DIE SESDE BOKS (EINTLIK ‘N HOK)

matryoshka_doll

Wat maak jy wanneer die lewe vir jou ‘n suurlemoen gee?

  1. Jy kyk hom so en dink by jouself: Wat op aarde…?
  2. Jy prakseer ‘n lekker tert met suurlemoen in en nooi jou vriende vir tee.
  3. Jy maak limonade en verkoop dit. En dan gaan koop jy nog suurlemoene met die geld en maak nog limonade.
  4. Jy bekyk hom, druk hom en wonder hoe lank hy gebêre kan word?

Almal van ons is heeltemal uniek in alle opsigte. Tog is dit verbasend maklik om ons almal, soort vir soort, sommer so in slegs vier of vyf verskillende krale te ja. Volgens ons persoonlikheidstipe.

Ek was al op verskeie seminare en kursusse waar daar probeer is om my in ‘n boksie te pas. Twee van die seminare spring nou vinnig in my geheue op. Een was waar die persoonlikheidstipes met vier Bybelse figure vergelyk word. Daar was ‘n Abraham en ‘n Paulus en so aan. En dan was daar die een met vier voëls. Die Arend (ambisieus en doelgerig); Die Uil (sistematies, berekenend en voorbereid); Die Duif (vredeliewend, liefdevol, vermy konflik) en Die Pou (flambojant en spoggerig). Die groep kursusgangers het die voëls gou herdoop na Hardegat, Banggat, Slapgat en Windgat.

Ek sal myself nou nie gaan slim hou met Sielkunde en Sosiologie nie, dis nie my vakgebied nie en ek is glad nie op hoogte met die nuutste verwikkelinge op hierdie terreine nie. Ek het egter ‘n geweldige belangstelling in mense se geite en goete. Op ‘n funksie, onthaal of enige geleentheid waar ‘n groep mense bymekaar is, is ek heel gelukkig om die spulletjie net te sit en betrag. Te kyk hoe hulle op gesprekke, opmerkings en interaksie reageer. Dit is waarskynlik ook die rede hoekom mense se reaksie op ‘n grap of poets vir my heel dikwels komieser is as die grap self.

Nou anderdag lees ek ‘n interessante artikel oor hierdie onderwerp. Dis nou hierdie boksies waarin ons geplaas word. Vir my as leek is dit toe heel nuut, al is die artikel gebaseer op navorsing wat al in die laat negentiende eeu gedoen is. Volgens die skrywer groepeer sielkundiges ons menslike gedrag nou in die Groot Vyf karaktertrekke. Dit bepaal hoe ons die wêreld beskou en hoe ons met ander mense omgaan en het niks met Afrika se bekende diere te doen nie. Die meeste van ons het eienskappe van al vyf die karaktertrekke en dan kry jy punte daarvoor. Daar waar  jy die meeste punte kry, dis waar jou boksie is.

 

So, met watter van die Groot Vyf identifiseer jy die meeste?

  1. PLIGSGETROUHEID

Hierdie eienskap hou meer verband met jou werksetiek en organisatoriese vaardighede. Mense met ‘n hoë telling vir hierdie eienskap beplan vooruit, mik hoog en is geneig om intensiewer op een onderwerp te konsentreer as oppervlakkig op meer onderwerpe.

Diegene wat ‘n lae telling hier kry, sien die pligsgetroues gewoonlik as obsessief en hardkoppig.

 2. TOEGEEFLIKHEID

Vriendelikheid en deernis is onder meer eienskappe van toegeeflike persone. Hulle is ook meer betroubaar. Toegeeflikheid word gebruik om te bepaal hoe gelykmatig iemand is.

Mense wat lae punte hier kry, is gewoonlik twissoekerig, uitdagend en baie mededingend. 

  1. UITBUNDIGHEID

As jy ‘n hoë telling hier kry, floreer jy op interaksie met mense. Jy is besonder spraaksaam, energiek, selfgeldend en het geen probleem om die middelpunt van belangstelling te wees nie.

In teenstelling hiermee beskou mense wat min punte hier kry, die uitbundiges as aandagsoekers en oordominerend. 

  1. NEUROTIESHEID

Mense met ‘n hoë telling vir neurotiesheid, reageer gewoonlik negatief op ‘n situasie of potensiële scenario. Hulle voel angstiger, kwesbaarder en selfs meer bedreigd as ander mense.

Hierdie tipe gedrag kan geïnterpreteer word as ‘n teken van onsekerheid of onbestendigheid deur diegene wat ‘n lae telling in hierdie kategorie kry.

  1. WEETGIERIGHEID

As jy in hierdie kategorie val, is jy gretig om nuwe dinge te leer, intellektueel nuuskierig, hoogs kreatief en verbeeldingryk. Jy hou van ‘n spontane lewenswyse eerder as onbuigsaamheid en gryp na intense oomblikke.

Diegene op die ander punt is meer pragmaties en kry inligting uit gevestigde bronne eerder as om self te eksperimenteer.

Nou wonder ek,  hoe beïnvloed eksterne faktore die toets? Neem nou vir my as voorbeeld. Op dae wanneer ‘n Zupta-wolk voor die Suid-Afrikaanse son inskuif of die Cheetahs word weer deur die skeidsregter gekroek (met die helfte van hulle spelers wat vir die opponente speel), of wanneer ek nuus ontvang soos dat my vriend se pragdogter gisteraand gekaap is, dan voel ek nie besonder uitbundig of toegeeflik nie.

Hierbo is nie ‘n boksie vir die persoon wat ek dan is nie. Ek en die Incredible Hulk en nog so ‘n paar ander mense sit dan hygend in die boks met die tralies om – knus in ons straightjackets vasgevoel.  Personality-Test-Cartoon-LOL-personality-test-25440766-378-400

16 thoughts on “DIE SESDE BOKS (EINTLIK ‘N HOK)

  1. Soos altyd, lekker gelees, André. Baie dankie. Het jy daar ‘n lekker groot boks vir my met sulke afslaan-flappe? Ek sal sommer self die hoeke oopskeur, dankie. 😉

    • Ek dink nie dis werklik negatief nie. In enige bepaalde situasie het mens ‘n sekere persoonlikheidstipe nodig. Soms iemand wat bietjie versigtig is. Ek het selfs anderdag ‘n program oor psigopate gesien en besef hoe baie psigopate daar in ons alledaagse lewe is en hoe dikwels so ‘n persoon die ideale mens vir ‘n bepaalde situasie is. Nie al die psigopate is noodwendig moordenaars nie. Ek het saam met ‘n man gewerk, ‘n uitstekende leier, wat beslis ‘n psigopaat was.

      Dankie vir jou inloer en bydrae!!

  2. Dis baie waar, ek sal ook nie altyd in een boksie gedruk kan word nie. Ek het trekke van meer as een en dit hang af van omstandighede watter een sterker na vore sal kom.

  3. Love jou skryfwerk! (Ek sou natuurlik uit die boks klim, dit gebruik om die suurlemoene en ander belangrike goed in te gooi en ‘n plekkie onder ‘n boom gaan soek en daar gaan sit en Tequila drink… maar dis net ek!)

    • Dankie vir die inloer en jou kompliment, Strooimeisie. Jou aanwending van die suurlemoene klink vir my na ‘n heel lekker gedagte. Wil jy alleen daar gaan sit? Beskryf bietjie vir my waar hierdie boom is.

      • Alleen? Met ’n bottel Tequila en ’n boks vol suurlemoene? Dis mos te gevaarlik!
        Die boom – dalk ’n wilg… ’n treurwilg… iewers teen die rivier, want water maak mens kalm en laat jou altyd beter voel as die lewe niks anders as suurlemoene uitdeel nie.

  4. Jy het ‘n paar dae terug op my blog gekuier, sien ek. Dankie vir die besoek. Ek het nou al ‘n hele paar van jou skrywes gelees en ek is van plan om jou blogs te volg. Ek het ook lank in die Vrystaat gewoon en ek verlang nog baie terug. Ek moet jou komplimenteer met jou taalgebruik (Afrikaans en Engels) – dis ‘n plesier om te lees.

    • Dankie vir jou mooie woorde, Hester. I dount spiek de Ienglish tale very delishouslie, but I traai. Ons bly nou al 14 jaar in Engeland en ek is steeds nie gemaklik met Engels nie. Die boek wat ek verlede jaar uitgegee het, smeek om in Engels uitgegee te word, maar ek het net nie die selfvertroue om dit te doen nie. Dis dan ook die rede hoekom hier lanklaas iets in Engels op my blog was. Ek is egter verstom oor jou tweetaligheid… eintlik jaloers.

      • Ek het jare lank Engelse handleidings geskryf vir ‘n kommersiële bank en het by meesters geleer. Wanneer ek egter die bek begin waai, val ek blitsvinnig terug op Afrikaans – dis ‘n wonderlike spreektaal. Ek dink jou Engels is heel goed – hoekom doen jy nie die vertaling en laat dit profesioneel proeflees nie?

    • Ek het dit al oorweeg, maar is nie seker of dit die koste gaan regverdig nie (koste van professionele vertaling/versorging). Jy weet mos dat ons in die Vrystaat Engels pleeg. Ek het in my jongdae in Standard Bank gewerk waar al die terme maar Engels was en dit het my darem bietjie gehelp. Ek het wel vir advertensies kopieskryfwerk gedoen en jaarverslae in Engels gedoen, maar my skryfstyl gaan hom nie maklik in internasionale Engels laat vertaal nie – dalk nog Suid-Afrikaanse Engels. Sal nog sien. Dankie vir jou aanmoediging.

  5. Ek neig dalk meer na Petrus, of die uitbundige,maar eintlik is daar net een van die 5 boksies waarin ek glad nie pas nie.
    Sulke boksies was vir my nog altyd moeilik. Ek dink min mense pas regtig net in een boksie. Tog is dit baue interessant om jouself en jou naaste beter te verstaan.

    • Toortsie, ek stem 100% saam met jou. Ek dink wat die slim ouens probeer sê, is dat meeste van ons heel waarskynlik eienskappe van meer boksies toon, maar dat daar gewoonlik een oorheersende boksie is.

Leave a reply to strooimeisie Cancel reply