TROEPIE TYDENS BASIES

TROEPIE TYDENS BASIES

(KLIEK OP DIE FOTO’S OM DIT GROTER TE MAAK EN BYSKRIFTE TE SIEN)

LAASTE LIG

LAASTE LIG

Dit is ‘n snerpende koue wintersoggend.

Die hele gesin het saam gekom om my in die parkeerarea van die stasie af te sien – die stasie in Bloemfontein, tuiste van 1 Valskermbataljon by Tempe. Ek moet saam met die nuwe groep dienspligtiges by die stasie aan die onderpunt van Maitlandstraat aanmeld waar ander jongmanne uit alle windrigtings met die trein arriveer. Pa het gesukkel om parkeerplek te kry, want die Bedfords staan die stasie se parkeerarea vol.

Ma en Elanie is tranerig. Pa kamoefleer sy gevoelens agter ‘n front, maar sy gesig is stroef. Effens geforseerd maak hy praatjies van hoe ‘n groot avontuur ek gaan beleef en “gee net jou beste – onthou dis ‘n droom van jou wat waar kan word”. Debbie fladder blinkoog wimpers en geniet die kyke wat sy van die manne in uniform kry – so tussen al die organisasie en bevele deur.

“Jy moet my vertel as jy daai boekie kry,” beveel sy my.

My suster is oortuig daarvan dat elke army-lat ‘n boekie met reëls ontvang. Hierdie boekie vertel jou dan hoe om civie-klere aan te trek, hoe om in civie-life op te tree, hoe om meisies te benader en te behandel, ensovoorts.

“Want al die army-ouens is presies dieselfde,” glo sy. “Ek sê jou, van die stink voete en Chesterfield wat hulle rook tot die manier hoe hulle loop en meisies chaff.”

Dringender sake as meisiekyk moet aandag kry en die nuwe rowe, nog met civies aan en lang hare, moet op die Bedfords kom. Heel bedeesd en beskaafd word ons beduie hoe en waar. Eenkant neem paartjies in omhelsing afskeid en beloof ewige trou. Ma’s maak vir oulaas seker dat seuns alles ingepak het.

“Onthou die pak beskuit is in die handdoek toegedraai. My kind, moet nou nie onverantwoordelik gaan staan en wees nie. Moenie van jou stiltetyd vergeet nie…”

Sommige manne moet wild keer dat ma’s nie ‘n woordjie met die vriendelike sersant of korporaal inkry oor pille wat gereeld gedrink moes word of ‘n slegte hoesie of iets nie.

En toe vertrek die konvooi voertuie met bleekgesig manne van die stasie af. Ma’s en meisies waai met nat snesies. Pa wys ‘n duim-op teken vir my en hou steeds sy front. Maar ek ken my pa, veral daai trek om sy mond.

Die bedeesdheid, die beskaafdheid en die vriendelikheid wat ma’s gerusstel, bly op die stasie agter.

AAPKAS BY VALSKERMBATALJON

Aapkas by Valskermbataljon

By die ingang na 1 Valskermbataljon grinnik die hekwagte toe die nuwe inname verby hulle ry, verby die arendhok tot langs die paradegrond waar die Bedfords tot stilstand dreun.

Die oomblik toe die bakklap agter die Bedford oopval, gaan die deure na ‘n nuwe wêreld oop. Dis nie net die bedeesdheid wat op die stasie agtergebly het nie. My hele lewe soos ek dit tot nou toe geken het, is saam met pa en ma huis toe.

Vir ‘n vlietende oomblik kry ek ‘n idee van hoe dit destyds vir die soldate moes voel wat tydens D-dag die vyand moes trotseer toe die flappe van die landingstuie so in die see oopgeval het. Soos daai ouens in The Longest Day. Daar word nou wel nie op ons geskiet nie, wat darem ‘n troos is, maar woordkartetse, pandemonium en bevele laat Black Sabbath na die kerkkoor klink. Die vierde woord wat ek in die basis hoor, is f****n.

“Klim in die f****n bus!” ‘n Ou met twee strepe op die bo-arm blaf die bevel uit. Die woord in al sy vorme en verbuigings sou daarna ‘n standaardwoord in alle daaropvolgende sinne word.

Ons maal soos slagskape rond en soek verward vir ‘n bus, maar daar is net die Bedfords waar ons so pas van afgeklim het. Geen busse nie. Party ouens gaan klim in die harwar wéér terug op die Bedfords – die naaste ding wat moontlik vir ‘n bus aangesien kan word.

“O f*k! Klim af daar vóór ek jou daar kom afdónner!”

Hier en daar kom ‘n ou tot verhaal en onthou vaagweg van skoolkadette-dae af dat ‘n bussie ‘n afdeling is. Ons moes aantree, ‘n squad vorm. Dís wat ‘n bus is. Ons gaan val by die ander ouens in wat met die eerste Bedfords aangekom het. Agt afdelings, vier rye per afdeling, so twintig manne in ‘n ry.

Die hele dag lank word ons van een punt na die ander in die “bus” rondgery. Vir mediese ondersoek moet ons uittrek, net onderbroeke aan hou. By die stoor kry ons uniforms, trommel, balsak en eetgerei. By nog ‘n stoor word rugsakke, webbing, waterbottels en ander toerusting uitgereik. Ons word verneder, gevloek en tee gevoer. Ná middagete steek die haarkapper sy knipper deur die civie-kapsels. ‘n Troep met ‘n besem vee sakke vol hare van die vloer af.

LEES GERUS VERDER IN MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

Advertisements

16 thoughts on “TROEPIE TYDENS BASIES

  1. Diensplig was seker die beste medisyne vir die jong knape gewees. Jammer dat dit afgeskaf is. Dit het ten minste van die jong seuns manne gemaak en gesorg dat hulle respek en begrip vir die “grootmens” wereld gehad het. Ek praat nou nie van die grensoorlog nie, net van doodgewone diensplig.

    • Dankie vir jou bydrae, Annette. Ja, dit was lag-met-‘n traan-tye. Deur al die hartseer, het ek tog groot avontuur beleef, wonderlike vriende gemaak en baie geleer. Van die goed pas ek vandag, na al die jare, steeds toe.

      • Ons het geleer haat, vloek, steel, lieg en suip. “jou derdehandse nageboorte van ‘n sifilistiese muishond hoer”

        Maar ons het hulle privaat voertuie se maak kleur en registrasie onthou en baie sonder vier wielkleppe in die winkelsentrums se parkeer areas gelos. Tonne kondensmelk koffie suiker en biefstuk is ‘bevry’ en deur die bevryders geniet

        Jy het gesorg dat jy vier pasboekies het en het elke naweek wat jy nie huis toe is nie in Johannesburg se strate rondgelê Rooi diesel is met waterstof peroksied “gedokter” nuwe bande is omgeruil en het permanent verdwyn of is ‘bevry’ vir ‘n sewe dae pas.

        Die !@!sleg gare waarmee knope aan uniforms gewerk was is vervang met 5 pond breekkrag vislyn wat met skoenpolitoer gekleur is

        Dieselfde vislyn is in die plooie ingestryk aan die binnekant. Met die gesteelde metaalpolitoer is venster blinker as die aandster gevryf en omdat dit water afdryf is hulle vir die res van die tyd net afgestof

        Al word ek 2000 sal ek NOOIT vergewe nie en as jou van Botha is moet jy nie eers derde haqnde geruikte toiletpapier by my vra nie

      • Jaaa swaer, so het ons almal maar verskillende ervarings gehad. Party goed, ander weer sleg. Klink my iets het met jou gebeur wat jy swaar verwerk. Ek is darem redelik oor die ding, dalk omdat ek die dienspligtyd nogal positief beleef het. Daar was wel die donker oomblikke ook. En ek het ook ‘n van wat na al die jare my hare laat rys (dis nie ‘n baie algemene van nie, so ek gaan dit liewers nie hier noem nie). Dankie vir jou kommentaar en saamlees.

  2. Ek het al ‘n hele paar hoofstukke van die boek gelees (en dit sover vreeslik geniet), maar ek is nog nie by hierdie gedeelte nie. Ek sien nog uit na die “army”-dae en hierdie fotos word nou met groot aandag bekyk.

    • Ek is sooo bly jy geniet dit. Daar gaan uiteraard gedeeltes wees wat jy minder gaan geniet as ander – die boek is vir ‘n redelik wye teikenmark geskryf. Ek gaan nog uittreksels plaas – niks wat die storie sal weggee nie. Maar dalk moet jy dit nie lees nie. Jy sal oplet dat ek die uittreksels in die eerste persoon (soos die boek aanvanklik was) skryf, terwyl die boek in die derde persoon is. Ek sien so uit na jou (eerlike) terugvoer.

  3. Been there done that got the brown T-Shirt. “Die bedeesdheid, die beskaafdheid en die vriendelikheid wat ma’s gerusstel, bly op die stasie agter.” – How very true. :).

  4. Ek konnie help om te glimlag oor die ma’s nie. Dis so tipies ons. Ek lees hier en is vir die eerste keer bly my seun is na drie dae teruggestuur vir ‘n knieoperasie. Ons het hom daarna teruggeneem maar hy het vrystelling gekry.

  5. Ek dink baie ouers was bly oor hulle seuns vrystelling gekry het – veral toe die nuusberigte van jongmanne wat op die grens gesterf het, begin toeneem het. Dankie vir jou kommentaar en saamlees.

    • Ek onthou 2 wat huis toe is agv ‘probleme’
      Een se pos was 100 nadat ek hom op ‘n kampbed laat le het en sy boeddruk 70 oor 55. Sy hart het geklink na ‘n kan waarin water heen en spoel die pf dokter het gesê dis te betwyfel of hy 25 sou maak
      Een was ten volle manlik en vroulik (was as manlik gerigestreer)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s