hom Appelkoos genoem het. Al die ander het hom as Johannes geken – die bode waar ek lank gelede gewerk het. (My pa se naam was, terloops, Koos en my ma het graag vertel hoe ek as kleuter – dalk uit respek? – nie die betrokke vrug appelkoos wou noem nie, maar altyd van ‘n appelpappa gepraat het.)

‘n Baie besondere verhouding en ongewone vriendskap het tussen my en Appelkoos ontstaan. Mense kom en gaan mos in en uit ons lewens. Die meeste mense se herinneringe vervaag of raak totaal vergete. Daar is egter mense wat onuitwisbare spore deur jou hart trap. Appelkoos,  met sy skerp humorsin, was een van hulle. Ons kon lekker lag, oor alles.

So sit ons eendag en gesels toe hy my vra of ek “darrie lied van die oriebama ken”.

“Oriebama?” vra ek.

“Ja,” antwoord hy en val weg met: “Daaaar kom ooriebama, die ooriebama hy kom oorie see…”

Ek lag.

Hy vra: “Jy ken hom? Watse deng is darrie ooriebama?”

“Dis Alibama,” antwoord ek hom. “Daar kom die Alibama. Dis ‘n skip”.

“Ôô, ‘n skip.”

“Ja, dit was ‘n skip, eintlik die Alabama, daar van Amerika af. Lank terug.”

Ek kan tot vandag toe nie die lied se woorde reg sing nie.

“Daar kom ooriebama…”

Kleinsus het destyds met ‘n outjie, Danny, uitgegaan. Danny was ‘n uitstekende sokkerspeler en het vir Bloemfontein Celtic gespeel. Hy het Suid-Afrika ook op die Makkabese Spele in Israel verteenwoordig en was baie gewild onder die swart sokkerondersteuners. Elke keer wanneer Danny aan die bal geraak het, het “Juluuuuka” deur die stadion gedreun. Selfs in sportberigte is daar na Danny in aanhalingstekens as “Juluka” verwys. Ek was nuuskierig oor hierdie naam, aangesien ek nog nie kennis geneem het van die nuwe sanger met sy groep wat op die toneel verskyn het nie. Bloemfontein se swart bevolking het egter kennis geneem van die wit outjie wat brûe tussen kultuurgroepe bou.

Dit was dan ook die einste Appelkoos wat my kon antwoord toe ek eendag in die kar, op pad sokker toe, vir hom vra hoekom hulle vir Danny Juluka noem. Daardie Maandag toe bring hy vir my ‘n foto van Johnny Clegg saam met sy groep, Juluka.

Met hul eenderse haarstyle kon ek duidelik die ooreenkoms tussen Johnny en Danny sien. En ek het kennis van Johnny Clegg geneem.

Die afgelope week, met Johnny se dood, toe dink ek weer aan Appelkoos.

Ek wonder of hy my ook nog onthou.

Daaaar kom ooriebama …

DIE SPORE VAN ‘N PIKKEWYN

DIE SPORE VAN ‘N PIKKEWYN

Anderdag lees ek ‘n stelling op Facebook: “Die oomblik wanneer jy gebore word, word jy ‘n naam gegee, ‘n geloof, ‘n nasionaliteit en ‘n ras. En vir die res van jou lewe gaan jy iets verdedig waaroor jy geen beheer of insae gehad het nie”.

Wat my toe laat dink het aan ‘n storietjie wat ek lank gelede geskryf het, toe ek ook oor soortgelyke dinge nagedink het.

In my storie verdwaal ‘n pikkewyn eendag verskriklik en beland in die Kruger-wildtuin. Daar loop hy ‘n kameelperd raak wat rustig aan ‘n takkie groen blare knibbel. Hulle is ewe verbaas om mekaar te sien en groet aanvanklik strammerig. Later vra die pikkewyn vir sy nuwe maat: “Wat is dit wat jy daar eet?” Die kameelperd vertel hom dat dit lekker groen blare is. Pikkewyn trek sy asem skerp in: “Jong, dis sonde om blare te eet, ons mag net vis eet”. Kameelperd hou  vir ‘n oomblik op met kou, kyk verbaas na Pikkewyn en vra: “Nou waar hoor jy dit?”

“Jong, dit is nou maar net so. My ma het my nog vertel. Jy gaan groot moeilikheid kry as jy enige iets anders as vis eet.”

Dieselfde dag beland twee seuntjies langs mekaar op ‘n bus in ‘n ver land – ‘n Afrikaanse seun uit ‘n christenhuis en ‘n moslemseuntjie. Die Afrikaanse outjie kyk die seuntjie langs hom op en af tot sy nuuskierigheid die oorhand kry. Hy vra in sy beste Engels: “Hoekom het jy ‘n wit rok aan? Jy’s mos ‘n seun.”

Ja, waar ons op hierdie planeet gebore word en wie jou ouers is, bepaal die rigting wat jou lewe inslaan.

Hierdie week is ek 17 jaar in Engeland. Is ek nou ‘n Engelsman? Beslis nie. Ek sal ‘n Vrystater doodgaan. En ‘n christen. My kinders, egter, beskou hulself  nie as Brits of Suid-Afrikaans nie – ten spyte van (of dalk, as gevolg van) dubbele burgerskap en my beste pogings om hulle as Vrystaters groot te maak (al is hulle in Pretoria gebore). My dogter is verloof aan ‘n Griekse outjie en gaan binnekort in Nederland bly. Hulle sê hulle is wêreldburgers. By hulle is daar geen veroordeling van iemand op grond van sy herkoms nie. Hulle veroordeel wel dade en optrede.

Het ek ‘n reg om iemand wie se lewe anders as myne begin het, te veroordeel? Sou dit dalk beter gewees het as almal dieselfde was? Een groot globale land sonder grense. Een taal, een geloof – alles dieselfde.

Destyds, toe John Lennon oor hierdie dinge gesing het, het ek saam met mede-christene my wenkbroue gelig. Toe ek gister op die plek staan waar Edward Wightman die laaste man was wat op die brandstapel gesterf het (oor sogenaamde kettery) toe dink ek aan al die gruweldade wat sommer net die afgelope maand in die naam van die een of ander godsdiens gepleeg is (wat nog te sê oor die eeue heen). Ek lig nie meer my wenkbroue wanneer John Lennon sing van “a brotherhood of man” – niks om voor te sterf of te moor nie. Ek droom saam.

Ons leef in ‘n kleurryke wêreld vol kontraste, kulture, tale, godsdienste, diversiteit en geleenthede.

Die spore van dit wat jy gedurende jou leeftyd doen (en nie doen nie) gaan nog op aarde bly, lank nadat jy hierdie lewe agtergelaat het.