EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

EEN WINTERSDAG OP DIE PLAAS

MODDERRIVIER

Dis een van daardie sonnige Vrystaatse wintersdae wat in baie Noord-lande as ‘n warm somersdag gesien sal word. Pechu en Bunny is, soos gewoonlik, kaalvoet. Ons gee onsself oor aan die dag, elke sintuig van my neem gulsig die omgewing in.  Al twee van hulle is baie behendig met ‘n kettie. Pechu het al selfs ‘n springhaas met sy kettie platgetrek. Ek het ook al gesien hoe hy ‘n patrys op veertig tree met ‘n klip neervel. Maar die geleentheid om met ‘n geweer, al is dit net ‘n windbuks, te jag, was vir ons drie seuns ‘n groot avontuur.

Teen elfuur het ons al genoeg geskiet sodat ons aan middagete kon begin dink. Mieta het vir my bietjie sout en botter saamgegee, met instruksies. En ‘n bakkie mieliemeel. Die pannetjie uit my rugsak, saam met die ketel, potjie en ander noodsaaklikhede vir ‘n veldete, kom nou goed te pas.

Onder ‘n wilgerboom langs die rivier sit ons en vere pluk. Die voëltjies lyk soos vaal miniatuurhoendertjies, die duiwe darem so bietjie groter. Nadat hulle skoon gepluk en die binnegoed verwyder is, spoel ek hulle onder my waterbottel af. Pechu se vuurtjie het intussen lekker begin knetter. Bunny het drie klippe só geplaas dat ek my pan daar op kan sit, langs die potjie met pap. Die botter spat gou in die pan en net soos Mieta verduidelik het, plaas ek so ‘n paar van die voëls in die warm botter en strooi ‘n klein bietjie sout oor. Die pap wat Puchu in my potjie maak, begin effens brand.

VUUR

“Hierie pot hy’sie dik nie,” maak Pechu verskoning vir die brandreuk. Ek weet die pot se boom is dun, dis maar ‘n gewone emaljepotjie wat al so bietjie van sy roomkleur verf op vorige uitstappies verloor het.

“Hy sal reg wees, moenie worry nie,” stel ek hom gerus.

Die voëltjies is gou gaar en ons begin solank weglê aan die voorgereg. Ek dink my eerste een is ‘n mossie. Hulle lyk maar so min of meer almal dieselfde so sonder vere, meestal vinke, koringvoëls en mossies. Intussen het ek die duiwe so al op die borsbeen langs oopgesny en plat in die warm botter gedruk.  Húlle eet ons saam met die pap. Die duif se bors is sag en geurig.

Ná ete gaan spoel ons die eetgerei in die rivier af. Hurkend by die water skiet ek ‘n pannetjie vol water oor Pechu. Die twee broers sit weerskante van my en afspoel. Pechu kap laggend ‘n handvol water terug en skaterend val Bunny ook in. Dit ontaard in ‘n uitgelate woeste watergeveg en gou-gou is ons so nat dat ons sommer in die rivier begin speel – winter of te nie. Speel, eerder as swem, want Bunny kan nie swem nie. Pechu se swemmery verras my nogal, maar ook nou nie so dat ek hom as kaptein van die swemspan sou kies nie. Met so ‘n vreemde styl kry hy dit darem reg om vorentoe deur die water te beweeg.

SWEM IN DIE RIVIER

Uitasem gespeel, klim ons teen die grondwal uit en gaan lê op die gras so ‘n entjie van die betonkeerwal af. Soos ‘n besorgde ma vou die middagson ons heerlik warm in haar strale toe. Die grootmense wil nooit hê dat ons naby hierdie betonwal kom nie, maar vandag is hier nie grootmense nie. Pechu vertel dat hy al groot visse met sy hande aan die bokant van die wal gevang het. Die water vloei sterk en stort so vier meter laer in ‘n maalkolk oor die wal. En dis hier teen die damwal, aan die bokant van die waterval, waar die visse soms vasgekeer word en met die omdraaislag deur wagtende hande gevang word.

“Vang julle die visse sommer so met die hande?” vra ek ongelowig.

“Moet die hanne,” bevestig Pechu.

“Nou maar kom’s gaan kyk.”

Ons staan so kniediep in die water en wag vir die visse, drie, vier treë van die wal af. Pechu beweeg effens dieper in, nader aan die damwal waaroor die water dreunend tuimel. Ek volg hom, maar Bunny is huiwerig en klim uit. Die stroom trek-trek hier aan my bene. Later aan my heupe. En toe raak dit ‘n dare game, visse vergete.

Met Bunny wat bekommerd van die oewer af toekyk, kyk ek en Pechu hoe naby ons aan die rand kan kom met die stroom wat hier van agter beur om ons bo-oor die wal te smyt. Nou vang ons nie meer vis nie. Ons konsentrasie lê nou by die sterkvloeiende stroom. Voetjie vir voetjie beweeg ons nader aan die damwal waar die rivier ‘n jong waterval word.  Met elke tree nader aan die rand voel dit of die water harder beur. Pechu is so ‘n halwe tree nader aan die wal as ek. ‘n Paar keer wil-wil ek my balans tussen die los klippe verloor, Pechu ook, maar dan gooi ons net ons lywe agtertoe en gee ‘n tree terug. Weer stadig vorentoe totdat die aanslag van die water te sterk word en ons net doodstil vasskop om die aanslag met skuinsbeurende lywe af te weer.

So tart ons die noodlot. Pechu se gesig blom met wit tande. Hy wink vir my om nader te kom. Die stroom is sterk. Versigtig lig ek my voet van ‘n vastrapposisie, stadig vorentoe, voel-voel vir ‘n nuwe vastrapplek. Ek kry een en wil vasskop, maar die klip gly en my balans word aan flarde geruk. Met minagting gryp die stroom my en slinger my soos ‘n vetgesmeerde paling verby Pechu wat my met weerlig-reaksie aan die arm beetkry. Hy is egter nie opgewasse teen die krag van die stroom nie en verloor ook sy vastrap.

Baie mense vertel hoe hulle lewens in stadige spoed verbyflits wanneer die dood in die gesig gestaar word. Al wat ek aan kon dink, was die klippe wat ek ‘n vorige keer, toe die rivier droog was, aan die onderkant van die wal gesien het.

Terwyl die stroom ons oor die rand spoeg, wonder ek of ons dadelik dood gaan wees en of ons gaan verdrink. Ek staal myself vir die trefslag op die klippe, maar daar is geen trefslag nie. Die water is diep en die klippe ver onder die oppervlakte. Dit voel of ons in ‘n wasmasjien val. Die water maal ons soos wasgoed al in die rondte, al in die rondte. Ek kry vir Pechu aan die voet beet, maar tussen die modderwater en borrelgemaal verloor ons mekaar weer. Vandag gaan ons verdrink, want ons kry nie ons koppe bo die water om asem te skep nie, flits dit deur my kop. Die maalkolk skuur my rug teen die klippe op die bodem en neem my weer, so voel dit, boontoe. En weer ondertoe. Hoe lank ons so gemaal het, weet ek nie. Baie dinge het deur my kop geflits. Ek het gewonder of Pechu nog lewe. Waar gaan ons lyke uitspoel? Gaan Ma-hulle kwaad wees?

Die wasmasjien word skielik op ‘n ander siklus geplaas, want eensklaps kry ek myself uit die maalkolk geskop. Vir ‘n oomblik sien ek niks van Pechu nie, maar dan skiet hy ook soos ‘n kurkprop langs my uit. Ons swem kant toe en gaan lê op die riviersand, lam gespartel. Bunny is gou by ons. Hy sê niks, kyk ons net grootoog aan, maak seker dat ons lewe. Ek draai my kop na Pechu toe en hy kyk na my. Hy het ‘n bloedstreep langs sy kop en my rugvelle het teen een van daardie bodemklippe agtergebly. Maar ons lewe. Ons borskaste werk soos blaasbalke. Pechu spoeg ‘n klippie uit.

En toe bars ons uit van die lag.

(Verwerkte uittreksel van my boek: MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

WINTERTYD IS RUGBYTYD – 1970

Mannetjies

Rugby was my lewe.

My onder 15-span, so dink ek met nabetragting, het darem meer wedstryde gewen as verloor. Ons was wel nie ‘n topspan nie en ek moet toegee dat my spel nou regtigwaar nie so was dat die Springbokkeurders ‘n snerpendkoue Saterdagoggend sou opoffer om na ons wedstryd te kom kyk nie.

Maar Pa het.

Vroeg Saterdae, in die hartjie van die winter, moes hy opstaan om my betyds by ‘n rugbyveldveld af te laai. Die A-span het altyd later in die oggend gespeel, wanneer die Vrystaatse wintersoggend darem al so bietjie ontdooi het. Dit was egter ons manne van die laer spanne, die B- en C-spanne, wat as’t ware die ys op die veld moes breek en eerste moes speel.

Daarom moes Pa my vroeg by die veld besorg het. Dan staan hy daar saam met ‘n klompie ander pa’s ons en aanmoedig asof ons die Springbokke is. Die ryp het dikwels nog wit op die wintersgras gelê. Met ‘n wasem-asem deel Pa dan saam met ‘n ander pa die koffie uit die fles wat Ma saamgestuur het, nekke diep in die krae ingetrek.

Persoonlike hoogtepunte van my skooljare is op doodgerypte rugbyvelde aangeteken. Persoonlik, ja, want wat vir een persoon ‘n hoogtepunt is, is vir ‘n volgende een maar vanselfsprekend.

Daar was laagtepunte ook. Soos tydens die een wedstryd toe ek wou indruk maak op Sanet.

Rugby was die hoofonderwerp van bespreking, oral. Op die speelgrond, in die klas, op die bus en selfs, volgens Pa, by die kerkraadsvergadering. Brian Lochore se All Blacks was in die land en kort tevore het die hele land geluister hoe ou Spiekeries vir Syd Nomis doellyn toe aangemoedig het. Aanmoedig? Dalk nie die regte woord nie. Die gewilde sportkommentator was histeries. “Syddie! Syddie! Syddie!” Onpartydige sportkommentaar.

SPIEKERIES

Sanet het langs die veld saam met ‘n groep meisies gestaan en ek wou  haar aandag kry. Ek was op buitesenter en die bal het bitter min verby Jakkie op binnesenter gekom. Ek moes dus hard werk om my doel te bereik. Op een stadium is Jakkie in ‘n losgemaal ingetrek en Dirk laat loop die bal na my met ‘n yslike gaping wat wink.

Ek vat daai gaping, bal onder die regterarm. Die gaping laat my toe om spoed op te tel en ek hardloop skoon onder die teenstanders en my ondersteuning uit. Selfs hulle heelagter word onkant gevang.

Hulle het so ‘n groot stut gehad wat maar baie stadig by die losgemale en skrums aangekom het en hy was dus nog van die vorige losgemaal naby hulle doellyn op pad na die pas afgelope losgemaal toe ek hom voor my gewaar. Net hy staan tussen my en die doellyn, tussen my en my doelwit om die meisiekind te beïndruk. My oomblik het aangebreek, die perfekte geleentheid om vir haar te wys van watter stoffasie hierdie senter gemaak is.

Ek pyl reg op die ou grote af, in volle vaart en sien hoe  hy sy hande op sy heupe plaas en gereed maak om my te stop. My strategie is doelbewus, berekend, want ‘n senter is rats en vinnig. ‘n Stut nie. Hoe kan ‘n lomp stut ‘n ratse senter stop? Die mense langs die veld raas en ek hoor hoe word my naam geskreeu.

Go Abrie! Go Abrie!”

Op die laaste moment – ek kon sy asem ruik – doen ek ‘n systap, een wat ou Mannetjies jaloers sou gehad het. Ek sou agterna nooit weer ‘n stut as lomp klassifiseer nie.

Toe ek klaar gesystap het, staan ou Grote steeds voor my. Ek kan onthou dat ek hom in volle vaart getref het, maar daarvandaan niks. Niks.  Ek het eers weer begin onthou toe ek met klere en stewels en al onder ‘n koue stort gestaan het. Jaco het met ‘n stokkie gekeer dat my braaksel die stortuitloop verstop.

Ek het ‘n paar keer agterna gehoor – elke keer onder histeriese gelag – hoe ek ou Grote getref het, teruggebons het, ‘n agteroor flik-flak gedoen het en doodstil bly lê het. Blykbaar het ek nie lank gelê nie, want toe die Rooikruis-ouens my wou afdra, het ek vertel dat ek reg is. Omdat die wedstryd amper verby was, het hulle my toe maar die voordeel van die twyfel gegee, totdat ek in die opponente se agterlyn gaan stelling inneem het en verder niks van die wedstryd af geweet het nie. Jaco en die Rooikruis-ouens het my kleedkamer toe gehelp.

Ek het Sanet se aandag gekry. Debbie vertel dat sy en die ander meisies toilette toe moes hardloop soos hulle gelag het.

Pa het gevra of ek dit weer eendag kan doen, maar hom net betyds waarsku dat hy sy rolprentkamera gereed kan hê.